9 dae gelede
Landdros Uys is nie beïndruk met die polisie se werk
 ~ 

SONLANDERS! Ná al die drama met die vorige getuie, daag die nuwe ondersoekbeampte uiteindelik op. Sersant Eugene Konstabel is in die borgtogverhoor om te kom getuig oor die aand toe hy Will E. Hoorie op die misdaadtoneel aangetref het. Volgens hom was die beskuldigde daar, sowel as die twee slagoffers. Maar dis nie al nie. Sers. Konstabel getuig ook dat die beskuldigde op die toneel was met ’n tik-lollie in sy hand. Is Will se doppie geklap nog voordat hy sy onskuld kon bewys? Geniet nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON se “Die Verhoor van Will E. Hoorie”.

’N DOODSE stilte daal in die hofsaal neer.Sers. Konstabel se woorde dreun deur antie Magrieta se ore: “Will E. Hoorie was op die toneel met ’n tik-lollie in die hand.”

Wat ’n tik-lollie is, weet sy nie. Maar sy is daarvan oortuig dat dit beslis nie ’n stokkielekker is nie.

“So, die beskuldigde was daar?” vra Dicky Lake, die staatsaanklaer. “En sien u daardie persoon in die hof vandag?”

Sers. Konstabel knik en wys in Will E. Hoorie se rigting. “Dis hy daai. Die een met die fake sleeper earrings.”

Will E. Hoorie gluur die cop aan.

As daar iemand is wat weet van fake, is dit sers. Konstabel, wat net by die polisiemag kon inkom met sy fake rybewys. Dít weet hy, maar vir nou gaan hy eers daaroor stilbly.

“Ek maak kapsie, Edelagbare,” sê Will se lawyer, V.J. Knowles en lig hom uit sy stoel. “Van wanneer af werk die getuie vir die fashion police?

“Ek kan nie sien hoe die getuie se opmerking oor my kliënt se oorbelle enigsins iets met die saak te doen het nie.”

“Sê ek ook mos! En dan dra sy eie ma “Made in China”-kerkhoede,” klink antie Magrieta se stem vanuit die hofgalery op.

Landdros Q.N. Uys knik en draai na sers. Konstabel.

“Sersant, ek sal dit waardeer as u hou by die feite en nie u eie afleidinkies byvoeg nie.”

Sers. Konstabel knik bedees. ’n Paar sweetkorreltjies bult hul spiere op sy breë voorkop.

Dicky Lake maak keel skoon en kom weer orent. “So, wat het die beskuldigde op die toneel gemaak?”

“Ek het gehoor die een slagoffer sê aan die ander een: ‘Dié lastige ding wil net ’n oorlas van homself maak.’ Toe kyk hulle in die beskuldigde se rigting.”

“Ek maak kapsie, Edelagbare,” sê V.J. Knowles en spring op. “Hoorsê, dis wat die getuie tans kwytraak.

“Net omdat die twee meisies in my kliënt se rigting gekyk het, beteken dit nie hulle het van hom gepraat nie. Het die getuie gehoor hulle noem sy naam?

“Het die slagoffers agterna direk my kliënt met die misdaad verbind? Dís hoekom ons vandag hier is. Nie vir mense wat hul ore uitleen nie.”

Dicky Lake is bloedrooi in die gesig toe hy opstaan.

“U Edele, ek probeer hier ’n patroon vestig dat–”

“Ons brei nie jerseys hier nie, so patrone is nie nodig nie,” val landdros Uys hom in die rede.

“Ek stem saam met die verdediging, meneer Lake. Hierdie is ernstige aanklagte teen die beskuldigde. Verkragting en besit van dwelms is nie Mickey Mouse Clubhouse-klagte nie. Die hof kan hom nie deur hoorsê laat lei nie.”

“Halleluja!” klink dit vanuit die hofgalery op.

Almal kyk in antie Magrieta se rigting. Sy sit egter soos iemand wat so onskuldig soos die dood is.

Landdros Uys draai hom na sers. Konstabel. “Hoekom het julle die beskuldigde gearresteer? Is hy positief met die verkragtings en besit van dwelms verbind?”

“Nog nie, U Edele,” antwoord sers. Konstabel en sluk hard aan die knop in sy keel.

“Ons wag nog op die uitslae van DNS-toetse van die labs in albei klagte. Die dwelms moes mos ook getoets word om–”

“Ek weet wat die proses behels. Dis nie nodig om my in die skool te sit nie,” kap die landdros terug.

“Het die slagoffers die beskuldigde uitgewys as die een wat hierdie vieslike dade met hulle gepleeg het?”

“Um... uh... die slagoffers is nie seker nie, U Edele. Dit was donker. Daar was ’n klomp mense in die huis en–”

“En toe almal buite staan toe julle daar aankom, toe vat julle sommer die een wat wel in die huis is?” vra die landdros streng.

“Ek ruik uiters, uiters swak polisiewerk hier. Omdat iemand met ’n tik-lollie in die hand staan – dis nou as dit ooit waar is – beteken dit nie die skuld vir al die dwelms in die wêreld kan voor sy deur gelê word nie.”

Landdros Q.N. Uys wend hom na Dicky Lake.

“Meneer Lake, ek stel voor julle kom terug wanneer jul huis in orde is. Ek kry dan nou die idee dat die getuie self nie weet of hy ’n sersant of ’n konstabel is nie.

“Die hof kan nie iemand se lewe op hold plaas totdat die polisie en staat minder confused is nie.

“Ek stel die saak vir ’n week uit. Tot dan, is die beskuldigde vry.”

Landdros Uys slaan ’n verwoede hou met sy hamertjie en vlieg dan op.

“Stilte innie... agge staan in die hof,” bulder die hofordonnans, sers. Wilfred Kapilfred, heel onkant gevang deur die landdros se skielike optrede.

Antie Magrieta begin spontaan hande klap en draai om.

“Sien julle nou? En wat sê die bekverkopers nou? Daai mense wat mos sulke strontstories oor my kind vertel het.”

Niemand antwoord nie. Almal vermy haar blik.

V.J. Knowles kom tot by antie Magrieta gestap.

“Mevrou, moet nog nie die champagne pop nie. Dis nog te vroeg.

“Hierdie is ’n kleine oorwinning, maar oor ’n week gaan die staat terugkeer en glo my, hulle gaan geen ander verdagte soek as u seun nie.”

“Mannetjie,” sê antie Magrieta en kom orent terwyl sy haar rok aftrek. “Daar bestaan nie iets soos ’n klein oorwinning nie. Hierdie is ’n groot victory en ek glo my seun se onskuld gaan bewys word.”

V.J. Knowles sug, knik en stap dan na Will. E Hoorie, met wie hy ’n paar woorde wissel.

’n Paar minute later staan Will by sy ma en suster. Die hofsaal is nou leeg en almal het koers huis toe gekies.

Die show was veels te gou oor om hul dors na sensasie te les.

“Die eerste ding wat ek gaan doen as ek by die huis kom, is om ’n lang entjie te rook,” sê Will laggend aan sy suster.

“Die eerste ding wat jy gaan doen, is om jou tronkgat te was!” kap antie Magrieta terug.

“En as jy daar klaar is, gaan jy vir my alles vertel sodat ons hierdie saak kan oplos.”

“Ma...”

“Moenie vir my kom ‘Ma’ nie,” sê antie Magrieta vies. “Hierdie saak moet ons tol.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters