14 dae gelede
Koos kom by Frankie die Dood se mansion aan
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Doodmoeg, diep honger en platsak sit Koos Jack­pot jr. op Artscape se trappies. Hier ontmoet hy die vriende­like antie Ruth, wat hom iets te ete en te drinke gee. Antie Ruth se seun Frankie kom tel haar in ’n spoggerige kar op. En dis net hier waar antie Ruth daarop aandring dat hy wat Koos is, saam met hulle moet kom. Geniet nou hoofstuk 4 van EL­DRIDGE JASON se verhaal “Koos Jackpot”.

FRANKIE Louw, oftewel Frankie die Dood, was Kleinvlei se eie Notorious B.I.G.

’n Magtiger figuur in die hele Kleinvlei-gemeenskap was daar nie.

Sy invloed was groot. Amper so groot soos sy logge figuur, maar darem kleiner as sy ego.

Die hele Klipbokstraat was Frankie se speelgrond. Soveel so dat hy dit verander het na Biggie Smalls-straat, vernoem na sy gunsteling rapper.

Selfs met ’n splinternuwe naambordjie en wat-wat.

En natuurlik het Klipbokstraat se inwoners nie gemoan nie, want ewe skielik kon hul skuldeisers hulle nie opspoor nie.

Niemand het met Frankie die Dood gemors nie – nie as jy jou lewe liefgehad het nie.

Vra maar vir ál die tallose ouens wat hul luck getry het en vandag in die Welmoed-begraafplaas lê. Of wie se lyke nóú nog nie gevind is waar dit onder ’n sandkombers iewers langs die Mnandi-strand lê nie.

Frankie was untouchable. Sy fort van ’n mansion was nie ver van die Kleinvlei-polisiestasie nie, maar die cops kon nie ’n vinger op hom lê nie.

Gerugte het die rondte gedoen dat baie wetstoepassers op sy payroll was. Maar so hardnekkig soos wat dié gerugte was, kon dit net nooit bewys word nie.

Baie het gesweer Frankie het nie ’n soft spot nie. Maar alle mense het een, maak nie saak hóé koud soos ’n deep freezer jou hart kan wees nie.

Frankie se sagte plekkie was sy ma, antie Ruth, ’n vrou wat hom en sy broer, Rudy, streng grootgemaak het. Vrou alleen, nadat hul pa kamma-likes na die Somaliese winkeltjie geloop het om Sunlight-seep te gaan koop, en toe nooit weer agterna gesien is nie.

Sondagskool het Frankie kleintyd geloop. Maar toe word hy in sy tienerjare geskool in die wêreld van bende-aktiwiteite en ál die bloedvergieting wat daarmee gepaard gaan.

Maar as Mamma Ruth gepraat het, moes Frankie eenvoudig luister.

So, toe antie Ruth op Artscape se trappe aan Frankie sê dat Koos saam met hulle kom, het Frankie nie teen die karre geskop nie.

Hy het die verwaarloosde klong voor hom nie geken nie, maar geweet wanneer sy ma praat, móét hy luister.

En so is Koos Jackpot toe saam met hulle Kleinvlei toe. ’n Klong wat nog net so ver as Vredenburg in die lewe was, maar hom nou ewe skielik in die teenwoordigheid bevind het van ’n man wat selfs die duiwel snags diep geworry laat rondrol het.

“Als gaan orrait wees. Don’t you worry,” het antie Ruth aan Koos gesê toe hulle in die kar klim.

Koos het haar geglo. Hy het geweet met antie Ruth in die omtes is daar niks wat hy hoef te vrees nie.

En route na Eersterivier het Koos op die N2 oopmond gestaar na ál die plakkershutte langs die pad. Hy het in sy ganse lewe nog nooit ’n plakkerskamp gesien nie, want Paternoster het nog nooit een gehad nie. Maar wat vir hom baie opvallend was, was hoe elke plakkershut ’n satellite dish gehad het. Who’s fooling who? het hy gewonder, maar besluit om niemand hieroor uit te vra nie.

Toe hulle in Raymond Ackerman-rylaan afswaai in die rigting van Kleinvlei, het Koos met verwondering by die venster uitgestaar.

“Waar is die rivier?” het hy aan die bodyguard langs hom gevra.

Dié het hom net koud aangekyk.

“Is hier iewers ook ’n tweede rivier?” het hy hom tot antie Ruth gewend wat uit haar power nap wakkergeskrik het.

Antie Ruth het haar kop in ongeloof geskud.

“Waar val jy uit die lug uit, kind? Waar is jou ouers?”

“Ver van hier, Antie,” het Koos met ’n strak uitdrukking geantwoord.

Antie Ruth het besluit om Koos nie verder te druk nie. As gerespekteerde lid van haar congregation het sy gereeld met wegloopkinders gewerk.

Sy kon van myle ver een herken en het geweet dat Koos nie so verlore is soos wat hy almal wou wysmaak nie.

Iewers was daar ’n familie wat kliphard op soek was na hom, maar sy wou hom nie te veel vir antwoorde druk nie.

Toe Frankie se kar Klipbokstraat binnery en so ’n minuut later voor ’n imposante hek stilhou, het Koos nuuskierig na antie Ruth gedraai. Sy het hom egter met haar oë stilgemaak.

Die outomatiese hek het stadig oopgeskuif en Koos het die ouens opgemerk wat nie ver van die hek gestaan het nie.

Dit was besig om vinnig donker te word. ’n Meisie het na buite gekom en antie Ruth uit die kar gehelp en die massiewe huis binnegelei.

So in die loop het antie Ruth die meisie beveel om ’n kamer vir Koos gereed te kry en te sorg dat hy iets te ete kry.

Antie Ruth het iets gemompel van dat sy eers ’n bietjie moet gaan skuinslê.

In die sitkamer wat vir Koos groter as ál die Hop-huise in Paternoster gevoel het, was hy ewe skielik alleen saam met Frankie.

Dié het hom op-en-af bekyk. Soveel so dat Koos ongemaklik begin rondtrippel het.

“Ek gaan sommer straight met jou wees,” het Frankie gesê en op ’n duur leerbank gaan sit. “Ek hou nie van jou gevreet nie.

“Ek weet nie wat jy vir my ma gesê het om haar te convince dat jy moet saamkom nie, maar ek watch jou.”

Koos het hard gesluk aan die knop in sy keel. Die man voor hom het hom bang gemaak. Baie bang. Banger as die stories wat die grootmense destyds vir hul kinders vertel het van die swart kar wat kindertjies vang ...

“Ek gaan jou ’n vraag vra en as jy vir my lieg, gaan jy nie meer hier wees as my ma wakker skrik nie. Dis selfs moontlik dat jy nie meer in die land van die lewendes gaan wees nie,” het Frankie in ’n grapperige stemtoon gesê.

Sy oë was egter koud. En sy lippe so dun soos die pay-pakkie wat Koos altyd gesien het waarmee sy pa huis toe gekom het.

“Is jy hier om my ma seer te maak? Het iemand jou gestuur om op ons te kom spy?”

Twee vrae. Nie een soos wat Frankie gesê het nie. Maar Koos het geweet as hy sy lewe liefhet, sal hy albei móét beantwoord ...

  • Lees Dinsdag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters