15 dae gelede
Koos besluit die skool kan hom niks verder leer
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Dis ’n kort Easter-week en hopelik propvol Easter eggs. Ons skop vandag af met ’n splinternuwe kortverhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON. Hy noem dit “Koos Jackpot”. Geniet die eerste hoofstuk!

KOOS Jackpot was ’n regte ...

Oukei, almal kan seker maar hul imagination inspan om uit te figure wat rym met Koos.

Niemand het van Koos gehou nie. Nie sy ouers nie, nie sy kollegas nie. Selfs nie eens sy girlfriend nie.

Hulle sê ’n hond is ’n mens se beste vriend, maar nie eens die Jackpots se pavement special, Spotty, het juis van Koos gehou nie.

Dit vat ook nie rocket science om te verstaan hoekom niemand veel ooghare vir Koos gehad het nie. Hy was eenvoudig ’n nare mens. Vol van homself, leeg vir sy medemens.

Die oumense het doerie jare gesê dit was omdat Koos so ’n alleenkind was. Sy ouers se enigste.

Hy is verskriklik bederf omdat daar nie ander kinders in die Jackpot-huishouding was nie.

Ander het weer volgehou dat die liewe Vader Koos geskape het, maar toe tydens ’n tea break eenvoudig net van hom vergeet het.

So het Koos toe grootgeword in die vissersgemeenskap van Paternoster – so ongewild soos môre heeldag.

Koos en sy ouers, oom Groot Koos en antie Sylvie, het eers in Vaalplaas gebly. Nogals knap naby die see.

As kind was sy enigste plesier die geluide van die branders wat hom saans aan die slaap gesus het. Saans was dit so stil in Paternoster dat jy die karre in Vredenburg se hoofstraat kon hoor ry.

Koos se kinderjare was gevul met memories van speel op die strand. Die enigste spoiler alert was die middag-skool wat hy moes bywoon. Verveeld terwyl hy luister hoe sukkel ou Broodkop om sy Boet en Saartjie-verhale in die klas te klank.

Broodkop het sy naam daaraan te danke dat, een middag ná skool toe hy brood wou maak, die bak brood uit die lang kas geval het. Op sy kop.

Vir dié geklankery in die klas wat anyway meer soos ’n getjankery geklink het, was Koos Jackpot nie lus nie.

Voor hul deur was ’n rissieboom en as hy die dag nie lus vir skool was nie, het hy die rissies aan sy oë gesmeer en afgehardloop na die hotel waar sy ma gewerk het. Daar het die ganse hotelpersoneel hom dan gedokter en vir hom ice cream, guava juice en die wit kindertjies se speelgoed aangedra.

Maar ’n mens se oë kan ook net soveel rissies vat en Koos moes hierdie plan ná ’n paar kere ook maar vaarwel roep. As daar gekyk word na waar en wanneer Koos Jackpot se bitterheid gebore is, is dit heel moontlik die dag toe hulle uit Vaalplaas moes trek.

Koos het die grootmense hoor praat van ’n munisipale skrywe dat die watervlak gaan styg en dat ál die inwoners van die strand moet wegbeweeg.

Hopland is toe nie ver van die plaaslike rugbyveld af nie geskep. Koos en sy ouers moes daarheen trek. Koos wou om die dood toe nie trek nie.

Sy ouers moes hom Hopland toe sleep. Sleep-slaan.

Daar gekom en gesettle, het Koos al die eerste aand besef hulle is ’n dirty getrek. Hulle was dan nou verder weg van die see af en hy kon nie meer so lekker hoor hoe speel die brandertjies met mekaar nie.

Verder was dit skaars ’n week later, toe sien hy dat daar nou strandhuise gebou word op die spots waar die watervlak kamma-likes sou styg. Ook dat hul huisie wat glo veels te na aan die watervlak was, nou in ’n seefront- restaurant omskep is.

Daar en dan het Koos besef die lewe kan nie net k*k wees nie, maar sommer k*k onregverdig ook. Waar die wye oseaan eers sy buurman was, was Simon Noble en sy taverne nou sy raserige bure.

Saans kon hy nie slaap nie soos wat Simon Noble se jukebox elke aand geblêr het.

Daai jukebox het so ’n geraas gemaak dat sy pa later ook afvallig geraak het. Oom Groot Koos het al hoe minder kerk toe gegaan en al hoe meer tyd in Simon Noble se taverne deurgebring.

In die aande as Koos Jackpot vir eksamens en toetse moes leer, moes hy baie male sy pa by die taverne gaan haal.

Daar het hy male sonder tal sy pa en oom Koos Kreatien se vrou, antie Lucy, by ’n tafel gekry sit. Oom Koos Kreatien was Paternoster se resident bodybuilder.

Niemand het met hom skoor gesoek nie. Niemand was anyway lus vir pak kry nie. Hoe mooi antie Lucy ook al was, niemand het haar try boul nie uit vrees vir Koos Kreatien en daai moerse vissermanshande van hom.

Hardnekkige stories wat maar net nie in Paternoster tot ruste wou kom nie, wou dit hê dat oom Koos Kreatien op ’n keer ’n walvis flou geklap het met daai moerse hande van hom.

Maar vir een of ander rede wat Koos Jackpot nie kon verstaan nie, was sy pa nie bang vir Koos Kreatien nie. Hoekom anders sou hy dan elke liewe aand in Simon Noble se taverne sit en jokes maak met antie Lucy?

Hoekom sou hy elke liewe aand vir antie Lucy ’n paar ciders koop, terwyl hy langs haar sit en afkoel met sy klein glaskannetjie Virginia? Anyhow, hoe ouer Koos geraak het, hoe meer het hy besef dat sy pa en antie Lucy jol.

Nie op ’n number nie, maar soos in een van daai stukke op TV wat sy ouers nie wou hê hy moes kyk nie.

En dat hierdie jollery die rede was hoekom daar ’n geskimp is om sy ma Kaap toe te stuur. Stikland, of so ’n ding.

Hy was nie seker of Stikland ’n stuk land naby Tafelberg was of ’n suburb van Mitchells Plain nie.

Ál wat hy geweet het, is hoe meer sy pa met antie Lucy gesit en kuier het, hoe meer het sy ma se oë begin blink van die pilletjies wat sy religiously drink. Met ’n glas sterk aangemaakte Eleven in One.

So het Koos hom toe begin onttrek aan die res van die dorp en sy maats, want almal het begin skinder oor sy pa en antie Lucy.

By die winkel kon hy nie eens meer ’n fi’bob game gaan speel nie, want die kinders wat hy gedink het sy maats is, het hom begin koggel en gevra of antie Lucy sy ma is.

Op 15-jarige ouderdom het Koos gevoel hy het genoeg gehad.

Daar was niks wat die skool hom meer kon leer nie, was sy redenasie toe sy ma teen die karre wou skop.

Sy pa het net met leepoë na sy kan Virginia gestaar en sy skouers opgetrek ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters