14 dae gelede
Layla sien iets ontstellends wat haar kwaai ruk
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Vandag gaan ons voort met die verhaal “Die Geheim­” uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Geniet nou hoofstuk 7.

DIE gesprek tussen my en Shaun het gelukkig geen ernstige impak op ons verhouding nie. Ek is tevrede om net by hom te wees en dit maak nie meer vir my saak of seks nie deel daarvan is nie. Soos hy gesê het, seks is nie altyd liefde nie.

Ek glo dit sal miskien een of ander tyd natuurlik gebeur en dat hy my sal aanvaar vir die mens wat ek is. Die een wat hy leer liefkry het, sonder die bagasie van die verlede, wat ek weet ons verhouding sal skaad.

Behalwe dat Shaun soms by sy vriende gaan kuier – iets wat gelukkig weinig gebeur – pak ons die dae vol met uitstappies na die winkelsentrum waar ons deur die gange dwaal terwyl ons aan draairoomys smul.

Ons besoek gereeld die swembaddens en ry ’n paar keer met die trein tot in Bellville. Met sy hulp begin ek al hoe meer selfstandig raak.

Ek vrees nie meer die onbekende massas nie en dit sal glad nie meer vir my nodig wees om soos ’n bang kind aan Mandy te kleef nie.

Ek is besig om my finaal van haar rokpante los te maak. My selfvertroue raak by die dag meer.

Mandy nooi my een Saterdagmiddag onverwags saam na haar vriende.

Die mans werk nagskof en uit verveling aanvaar ek haar uitnodiging nadat sy Shaun belowe het om my voor 23:00 tuis te hê.

Ek maak kennis met Anel en Dennis, albei in hul 30’s en vriendelike mense. Ek skakel gemaklik by hul geselskap in. Later sluit ’n grofgeboude man met ’n lang litteken op die wang hom by ons aan.

Die hand wat hy na my uitsteek, is bont van die tatoes. Net een kyk in Mandy se rigting vertel my presies wat ek nie wil weet nie. Bob is Mandy se nuutste toevoeging tot haar immer groeiende harem.

Ek weet ook nou hoekom sy my saamgenooi het.

Dis vir seker haar manier om vir my te probeer sê dis tyd om aan te beweeg. Geskok besef ek dat ek nooit gedink het dat daar so ’n dag sal aanbreek nie. Ek het dit as vanselfsprekend aanvaar dat ons by Donna-hulle is om te bly. Of altans, so het ek gedínk.

Ek het Mandy heeltemal buite rekening gelaat. Ek het vergeet van haar manier van dinge doen – of verkies om eerder nie daaraan te dink nie.

Wat staan my nou te doen? Sy kan tog nie van my verwag om Shaun te los en saam met haar aan te beweeg nie. Dinge het verander.

Dis nie meer vir my nodig om haar oral soos ’n skoothondjie te volg nie. Ek het haar nie meer nodig nie, of het ek? Kan ek sonder haar klaarkom? In my verhouding met Shaun het ek geheel en al vergeet van Mandy. Die immer soekende siel na liefde? Samesyn? Kameraadskap? Seks?

Ai, hoe min weet ek werklik van haar! Sy wat so openlik en uitgesproke is, maar die egte Mandy diep in haarself bêre.

Sy wat mý lewe kon vasgryp voordat dit weg sweef en dit vierkant in my hande teruggeplaas het. Sy wat stadig maar seker my selfvertroue op haar “f*k die res”- manier opgebou het. Nou word ek skielik voor ’n keuse gestel.

Hoe kan die lewe so wreed wees? Hoekom moet dit nou vir my nodig wees om te kies tussen liefde en lojaliteit?

Hoekom kan ek nie net gelukkig saam met Shaun as geliefde en Mandy as beste vriendin wees nie? Sal ek vir Mandy kan sê sy moet sonder my voortgaan, terwyl ek voel soos een wat haar goedheid in haar gesig teruggooi. Ek is so baie aan haar verskuldig en daar is geen manier hoe ek my skuld aan haar sal kan terugbetaal nie.

Sy het my uit die hel tot by die hemel gebring.

Maar sal sy regtig van my verwag om terug te draai? My nuutgevonde geluk prys te gee?

Ek kan net hoop dat sy vir my situasie begrip sal hê, al weet ek reeds Mandy se kop werk anders.

Ten spyte van my bekommernisse kry ek dit tog reg om lekker met Anel te kuier.

Hierna gaan ek so ’n paar keer saam met Mandy by Anel kuier omdat ek nogal van die vriendelike vroutjie hou. Ons vind aanklank by mekaar en vir die eerste keer in ’n lang tyd voel dit weer asof ek ’n vriendin het met wie ek kan gesels.

Die meeste van die tyd as ons daar is, verdwyn Mandy en Bob na sy sinkhokkie agter in die jaart.

Ek vertel Shaun van Anel en hy het ook nie ’n probleem daarmee dat ek soms by haar gaan kuier nie. Veral sommige Vrydagaande as sy vriende hom nooi om saam te gaan pool speel by die nuwe kroeg wat onlangs oopgemaak het.

Dis vir my wonderlik om in ’n normale verhouding sonder agterdog en jaloesie te wees en ek besef weer hoe ’n lieflike mens Shaun is.

Ons is weer een Vrydagaand op pad na Anel en wil net die pad oorsteek toe ek verbaas in my spore vassteek. Ek dog eers ek misgis my, maar toe Mandy my beslis aan die elmboog neem en oor die pad stuur, besef ek dat ek tog reg gesien het.

In ’n donker hoekie agter ’n kragboks staan Shaun, sy rug na ons gekeer, met ’n meisie en gesels.

Ek probeer uit Mandy se greep loskom, maar sy dwing my beslis verder en ek dryf my lam bene met moeite voort.

Dit kan tog nie wees nie, dink ek verward. My oë het my seker verneuk.

Nie Shaun nie! Hy sal nooit so iets aan my doen nie!

Daar moet ’n verduideliking vir hom en die meisie se teenwoordigheid agter die kragboks wees. Ek probeer ek die groeiende weifel in my stilmaak. Maar wat as ek verkeerd is? Wat as ek hul lyftaal reg gelees het? Ek voel hoe die agterdog in my opstoot. Shaun is ’n man. Wat as die meisie hom bied wat ek nie kan nie?

Mandy moet aanvoel dat ek ontsteld is, want sy wag net totdat ons op ’n veilige afstand is voordat sy gaan stilstaan en voor my stelling inneem.

“Wat het jy gedink, Layla?”

Ek kyk haar net stom met trane in my oë aan en sy vervolg kopskuddend.

“Hoe lank het jy gedink sal jy met hom kan pophuis speel? Die man soek gat! Jy’s goed genoeg om hom lus te maak, maar dis al, Layla. Sien jy nou hoekom ek nie wil commit nie? Dis wat f*kk*n gebeur as mens jou hart op hulle sit. Gaan jy dan nooit leer nie, meisie?!”

Ek deins terug vir die heftigheid in Mandy se stem en kyk haar net verslae agterna toe sy omdraai en wegstap.

Stadig draai ek in my spore om en loop met ’n ompad huis toe.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters