13 dae gelede
Layla besluit om ’n bietjie weg te kom van Shaun
 ~ 

HALLO, Sonlanders!

Vandag gaan ons voort met die verhaal “Die Geheim­” uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Geniet­ nou hoofstuk 8. 

EERS toe my kop die kussing raak, gee ek uiting aan my gevoelens en laat die opgekropte trane vrylik vloei. Wat as Mandy reg is? 

Maar hoeveel keer die laaste paar maande het ek my nie aan Shaun oorgegee nie? 

Hy kon instem, maar hy wou nie. Sou hy regtig, ná alles wat hy my vertel het, so ver gaan om by iemand anders te slaap? Ek kan my dit nie indink nie, maar elke keer skuif die beeld van hom en die meisie voor my oë in. 

Enige aap sou kon sien dis nie ’n gewone geselsie tussen twee kennisse nie. Daarvoor was hulle te na aan mekaar; die meisie se houding te afwagtend.

Shaun was besig om na haar oor te buig, so asof hy haar gaan soen. Het hy? Ek weet nie. Ek het te gou weggekyk. 

Waar is hulle nou? Wat doen hulle? My oë is later droog gehuil en ek wag gespanne vir hom om huis toe te kom. 

Dis byna middernag toe die deur oopgaan en ek ná ’n ruk die badkamerkraan hoor loop.

Is dit Shaun en was hy nou die bewyse van sy ontrouheid af? wonder ek met beklemming in my hart. Ek lê snaarstyf gespanne toe hy later saggies langs my inskuif, onder die indruk dat ek slaap. 

My gemoed is in ’n warboel. Ek weet nie of ek hom moet konfronteer nie en wonder nog daaroor toe ek sy reëlmatige asemhaling hoor. 

Ek is meteens woedend. Hoe kan hy ná so iets so gou aan die slaap word? Het hy dan geen gewete nie? 

Ek begin weer geluidloos huil en stadig skuif ’n ander vrou se beeld voor my oë. ’n Beeld wat ek byna lank reeds vergeet het. 

Anita. Riaan se vrou. Is dit hoe sy menigmaal langs Riaan gelê het? 

Het sy ook, soos ek nou, gewonder: Het hy of het hy nie? Was haar hart ook so verskriklik seer en het sy ook sulke tye die behoefte gehad om van sy opregte liefde verseker te word? Om vasgehou te word? 

Die skuldgevoel is so intens, dit brand seer in my. Ek sluit my oë en bid opreg: “Ag, Vader ,ver­gewe my en laat Anita dit in haar hart vind om my ook te vergewe, asseblief?”

Ek probeer, maar sukkel om te slaap. Noudat ek self daarin is, besef ek eers deur watter hel ek Anita gesit het. 

Geen vrou verdien dié pyn nie! Hoeveel keer het ek nie myself probeer verontskuldig deur voor te gee dis haar eie skuld dat haar man rondloop nie? Dat hy by haar sal bly as sy hom net gelukkig hou.

Nou weet ek dit werk nie so nie. Shaun behoort gelukkig te wees. Ek bied hom dan ál my liefde en kyk nou?... Wat is dit dan met mans dat hulle met ons doen wat hulle doen? 

Het Riaan dalk saans moeg uit die werk gekom net om ’n neulende vrou en huilende snotneuskinders daar aan te tref? Is dit sulke tye dat hy Anita liefies gesoen en haastig in sy kar geklim het om my te kom opsoek? 

Het hy al sy opgekropte woede en frustrasies op my kom uitslaan? Het hy my agterna so jammer gekry en my probeer vertroos met seks en was die geld vir my omdat ek so ’n gewillige slaansak en seksslaaf was? 

Is dit hoekom hy doodtevrede weer in die oggendure na sy vrou kon terugsluip en agter haar rug kon inskuif soos Shaun nou met my doen? 

Riaan, wat altyd “the best of both worlds” gekry het. Hoe gelukkig sal hy nie nou wees as hy moet weet hoe diep ongelukkig ék op die oomblik is nie. 

Ek word in die oggendure eers aan die slaap.

Shaun maak my met ontbyt wakker en ek besluit om vir eers niks te sê nie. Ek weet nie hoe om die saak aan te roer nie en meteens is ek onseker of ek wel reg gesien het. 

Wat as ek die verkeerde afleiding gemaak het en daar is tog ’n logiese verklaring vir hom en die meisie se teenwoordigheid agter die kragboks? 

Binne my brand ’n bietjie hoop en ek besluit om vir eers daaraan vas te klou. Veral toe hy my heeldag op die hande dra en die hele tyd sy romantiese self is. 

Mandy nooi my Vrydagaand saam na Anel se partytjie. 

Ek wil nie, maar ek weet ek sal ’n bietjie moet uitkom; wegkom van Shaun en die agterdog wat soos ’n kanker aan my vreet.

Ná my derde drankie begin ek ontspan. Mandy verdwyn soos gewoonlik hokkie toe, maar kom gou weer te voorskyn en wink my nader. Ek volg haar na agter.

In die hokkie is dit stikdonker en ek wonder nog hoekom sy nie die lig aanskakel nie toe ek die deur agter my hoor toegaan. Dit word van buite gegrendel. 

Verbaas draai ek om en dadelik dring ’n vaagweg bekende reuk tot my deur. You’re the Fire For Men! Riaan! 

Ek voel tastend na waar ek dink die skakelaar moet wees en klik dit vinnig aan.

Ek versteen. Daar op die bed, gemaklik teruggeleun, sit-lê Riaan. Sy glimlag tartend.

Toe hy opstaan, skop die instink eers in. Ek draai om en begin verwoed aan die deur pluk terwyl ek na Mandy roep. 

Ek weet dis vergeefs en dat ek in ’n lokval gelei is. Boonop is die musiek so hard dat geen mens my sal hoor nie. 

Dan is hy teenaan my. 

Sy aanraking stuur skokgolwe deur my lyf. 

Sy lag spottend in my ore. Sy hand vou om my kake.

Die vingers boor in my wange in. Hy dwing my lyf na hom toe. 

Ons oë ontmoet en ek sluit myne vir die bekendheid van syne. 

Die donkerte daarin dreig om my in te sluk en te verswelg. 

“Hallo, sexy …” Die bekende klank van sy stem laat die bloed kloppend deur my are pols. 

Hy buig na my af. Sy wang skuur grof teen myne toe ons vel liggies raak. Hy soen saggies in my nek en beweeg stadig af na my borste. 

Ek kan nie beweeg nie. 

Die deurknop boor seer in my rug. Hy adem my reuk diep in voordat sy lippe kielierig teen my nek op beweeg en hulle op myne kom nestel. 

Sy tong beur deur my saamgeperste lippe en kom dik en swaar in my mond lê. Ek proe whiskey. 

Dis meteens asof die stuk vlees ’n voedingsaar na my brein is. 

Ek word soos ’n marionet wat deur ’n poppemeester beheer word. 

My hande kruip stadig om sy lyf. 

Ek snak na asem toe die bekendheid van sy liefkosing deure in my liggaam begin oopmaak.

Ek is skaars bewus van hom wat my optel en saggies op die bed neerlê. 

) Lees môre verder

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters