23 dae gelede
Kenny kry ’n skok toe hy uitmaak wie sy besoeker is
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Kenneth McKenzie is ’n larney dikding van ’n drug dealer met hewige connections. Selfs met sy onlangse arrestasie bly hy nie lank in die tronk nie. Tog is daar iemand wat Kenneth ’n dure les wil leer. Geniet hoofstuk 2 van CHRISTO MEYER se “Sondes van ’n Drug Dealer”.

TOE Kenneth by die huis kom, is daar geen teken van sy vrou of hul vyfjarige tweeling nie.

Op die kombuistafel lê wel ’n briefie wat sy aandag trek. Hy vou dit oop en herken dadelik Theresa­ se netjiese handskrif.

Hy begin lees: Kenny, ek wil net hê jy moet weet ek is diep teleurgesteld in jou. Daar was nie gisteraand kans om met jou te praat nie, want die cops het jou te vinnig hier weggevat.

Wat het jou besiel om met ’n skoolkind te lol? Jy het mos geen respek vir my nie. Is ek dan nie meer goed genoeg in die bed nie?

Anyway, ek het tyd nodig om my kop skoon te kry en alles te verwerk. Die skok is te groot.

Verkragting was nooit iets wat ek gedink het jy jou skuldig aan sal maak nie.

Moenie oor my en die boys worry nie. Ons sal fine wees.

Dit ook nog, dink Kenneth vies. Hy het gehoop sy vrou gaan hom bystaan. Nou wil dit voorkom asof sy haar rug op hom gekeer het. Watter soort huweliksmaat is sy?

Is sy nie veronderstel om in sy onskuld te glo nie? Onskuldig totdat die hof hom skuldig bevind.

Dit lyk vir hom sy het klaar besluit wat sy lot moet wees.

Theresa kan gaan bars. Hy gaan nie agter haar aan bel nie.

Sy moet maar self tot haar sinne kom. Hy sien in elk geval nie kans om enige iets aan haar te verduidelik nie.

Hy maak ’n paar oproepe na vriende in die onderwêreld en bring die res van die dag voor die televisie deur. Hy wil net ontspan en aan die pad vorentoe dink. Die verdomde fotograwe se kameras was in sy gesig.

Hy is seker môre op die voorblad van ál wat ’n koerant is.

Blerrie Sharon Koordom. Kon sy nie haar bek gehou het nie?

Nou moet sy reputasie daaronder ly. Daar moet ’n manier wees hoe hy haar kan intimideer, anders gaan hy as ’n verkragter gebrandmerk word. Niemand gaan onthou hy het op level 5 van die lockdown uit sy eie sak kospakkies aan die armstes van die armes uitgedeel toe die regering niks gedoen het nie.

Dit was maar net sy manier om aan die gemeenskap te wys hy is nie heeltemal so geldgierig soos almal dink nie.

Teen 19:30 lui Kenneth se selfoon. Hy kyk eers op die skermpie om te sien of dit nie sy vrou is nie.

Hy is half uit die veld geslaan toe hy Sharon Koordom se nommer herken. Wat staan hom te doen? Een van sy borgtogvoorwaardes is juis om nie naby Sharon te kom of haar te kontak nie. Hy besluit om tog te antwoord.

Reëls is in elk geval gemaak om verbreek te word. Dalk kan hy haar ’n gat in die kop praat.

“Naand, Sharon.” Hy probeer so vriendelik klink as wat hy kan.

“Dis Carol Koordom wat praat, ek is Sharon se ma.”

“Oh, sorry. Hallo, Carol. Ganit goed?”

“Allesbehalwe.” Carol se stem drup behoorlik van sarkasme.

“Hoe kan dit goed gaan as my enigste dogter se onskuld met geweld van haar afgevat is? Jy weet mos wat jy gedoen het, so hoe de moer kan dit goed gaan?”

Kenneth wil hom vererg, maar besluit dan om kalm te bly. Ag jinne tog, het die vrou nou lus om te preek? Hy het genoeg ander goed om oor te worry.

“Is daa’ iets wat ek vir jou kan doen, Carol?”

“Ja, ek wil besigheid gesels.”

“Watse soort biesagheid?”

“Betaal my ’n bedrag geld in ruil vir Sharon se stilte.”

Kenneth glo nie wat hy hoor nie. Dis juis waarvoor hy gehoop het. Alles val mooi in plek.

Hy moet net seker maak Carol hou by haar woord. Hy moes geweet het haar dranklus gaan haar desperaat maak vir geld.

Hy gee nie om om haar te betaal nie, solank dit nie nodig is om hof toe te gaan nie. Eintlik maak sy alles soveel makliker.

“Hoeveel wil djy hê?” vra hy.

“So R20 000. Sodra ons die geld het, sal Sharon die saak gaan terugtrek.”

“Ek kan die geld sommer vanaand nog vir jou bring. Sê net waa’ ek jou moet kry.”

“Hokaai, hokaai,” keer Carol. “Nie so haastig nie, Kenneth.

“Kom ons wag tot môre. Jy weet hoe gaan dit hier. Die nag het oë. Ek bel jou vroeg môre, dan kry ons die ding agter die rug.”

Ai, as Carol Koordom maar net geweet het wat later deur die aand sou gebeur, het sy liewer Kenneth se aanbod aanvaar om die geld so gou moontlik by haar te kry.

Die lewe van ’n dwelmhandelaar kan in ’n oogknip verander.

Toe Carol aflui, slaak Kenneth McKenzie ’n sug van verligting. Hy raak met ’n geruste hart aan die slaap…

DIS laatnag. Kenneth word wakker van ’n geluid by sy kamerdeur.

Hy skakel die bedlampie aan en toe hy sien wie voor hom staan, skrik hy so groot dat hy hom byna bek*k. Hy vee die slaap uit sy oë om seker te maak dis nie ’n spook nie.

Van wanneer af dra spoke vuurwapens?

“Hallo, Kenneth, hoe lyk djy dan soe surprised, my broe’? Is ma’ net ek. Moenie maak asof djy my nie recognise nie.”

Daar is meteens ’n verlange na water in die dwelmbaas se keel.

“Djy? Dit kan mossie wiesie. Djy is dan supposed om…”

“Dood te wies,” voltooi die ongenooide gas Kenneth se sin.

“Ek is soes onkruid, jong, ek vergaan nie soema nie.

“Jou manskappe moes sieke’ gemaak het ek is witbiene voor hulle weggery het.”

“Wat maak djy hie’? Wat soek djy?”

“Djy is toggie soe stupid nie, Kenneth. Ek is hier vir revenge.”

“Wag nou, broe’tjie,” keer Kenneth vinnig. “Is mossie norag om daai te doen nie. Djy wiet ek het klomp kroon, ek kan jou gou-gou uitsort.”

“Djy hoef my niks te betaal nie. Djy hoef net jou safe te gaan oepsluit en ek sal vat wat ek wil hê. En dan gaan ek en djy lekke gesels oor ’n siekere charge van rape.

“Lyk my djy het jou eie rules gebriek. Djy was dan altyd soe gekant tien seks met skoolkinnes en kyk wat vang djy aan.”

Kenneth word hardhandig uit die bed gepluk. Met ’n vuurwapen teen sy kop word hy gedwing om sy kluis te gaan oopsluit. Hy protesteer, maar ’n taai klap dwing hom om gehoor te gee.

Hy is skielik spyt hy het sy lyfwag die aand af gegee, maar hoe moes hy geweet het Scarface lewe nog?

“Vat alles wat da’ is. Moet my nettie skiet’ie. Ek smeek jou.”

Scarface lag. “Skiet? Nei, daai sal soes ’n walk in the park wies. Een, twie, drie en alles is oor. Ek kanit’ie soe easy maak vi’ jou nie.

“Ek het ander planne met jou. Ek wil hê djy moet suffer.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters