10 dae gelede
Katie tel die dae af voordat sy weer huis toe kan gaan
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Donker Geheim is Esme Cupido se jongste skryfstuk. Geniet die vierde hoofstuk!

KATIE gaan staan.Haar asem kom hortend oor haar lippe.

Sy kyk om of sy hom sien aankom, maar alles is doodstil. Voor haar sien sy die twee jagtershutte en sy probeer haar asemhaling beheer.

Sy wens sy kon terugstap na ant Mary se huis, maar sy weet dis te gevaarlik. Buitendien is dit klaar laatmiddag.

Sy stap stadig vorentoe en toe sy die groep kinders steeds voor die vuur sien sit, probeer sy so normaal as moontlik voorkom.

“Waar’s uncle Loverboy... ag, uncle Leon?” vra een van die seuns.

’n Geproes klink op. “Julle was gou weg.

“Was die e… trippie nie interessant genoeg nie?” vra Thea en stamp aan die ander meisie.

“Hy kom aan. Ek het net vinniger gestap.”

Sy stap verby die groep en kan voel hoe hul oë in haar rug boor. Haar hande bewe toe sy haar slaapsak op die grond ooprol.

Sy skud haar kop asof sy daardeur die herinnering van sy skurwe kloue op haar skouers van haar kan afskud.

Hy’t gelag. ’n Lelike lag.

“Komaan, Katie. Ons is nou alleen. Uiteindelik alleen.”

Hy het haar aan haar jacket gegryp en nader aan hom geruk.

Sy benoude asem was in haar gesig.

“Trek uit.”

Haar ma sou trots op haar gewees het. Uncle Leon is ’n fris man, maar die skop was hard en sekuur.

Binne sekondes het hy soos ’n pap wurm gekrul. Katie vou haar soos ’n papie in haar kombers toe en kruip in die slaapsak.

Sy het ’n besluit geneem. Hy gaan nie hiermee wegkom nie.

Die vars berglug en die stap van die oggend maak Katie lomerig ten spyte van die voorval vroeër.

Sy lê en luister na die laggende stemme buite by die vuur en spits haar ore om te hoor of hy ook daar is.

Sy moes vinnig aan die slaap geraak het, want sy skrik wakker toe die twee meisies laggend instap.

“Sjuut, sy slaap al. Bring die kers hie’natoe.”

Katie maak asof sy slaap. Sy is net dankbaar dat dit slapenstyd is sodat die dag net kan aanbreek en hulle weer terug by die huis kan kom. Die deur swaai oop.

“Slaap sy?” hoor Katie uncle Leon se stem.

“Ja, Uncle. Sieke moeg van al die e… van alles.”

Katie hoor sy voetstappe naderkom en sy moet konsentreer om haar asemhaling egalig te hou.

“Uncle Leon! Moenieee!” lag een van die meisies.

“Kan ’n man dan nie?” vra hy speels.

Sy hoor ’n gevroetel en albei meisies wat lag.

“Nag, my meisies,” sê hy ook laggend. Die deur word stewig toegemaak.DIE volgende oggend kry hulle bibberend al hul goedjies gereed vir die terugtog.

Die mis hang weer dig oor die berg, maar hulle vorder vinniger as die vorige dag. Van ver af kan hulle die twee bakkies sien staan en die ooms wat hulle kom haal het.

Toe hulle tuis kom, tap ant Mary dadelik vir haar ’n warm bad, want hoewel die son skyn, is dit vriesend. Katie is so vaak en moeg dat sy nie eens koffie wil drink nie, maar dadelik ’n rukkie wil gaan lê.

Uncle Leon het sedert die vorige dag nie ’n woord met haar gepraat nie, net kort-kort met ’n lelike trek op sy gesig na haar gekyk.

Sy skrik wakker toe sy die telefoon hoor lui. “Helga! Lekker om weer van jou te hoor. Help jy nog lekker met die troue en so?” hoor sy ant Mary se stem.

Katie gooi die komberse van haar af toe sy hoor dis haar ma.

“Nee jong, sy is poegaai van berg klouter. Lê en slaap… of nee wag, hier kom sy nou aangestap. Die tyd vlieg so gou.

“Ek wil hê dat Leon ons môre na die blommeskou moet neem en dan Woensdag wil ons so ’n bietjie uitry Perdekraal toe.

“En Donderdag is die laaste daggie. Sy klim mos Vrydagoggend weer op die taxi, nè?”

Katie wag geduldig totdat ant Mary klaar gepraat het. Sy kyk vinnig rond en sien verlig dat uncle Leon nêrens te sien is nie.

“Nou ja, sussie, ons praat weer. Hier is sy.”

Ant Mary oorhandig die swart gehoorbuis aan haar. “Ek maak vir jou koffie,” fluister sy.

“Hallo Mammie.”

“Hallo, my Kaatjie-kind.”

Katie se oë skiet vol trane toe sy die troetelnaam hoor.

“Ek mis Mammie.” Sy kan die trane nie meer keer nie.

“Ai, my kind. Dis nog net twee dae, dan is dit Vrydag. Hoekom is jy so hartseer?” vra haar ma bekommerd.

Sy wens sy kon alles nou uitblaker, maar sy weet dis nie die regte tyd nie. “Dis niks nie,” jok sy. “Was jy toe verras oor die pienk kamer wat uncle Leon spesiaal vir jou geverf het?

“Het jy vir hom dankie gesê? En Ouberg? Hoe was die kamp op Ouberg?”

Ant Mary sit ’n beker koffie langs haar op die tafeltjie neer.

“Dit was baie mistig, maar ons het gou gestap. Dis anders in die winter as in die somer. En…”

Sy het nie die voordeur hoor oopgaan nie. Hy kom staan voor haar en kyk haar smalend aan.

“Haai, dis lekker,” sê haar ma haastig. Ek moet nou eers gaan. Mevrou Longwood roep my. Kuier lekker verder. Ons sien Vrydag by die taxi-staanplek.”

Sy hoor die foon klik in haar oor. Voordat sy kon keer, buk hy af en soen haar op haar voorkop.

“Dis net die begin. Jy het baie om voor te vergoed ná gister,” fluister hy en stap fluit-fluit die gang af.

Die volgende twee dae ry hulle uit. Sy neem egter nie veel in van die pragtige blomme nie en moet opgewondenheid veins ter wille van ant Mary.

Uncle Leon tree vroom voor ant Mary op, maar elke keer as hy aan haar raak, wil sy skree.

Maar sy kan nie. Nie nou al nie. Donderdagoggend staan sy vroeg op om haar hare te was. Sy kan nie wag dat die dag verbygaan nie.

Al haar goedjies staan klaar netjies ingepak, net reg om môreoggend te vat. Die son skyn so lekker dat sy buite in die son sit sodat haar hare droog kan word terwyl ant Mary wasgoed ophang.

“Katie, jy gaan vanaand alleen by die huis wees. Ek en uncle Leon gaan kerk toe, hy vir die Jeugaksie en ek vir kooroefening.

“Jy kan saam met uncle Leon gaan as jy wil.”

“Nooit nie! E… dis oukei, Ant Mary. Ek gaan maar liewer vroeg slaap, want môre moet ek mos 06:00 by die taxi wees.”

Nadat ant Mary en uncle Leon weg kerk toe is, draai sy die badkrane oop. Dit gaan hemels wees om ’n rukkie in die bad te lê sonder om skrikkerig te wees.

Die water word so gou koud dat sy later weer die krane oopdraai. Die salige warmte van die bad laat haar heeltemal ontspan. Sy maak haar oë toe en sug behaaglik.

Die badkamerdeur swaai skielik oop. “Hmmmm. Ek sien jy het vir my gewag, my meisie...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters