7 dae gelede
Katjies loop ’n vrou raak met ‘bybedoelings’
 ~ 

SONLANDERS, ons gaan vandag voort met GWENDOLINE KORDOM se “Bloedspoor”. Slaan jul tande nou gerus in die tweede hoofstuk. Geniet!

DIS Vrydagaand in Pakkiesdorp. Die strate wemel van mense. Sommige is op pad om hul lyf ’n lekker tyd te gee en ander is op soek na groter dinge.

Donovan Maasdorp, alombekend as Katjies, stap met doelgerigte treë die bekende paadjie na die sjebeen.

Hy blink van kop tot tone. Die skoner geslag kyk nie in jou rigting as jy nie smart lyk nie. ’n Lekker gevoel laat hom glo vanaand gaan ’n goeie aand wees.

Hy swenk na regs en bevind hom tussen die huise. Vanuit die donker kan hy ander se bewegings volg.

Selfs die honde ken sy reuk en blaf skaars in sy rigting. Dit het hom telkemale uit situasies gered, soos die keer toe hy ’n halwe nag in ’n hondehok moes spandeer.

Dit was toe een van die gevaarlikste ouens in Pakkiesdorp na hom gesoek het. Boena is gelukkig agter tralies en die gebeure tussen hom en Katjies is iets van die verlede, danksy Bennie... Bennie wat so wreed aan sy einde moes kom.

Hy en Bennie was goeie pelle, maar die dwelms het Bennie ondergekry.

Hy het begin roekeloos word, nie omgegee van wie hy steel om sy volgende fix te kry nie.

Katjies het besluit om hom te onttrek, want Bennie was duidelik nie meer tevrede met die daggapilletjies wat hulle rook nie. Tot daardie noodlottige aand ’n paar maande gelede ...

Katjies was op pad terug van sy gewone rondes. Dit was ’n stillerige Dinsdagaand. Hy sien toe vir Bennie in die straat aankom. Hy wou hom roep en bedank vir sy daad. Bennie het immers gelieg om sy bas te red.

Dit was Katjies wat Boena se dwelms verloor het, maar Bennie het die skuld op hom geneem. Boena en Bennie is neefs, so die straf was darem nie té erg vir hom nie.

Die verskyning van ’n onbekende kar het hom egter laat vassteek. Bennie was met twee treë langs die motor. Katjies wou nader gaan, maar ’n onsigbare hand het hom teruggehou. Ook maar goed.

Toe hy weer kyk, verskyn ’n vrou en bondel Bennie in two ticks by die netjiese kar in.

Katjies kon net die verdwynende motor agterna staar, nie seker wat hy aanskou het nie. Sy was aan die skralerige kant en blitsvinnig. Sy het vir ’n oomblik in sy rigting gekyk. Hy het agterna besef hoekom.

Oom Sam se deur het oopgevlieg. Daar was nie ’n manier hoe sy hom agter daardie huis kon sien nie. Boonop moes hy spore maak toe oom Sam om die hoek bars.

Agterna moes hy in die koerante oor Bennie se dood lees. Hy kon dit nie glo nie. Het die vrou Bennie vermoor? Dalk het sy hulp gehad en hoekom vir Bennie?

Daardie tipe motor vind jy ook nie sommer in Pakkiesdorp nie. Te luuks om sommer in die middel van die nag hier rond te rits.

Dalk was die vrou ook by dwelms betrokke. Het Bennie iewers sy vingers verbrand en met die verkeerde mense gemors?

Wat ook al die rede, sy eie lewe was in gevaar. Hy het nie ’n woord daaroor gerep nie. Te bang die vrou en haar gespuis keer terug.

’n Toe bek is ’n heel bek, volgens sy antie Ella. Hy verstaan daardie uitdrukking alte goed.

Hy het ook nie weer die motor hier rond gesien nie.

Katjies lig sy kop toe hy die punt van Elimstraat bereik. Vandaar het hy ’n goeie uitsig oor die sjebeen.

Dit ruk behoorlik vanaand. Sy voete jeuk en hy trippel nader. Skuins voor die ingang steek hy vas. ’n Peperduur motor trek sy aandag.

Katjies sug. Gaan hy skrik vir elke fancy ryding wat hy sien? Dit kan aan enige iemand behoort. Siya Koza, die eienaar van die sjebeen, kon dalk splinternuwe wiele aangeskaf het.

Sy nuuskierigheid kry die oorhand en hy stap op die pikswart Audi af. Hy kyk dromend daarna. Eendag gaan hy vir hom so iets kry. Dalk ’n Mercedes of ’n Mustang in ’n helder kleur. Hy grinnik vir sy gedagtes. Antie Ella sou sê hy kyk te veel TV.

Katjies kyk vir oulaas na die motor voordat hy wegstap. Dan vries hy in sy spore. Hy verbeel hom byna hy hoor ’n gemompel. Hy spits sy ore. Op daardie oomblik blêr harde musiek uit die sjebeen. Hoekom is hy deesdae so paranoïes? Kan dit die drome oor Bennie wees?

Deesdae teister Bennie hom in sy drome. Is dit dalk ’n teken dat Bennie geregtigheid soek? Voel hy Katjies moet lig werp op die saak en sy moordenaar aan die kaak stel? Hy skud sy kop en stap aan.

Katjies is oor die drumpel en kies die naaste hoek totdat sy oë gewoond raak aan die dowwe lig.

Dit neem ’n paar sekondes voordat hy die vreemde vrou by die kroeg gewaar. Van hier kan hy nie veel uitmaak nie. Katjies se hart klop woes toe sy haar kop draai en skielik reguit na hom staar.

Hy staar terug. Haar hare is pikswart en in ’n sjeik bob gestileer. Sy is in swart geklee.

Dan neem sy ’n sluk uit die glas in haar hand terwyl haar blik steeds op hom huiwer. Hy probeer wegkyk, maar hy kry sy oë nie van haar geskeur nie. Dit word ’n speletjie. Dan roer ’n glimlag om haar mond en sy verbreek oogkontak.

Katjies wag maar. Toe sy ná ’n paar sekondes nie weer in sy rigting kyk nie, kyk hy weg.

Sy lyk nie soos iemand wat gereeld hier rondhang nie. Die sjebeen is volgepak en niemand gee juis aandag daaraan toe hy die kroeg nader nie. Dan is hy langs haar en staar haar in die gesig. Sy is mooi. Mooier as enige vrou wat hy al gesien het.

Dan leun hy oor en sê so hard as wat hy kan: “My naam is Donovan. Wat is jou naam?”

“Jane,” antwoord sy bo die geraas.

“Kan ek vir jou ’n dop koop?”

“Fênks, maar ek kan my eie koop.”

Katjies bestel ’n dop whiskey. Toe dit kom, sluk hy dit af in een teug terwyl die vrou hom stip dophou.

“So, wat soek ’n girl soos jy in ’n plek soos dié?” vra Katjies, dié keer met meer selfvertroue.

“Geselskap en lyk my ek het dit gevind. Hoe sal jy daarvan hou om saam met my te gaan? Net die twee van ons.”

Haar versluierde blik laat Katjies hardop sluk.

“Waantoe?” vra hy.

Dan staan sy op en beduie hy moet volg, maar hy bly roerloos staan, stomgeslaan oor dié sexy vrou wat hom smaak. Sy neem hom aan die hand. Dan voel hy ’n ligte prik in sy arm. Hy kyk verbaas na haar.

Hy word na buite gelei. Sy be­wegings word traag. Met elke tree voel sy lyf swaarder. Die soel aandlug tref sy gesig toe hulle buite kom.

Dan is hy by dieselfde motor wat hy vroeër gesien het en voel skielik hoe sy bene meegee. Met sy laaste bietjie krag probeer hy terugkyk, maar word dan in die passasierskant neergeplak. Daarna voel hy hoe die motor wegtrek.

In die kantspieël word die sjebeen se ligte ál hoe dowwer totdat daar net ’n donker kol agter hom strek.

  • Iewers registreer iets in sy brein. Dis sy. Die vrou wat Bennie ontvoer het.Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters