7 dae gelede
Koos skraap sy moed bymekaar en face Frankie
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Koos word goed getrain deur verskeie kroeks in die wel en weë van die underworld. Antie Ruth is egter baie siek en op ’n dag sê sy aan Koos sy likes nie die idee dat hy so betrokke is by haar seun Frankie “Die Dood” en al sy crimes nie. Maar is daar ’n way uit vir Koos? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van EL­DRIDGE JASON se verhaal “Koos Jackpot”.

SKAARS ’n week ná Koos se gesprek met antie Ruth, sterf sy in haar slaap – finally verlos van hierdie wêreld en ál sy worries.

Koos was baie hartseer. Antie Ruth was immers ’n tweede ma vir hom; die vrou wat hom in die Kaap uit die kloue van ’n lewe op straat gered het.

Haar seun, Frankie “Die Dood”, het sy ma se afsterwe egter nóg slegter gevat.

Frankie het nie geken van in stilte rou nie. Sy woede was sy uitlaatklep. Daardie week in die opbou na antie Ruth se begrafnis, het Frankie se rivals soos vlieë geval innie Kleinvlei.

Dit was asof hy sy seer en verlies wou uithaal op ander; troos wou vind in die wete dat die dood ook aan ander se deur kom klop het.

Bedags was Frankie die koue, koelbloedige bendeleier wat die een ná die ander waaghalsige hit beveel het.

Saans het hy hom onttrek en alleen in die sitkamer gesit en luister na Sarah McLachlan se “In the Arms of an Angel”.

Met trane wat oor sy wange stroom en ’n bottel Jameson teenaan, het Frankie oor en oor na die song geluister. Tot vervelens toe ook al dik verveeld was.

Lady Luck het geen luck gehad om hom te oortuig om op ’n ander manier te rou nie. Green Eyes en ál sy sjarme kon Frankie nie oortuig om weer die lewe te begin geniet nie. Nie Tamatie of Koppe kon Frankie oortuig ál wat hy op sy brood nodig het, is om homself in crime te botter nie.

Koos het Frankie diep jammer gekry. Behalwe dat hy nie saans kon slaap oor die een treurmare van ’n song wat heelnag in sy ore geblêr het nie, was hy bekommerd oor Frankie.

So bang soos wat hy vir Frankie was, was dié soos ’n ouer broer vir hom. ’n Tipe van ouboeta wat hy nooit gehad het nie.

Dis in sulke oomblikke dat Koos besef het jy kry weinig waarvoor jy wens, want al het hy so kliphard gebid vir load shedding – net sodat hulle nie na die song hoef te luister nie, het Eskom besluit hy speel nie meer saam nie.

Koos het toe besluit om ál sy moed bymekaar te skraap en met Frankie te gaan gesels.

Hulle het ’n understanding gehad – of so het hy wat Koos is, gereken.

Hy was immers al gesout in Frankie se kriminele aktiwiteite en was aktief deel in ál die sondes van ’n misdaad kan pleeg.

Soos die deodorants altyd brag van ’n 48 uur-dag, was hy wat Koos is, dag en nag besig om Frankie met sy kriminele aktiwiteite te verryk.

Toe Koos in die sitkamer kom nadat hy sy moed goed met ’n paar ciders gepolish het, het Frankie op een van sy peperduur leerbanke gesit en na ’n portret van antie Ruth gestaar. Oom Jameson, bederf met ys, was in die hand.

Koos het sy keel skoongemaak om Frankie se aandag te trek. Frankie se aandag moes op skool met ’n trekker getou word, en maak nie saak hóé Koos keel skoongemaak het nie, Frankie het eenvoudig nie sy kant toe gekyk nie.

Toe hy nog een laaste keer wou keel skoonmaak, draai Frankie in sy rigting en sak af: “Het jy jou al vir Covid laat toets?”

“Hoekom?” het Koos uit die veld geslaan gevra. “Ek kou mos nie totdat my gums wit is nie.”

Frankie het hom lank aangegluur. Koos het ongemaklik begin rondtrippel.

“Ons sal nooit die hoekoms en waaroms van die lewe verstaan nie,” het Frankie geantwoord.

Dit was die aand voor antie Ruth se begrafnis. Koos kon nie verstaan hoekom Frankie nou al gelowig begin raak nie.

Heimlik het hy gestaan en hoop dat Frankie nou nie soos by daai kerk in Paternoster in tale gaan begin praat nie.

“Wat soek jy?” het Frankie kortaf gevra.

“Ek worry oor jou.”

Die woorde was uit voordat Koos homself kon keer.

Frankie het stadig orent gekom. Ál die vette aan sy lyf het Koos skielik herinner aan ’n bacon-fabriek.

“Weet jy wat laat my worry?” het Frankie gevra.

“Mense wat hul kinders die naam Koos gee. Ek mean maar, hoe sadisties en wreed moet jy wees om dít aan ’n kind te doen?

“If you worry, you die. If you don’t worry, you also die. So, why worry at all?”

Die maande in die Kaap het nog nie Koos se Engels só verbeter dat hy gesnap het wat Frankie vir hom probeer sê het nie.

Wat hy egter wel geweet het, was dat Frankie aan hom gesê het om met sy worries en ál in sy moer te kruip.

Daar was ’n koudheid in Frankie se oë – so asof hy daai koue spesiaal iewers in Alaska loop opgrawe het.

“My ma is dood. So ook die arrangement dat jy jou soos ’n huiskind in ons lewens kom ingrawe het.

“As my ma se funeral verby is, raak jy ’n gewone werker wat sal moet buk vir jou geluk.”

Koos het ontnugterd omgedraai en na sy kamer gestrompel.

Hy wou sy geluk kom vind hier in die Kaap, sonder om daarvoor te buk. Want as jy buk, kry jy pak. Daai onthou hy van sy skooldae toe Miester Hilbert die een lat ná die ander op sy stêre stukkend geslaan het.

Frankie het die plot verloor. Daaraan was daar g’n twyfel nie. Hy moes wegkom.

Leë hande kon hy egter ook nie die pad vat nie, maar daar was ’n plan daarvoor. Frankie het ’n walk-in kluis in sy kamer waar ál die skatte waarvan ’n ou soos Judas net kon droom, gesaaf word.

Hy moes hom net aan van dié skatte help, en dan maar terug Paternoster toe vlug.

Maklik sou dit egter nie wees nie. Lady Luck, Green Eyes, Tamatie en Koppe het ook op die jaart gebly. Hoe gemaak met hulle?

Daardie aand het Koos rondgerol en die slaap het hom soos ’n honest politician ontwyk.

Hy kon nie ’n get slaan voor die begrafnis nie. Frankie en sy manskappe sou lont ruik.

Hy was anyway gedruk en getik in die begrafnisboekie as ’n pall­bearer. Net voordat hulle “Weer Ontmoet” sou sing, was hy een van die kisdraers. Frankie, Lady Luck, Tamatie en Green Eyes was van die draers op die laaste skof gat toe.

Koos het regop gevlieg. Dís waar hy sy kans sal moet waag. Daar is nie ’n ander way nie.

Een ding was immers so seker soos dat Frankie nooit eendag hemel toe sou gaan nie: Word hy gevang, join hy antie Ruth in die hiernamaals ...

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters