14 dae gelede
Koos vat die pad Kaap toe saam met oom Arram
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Koos is moeg van die vissersdorpie Paternoster. Moeg vir almal en moeg vir skool. Hy wil ’n lange gooi. ’n Lang lange. Geniet nou hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se verhaal “Koos Jackpot”.

KOOS Jackpot se ouers het besef hulle staan nie ’n kat se kans deur in sy pad te staan nie.

Koos se mind was opgemaak: Hy is klaar met skool. Hy is klaar met Paternoster.

Hy het homself voorgeneem om eers na sy tuisdorp terug te keer as hy eendag genoeg geld bymekaar gemaak het.

Hoe, het hy nie in daai stadium geweet nie. Maar wat hy wel geweet het, was dat hy verlief was op broer Gert en suster Bethina Koekemoer se dogter, Ronelda.

Ronelda ... sy was prentjiemooi. Met legs for days en ’n dimpel-smile to die for het sy Koos se voete onder hom uitgeboul.

Sy was nie net mooi nie, maar dêm slim ook.

Terwyl ouens soos Broodkop besig was om destyds Boet en Saartjie met hul leesvermoë te vermink, het Ronelda altyd gesiggies agter juffrou Maarman, hul onnie, se rug vir hom getrek.

Hy sou smiddae haar skooltas dra terwyl hulle huis toe stap nadat die skoolhoof, miester Horne­, weer veels te laat die skoolklok gelui het.

Sondagmiddae as die ou mense gaan middagslapies vang het, het hy en Ronelda hul skool se klavier gaan speel wat in een van die klaskamers gestaan het. Kliphard, totdat miester Horne, wat nie ver van die skool af gebly het nie, met ’n vaart aangehol gekom het.

Hulle is nooit gevang nie, maar miester Horne het elke Maandag tydens die byeenkoms hoog en laag gesweer dat hy die culprit gaan vang.

So ’n jaar voordat Koos besluit het om die skoolklok finaal vir homself te laat lui, het suster Bethina hom eenkant toe geroep.

Suster Bethina was ’n inkommer. Glo van iewers in die Kaap. Happy Valley, wherever dit ook al mag wees. Al wat Koos geweet het, was dat suster Bethina nooit happy was om hom en Ronelda saam te sien nie.

Die mense het destyds geskinder dat suster Bethina net met oom Gert getrou het omdat hy ’n klomp kreefkwotas besit het.

Verder het min mense maar ooghare vir suster Bethina gehad, want sy het altyd gedink sy is kwaai deur met almal Engels te praat.

Dít terwyl die res van Paternoster se mense alte bewus daarvan was dat Engels praat in die dorp meer van ’n stryd was as gebaretaal.

Daai middag het suster Bethina meer unhappy as voorheen gelyk toe sy Koos eenkant toe getrek het – so aan die kraag van sy skool-jersey wat reeds so uitgerek was.

Hy wat Koos is, het gehoop hulle kan onder die vyeboom staan vir koelte, maar suster Bethina het daarop aangedring dat hy in die kookwater-son bly staan wat op hulle neergebak het. Met sy cheap plastiek-skoolskoene aan wat sy ma met groot moeite by Pep kon koop.

Almal wat al ooit beweer het dat hy of sy swaar grootgeword het, sal weet daai plastiek-skoolskoene van destyds en die son was nie op goeie voet nie. Letterlik en figuurlik.

As die son daai skoene aan jou voete gevang het, dan was jou voete toast, pappa. Ver van ’n heildronk af.

Suster Bethina het Koos met ’n streng frons op haar gesig aangegluur. Hy was nog nooit so naby haar nie. Terwyl hy so naby haar gestaan het, het die gees van die see hom aangeraak en het hy besef dat as oorle moeder Teresa ooit ’n evil twin gehad het, dan was dit suster Bethina.

“I don’t want to see yous two togêra.”

Daai was suster Bethina se sissende woorde aan Koos. ’n Krom Engels wat die Oxford dictionary sy kop in skaamte sou laat sak.

Ongelukkig vir Koos het suster Bethina se Engels g’n skaamte gehad nie.

“Do you unnestand the worse coming outa my mouf?”

Fyn spoegdruppeltjies het teen Koos se wang gespat. As hy nou nog daaraan dink, krimp hy ineen van daarvoor kan ril.

“She’s bêra den yous. Yous just a poor boy that will get nowhere in laaif.”

Koos was nie meer lus vir die gesprek of die gebrek aan Colgate wat hy aan suster Bethina se asem kon ruik nie. Hy het die boodskap loud en clear gekry: Suster Bethina dink nie hy wat Koos is, is goed genoeg vir haar dogter nie.

Die einste suster Bethina wat Sondae in die kerk gepreek het van naasteliefde, in tale begin praat het en dan na bewering deur die Heilige Gees flou gepootjie is. Hy het net stram geknik, homself uit haar greep losgemaak en weggestap.

Suster Bethina het nóg iets in die aakligste van Engels agterna geskree, maar hy het nie note gevat van dit nie.

Dit was ’n jaar later, op ’n Sondag, dat hy vir sy ouers gesê het hy weet waar Dawid die wortels gegrawe het wat skool betref – nêrens.

Twee dae later, die Dinsdag, het hy buite die dorp gestaan en hike met ’n klein, uitgebleikte Karrimor-rugsak en twee appels in die hand. Padkos.

Al die karre het hom verbygery. Mense voor wie hy grootgeword het, het anderkant toe gekyk en gemaak asof hulle hom nie sien nie.

Koos het sy kop geskud. As mense ’n bietjie geld agtergekom het, het hulle hulle verbeel hulle k*k ice cream en is beter as ander mense.

Kaantie hou die bank hulle gyselaar met die paaiemente van daai ryding. Hy het nog so die karre aangegluur wat een-een verby hom gery het, toe ’n ou bakkie langs hom stilhou.

Oom Arram met sy ou Toyota-bakkie van kwart voor neëntien-voertsek.

Hy wat Koos is, was seker Toyota dra nie eens meer kennis van oom Arram se Toy-model nie, maar Arram het jaar ná jaar die Toyota-letters agter op die bakkie getrou per hand laat oorverf. Verder was oom Arram ook nie die vinnigste drywer in die universe nie.

Hy moes een keer mense van Paternoster na Mitchells Plain toe vat, maar land toe op in Gugulethu – twee dae later. Dís hoe lank dit oom Arram gevat het om die 150 kilometer Kaap toe af te lê.

Maar beggars het nie choices in die lewe nie. Beggars het nie eens toegang tot Choice condoms nie. So, wat anders kon Koos doen as om maar ’n lift met oom Arram te vat? Asof die universe hom ’n traan wou druk, moes hy hoor oom Arram is hoeka op pad Kaap toe.

Koos kon net hoop dat hulle voor die jaar 3 000 in die Kaap sou aankom.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters