Verlede maand
Koos mik mooi met sy planne op die begrafnis
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Nee kyk, dié oom se nerves is sommer gaar vir Koos se part en sy waaghalsige plan om weg te kom. Koos besluit mos die beste manier om die hasepad te vat, is op antie Ruth se begrafnis... en met Frankie se vele skatte in sy broeksakke. Maar sal hierdie plan van hom slaag? Geniet nou die slothoofstuk van EL­DRIDGE JASON se verhaal “Koos Jackpot”.

AS DIT by begrafnisse kom, is mense min gespin wat Covid en ál sy regulasies betref.

Dít besef Koos maar net weer die oggend van antie Ruth se begrafnis.

Nés in die dae voor Covid, het mense al vroeg by antie Ruth se huis opgeruk. Hier sou die viewing van die liggaam plaasvind, daarna die diens by die kerk, en dan die final goodbyes by die begraafplaas.

Deur die jare kon Koos nie uit-figure of mense na ’n begrafnis stroom om hulle laaste respek te betoon of oor die lekker potte kerrie, breyani en tamatiebredie wat ­agterna in die civic bedien word nie.

Hy was al vroeg uit die vere, geklee in die Markham outfit wat hy gekoop het met sy eerste pay-tjek wat hy as kroek verdien het.

Frankie en die res van sy kabaal was ook al op voor die werfhaan nog van kraai kon droom.

Vir die eerste keer in ’n lang ruk was Frankie sober. Daar was ’n strak uitdrukking op sy gesig en vir die eerste keer was hy nie vir Koos die yskoue man wat nie ’n duit vir ander omgee nie.

Toe antie Ruth se kerkmense sound-bokse buite die huis ­connect, het Koos geweet dis aan in Japan. Antie Ruth was immers ’n lidmaat van ’n kerk in Kleinvlei wat veral in opelugdienste ge­spesialiseer het.

Die kerk-gang skop toe sommer af met Bella se “Here Lei My” en toe weet Koos – hierdie is ’n heeldag-­affêre. So in sy guns.

Frankie was natuurlik nie baie impressed met die gejuig, sang en musiek binne en buite die huis nie. Hy het so ’n gepynigde uitdrukking op sy gesig gehad, maar vir die meeste begrafnisgangers het dit gelyk asof hy maar net oor sy ma treur.

Lady Luck, Green Eyes, Tamatie en Koppe het hulle lywe skaars gehou. Koos het geweet hulle is dalk nie bang om ’n misdaad te pleeg nie, maar hulle is ­skytbang is vir ’n kerkhouery. En hoewel hulle nie duidelik sigbaar was nie, het Koos geweet dat hulle iewers in die omtes is.

Ná wat soos ’n hele Sabbatdag propvol sang en musiek gevoel het, het die stoet finally aanbeweeg na die kerk.

Hier het ds. Moses Davids hulle ingewag. Ds. Davids is vir sy lang tong berug. Ook dat hy só lank kan aanhou tjommel dat selfs Dawid sal vergeet waar hy sy bossie wortels gegrawe het.

Koos het ds. Davids uit­gecheck en toe sommer gesien dié godsman het hom uitgerus vir ’n marathon-diens.

Baie het immers agter ds. Davids se rug geskinder dat hy die Bruce Fordyce van preek is.

Toe ds. Davids al ’n uur in sy preek is, het menige ­begrafnisganger stilweg gewonder of hulle nie maar ’n duvet en ’n kussing moes saamgebring het nie.

Die dominee het gepreek dat die spoeg spat oor hoe jy jou vader en jou moeder moet eer sodat die syfers op jou pay-tjek verdubbel moes word, oor hoe ’n loan shark jou net suurstof geleen het en hoe jy eendag, minus die rente, as stof na die aarde sal terugkeer.

Deur die hele preek het Koos opgelet hoe Frankie die een na die ander panga-kyk in ds. Davids se rigting gooi. Panga-kyke galore.

Maar die godsman het hom so blind gehou soos “Lady Justice” wat met die oneweredige skaal voor elke hofgebou staan.

Uiteindelik, amper kwart voor nege, seg die dominee toe dat hy amper klaar is en dat die kisdraers na vore moet kom.

Toe is dit ’n laaste gebid wat Koos sweer selfs die Vader in die hemel op Sy tande sou laat kners.

Koos was amper verlig toe ds. Davids ná ’n vrag amens afsluit.

Hy het ook opgemerk hoe ­haastig die ander was om die kis uit die kerk te stoot. Vinnig het hy vorentoe getree en sy plek by een van die kis se handvatsels ingeneem.

En toe “Weer Ontmoet” deur die kerk se luidsprekers begin weergalm, het hy en die res van die span stadig begin om met die kis na buite te stap.

In die gestap het sy oë dié van Frankie ontmoet. ’n Koue ­rilling het langs sy ruggraat afgehardloop. Die vrees het hom so gehop-tail dat hy amper antie Ruth se kis laat val het, maar wonder bo wonder het hy sy pose behou.

Toe hulle antie Ruth se kis by die lykswa instoot, het Koos hom kamma-likes besig gehou met die vasmaak van sy skoenveters.

Só het hy ook in die omtes geloer en dankbaar gesien dat almal in hul karre klim of na die begrafnis-bus stap om die stoet te volg.

Dit was sy kans – ’n kans wat hy nie deur sy vingers kon laat glip nie.

Toe hy tevrede was dat almal op pad na die Welmoed-begraafplaas is, het hy haastig huis se kant toe gestap.

In sy kamer het hy die splinternuwe Karrimor-rugsak, wat antie Ruth nog vóór haar dood vir hom gegee het, gegryp en hom na Frankie se kamer gehaas.

Hier het hy doelgerig op die kluis afgestap en die password op die sleutelbord ingepunch wat hy al maande gelede gememoriseer het.

Sy oë het gerek toe hy die hope en hope geld sien. Ook juweliersware wat plekke soos American Swiss nie kan bekostig om te verkoop nie.

Met bewende hande het hy sy sak gevul, uitgehardloop en hom toe met ’n vaart na die Melton Rose-treinstasie gehaas waar hy ’n taxi Bellville en toe Kaap toe gevat het. Van daar het ’n taxi Vredenburg toe gevang en toe Paternoster toe gehike.

Oom Groot Koos en antie Sylvie was verbaas om hom te sien, maar in hul minds was Koos die verlore seun wat huis toe gekom het.

Ál verskil was dat Koos nie ’n platsak verlore seun is nie. Hy was ryk, stinkryk. En hy was dankbaar dat hy nooit vir antie Ruth, Frankie, of enige van sy kroeks vertel het waarvandaan hy oorspronklik is nie.

Koos het ook geweet dat ­niemand hom in Paternoster sou kom soek nie. Dit was immers die laaste plek op aarde, want jy kon nie deur Paternoster na ’n ander dorp ry nie. Padkaarte het hier tot ’n einde gekom.

En só het Koos sy eie vis-en-tjips-winkeltjie begin waar hy, nés Frankie “Die Dood”, sy werkers in hul tjops laat werk het – selfs al was daar nie ’n vleiserigheidjie op die menu nie.

Onder die locals was hy Koos. Koos Jackpot. Die een wat nie net stad toe is en met Kaapse lekkers teruggekom het nie, maar better yet met ’n Karrimor-rugsak vol rykdom ...

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters