12 dae gelede
Katie sê sy wil eerder nie op die uitstappie gaan
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Donker Geheim is Esme Cupido se jongste skryfstuk. Geniet die tweede hoofstuk!

ANT Mary kloek om Katie toe hulle by die platdakhuis in Gousblom-straat opdaag.

“Het jy gemaklik gesit in die taxi, kind? Wie’t langs jou gesit? Want as dit van daai swaarlyf-anties is, dan is jou ou liggaampie seker vergruis teen die venster.”

“Kyk wie praat van swaar lywe. Jy, Mary, weeg self ’n ton.”

Uncle Leon skuur verby hulle met Katie se tas. In die deur van die voorkamer draai hy om.

“Kom, Katie, ek wys jou hoe mooi ek die kamer vir jou geverf het. Pienk, nes jy daarvan hou.”

Sy kyk op in ant Mary se ronde gesig en haar antie tik liggies op haar neus. “Toe, gaan bêre gou jou goed, dan kom vertel jy my alles. Oe, jy is mos nou ’n groot meisie, graad 9 en alles.

“Is daar nog nie ’n kêreltjie wat…”

“Mary! Stop jou bogpraatjies. Ek het nog net koffie vanoggend gedrink voordat ek hier weg is.

“Ek is honger en die kind seker ook,” sê hy kwaad.

Ant Mary kyk na die muurhorlosie.

“Is dit al so laat? Ek maak gou nog koffie en broodjies.”

Katie loop sleepvoet agter uncle­ Leon aan.

Die huis ruik na varsgebakte brood, maar anders as ander kere wanneer haar ma ook hier is, maak dit haar nie nog hongerder nie. Daar sit eerder ’n naarheid in haar keel wat sy nie afgesluk kan kry nie.

In die deur van haar niggie Fransien se ou kamer staan uncle Leon triomfantelik opsy sodat sy verby kan stap. Dis asof sy in ’n bubble van pienk spookasem instap en die narigheid wil haar oorweldig. Sy moet vinnig sluk.

“Wat sê jy hiervan, my meisie?” Sy voel die knopperige hande op haar skouers en sy gee vinnig ’n paar treë dieper die kamer in.

“D-dis mooi, Uncle.” Sy sit haar lapsak op die bed neer en draai verskrik om toe sy die oom agter haar voel staan.

“Nie so mooi soos jy nie, my meisie.”

Hy steek sy hand uit en vee met ’n dik vinger oor haar wang. “Ons het nog nie gegroet nie, onthou jy?”

“Leon, die koffie word koud.” Katie hoor ant Mary in die gang afgeslof kom en uncle Leon staan vinnig weg van haar af.

“Katie is baie beïndruk met hoe mooi ek die kamer vir haar ingerig het,” sê hy tevrede en hy kyk na die twee swart sakke wat boepens in die hoek staan.

“Fransien moet net haar spul gemors kom haal wat sy hier opgegaar het. Dat ek nie muise hier gekry het nie, is ’n wonderwerk,” sê hy.

“Fransien moet eers insettle by haar nuwe blyplekkie, dan sal sy haar laaste goedjies kom kry,” sê ant Mary verdedigend.

“Kom, kind, die koffie word koud en jy is seker al bitter honger.”

Ant Mary het die koffie geskink en sit lekker warm brood met jam en kaas voor hulle op die kombuis­tafel neer.

Die kombuis is lekker warm en die naarheid het so ’n bietjie afgeneem. Sy besef dat sy tog honger is. Haar hand reik oor die tafel om die suikerpot by uncle Leon aan te vat en hy stoot tergend die potjie buite haar bereik.

Water tap in die wasbak terwyl ant Mary die vuil skottelgoed inpak.

“En jou ma is toe weg om te help met ou Longwood se dogter se troue. Ek en jou ma het destyds saam by die ouvrou begin werk, toe leef die ouman nog.

“Baie vatterige ou ding gewees, dis hoekom ek weg is daar.”

Uncle Leon stoot die potjie nader aan Katie en hul oë ontmoet.

Hy knipoog en vorm sy lippe in ’n soen.

“Maar snaaks genoeg, hy’t nooit gesukkel met jou ma nie,” gaan ant Mary voort.

“Helga was nie op haar mond geval nie. Sy’t nie met haar laat mors nie. Ek was die softie.”

Sy draai om en haal die vadoek van die hakie af.

“Elk geval, ek hoop jy het jou ma se geaardheid, want mense loop bo-oor ons sagte mense in dié bose ou wêreld.”

“Ag, Mary, jy is in elk geval goed vir niks. Jy het nog nooit ’n werk behou nie.

“Hoeveel werke het jy al gehad nadat Japie dood is? Dis vandat jy vir my het, dat jy lekker lewe. Jy lewe so lekker dat jy al hoe dikker word,” sê hy bedaard asof hy haar komplimenteer.

Hy stoot sy leë bord vorentoe en staan op. “Kom, Katie, ek wil jou nog die hoenders en jou ant Mary se lelike kalkoene hier buite wys.”

“Ek gaan eers vir ant Mary met die skottelgoed help,” sê Katie en tel haar leë beker op.

Ant Mary skud egter haar kop.

“Nee, wat. Gaan kyk hoe mooi groot Josef is. Hy was mos maar ’n kuikentjie toe julle laas hier was.

“En laat uncle Leon ’n paar eiers uithaal, ek moet nog jul kos inpak vir jul oornag op Ouberg.”

LATER begin uncle Leon in ’n vrolike bui rugsakke en slaapsakke pak en regkry vir die volgende dag se stappery. Toe hy wegry om nog reëlings te tref, kan Katie ontspan.

Sy en ant Mary sit en lemoene eet voor die televisie.

“Ant Mary… kan ek nie by Antie bly nie? Ouberg sal nie dieselfde wees as ant Mary en my ma nie by is nie en ek…” vra sy sy pleitend.

Maar ant Mary wil niks weet nie. “Nee, shame. Uncle Leon het soveel moeite gedoen toe hy hoor jy kom dié week.

“Hy het gou-gou die bergklim gereël en die jeuggroep was net te dankbaar om iets in die vakansie te doen.”

Uncle Leon jaag haar later bed toe, want hulle moet vroeg die volgende oggend beweeg.

Sy skakel die lig vinnig af sodat sy nie teen die spookasempienk kan vaskyk nie.

Dis net ná agtuur toe sy haar selfoon aanskakel. Die opvangs op die dorp is swak en sy mis geselskap met haar vriendin, Raylin.

Raylin wou hê sy moes haar ma vertel, maar hoe kon sy? Uncle Leon was nog altyd nice met haar ma. Nee, sy is op haar eie. Maar wat gaan sy doen as hy… In die nag skrik Katie wakker.

SY LÊ doodstil om fyn te luister wat haar wakker gemaak het. Amper geluidloos word haar kamerdeur oopgestoot. Verligting spoel oor haar toe sy besef dis ant Mary.

Haar hand soek-soek na die skakelaar van die bedlampie toe sy sien ant Mary kom stadig aangestap.

Voordat Katie iets kan sê of haar vingers die ligskakelaar kry, buk die figuur oor haar.

“Katie, my meisie, jy is so mooi, so rein…” hoor sy uncle Leon sê.

Toe klik die bedlampie aan. Uncle Leon staan vinnig regop.

Dis die lang kamerjas wat hom soos ’n vrou in die donker laat lyk het, besef sy. ­Hy hou ’n pakkie na haar uit. “Ek het hierdie geskenkie vir jou gekoop,” fluister hy.

Hy sit dit op die bedkassie. “Nag, my meisie. Môre vat ons die pad berg toe.

“Ek hoop jy sien ook baie daarna uit, net soos ek. Soete drome.”

Katie lê snaarstyf totdat die deur agter hom toegaan. Sy vee met een haal die pakkie van die kassie af en trek haar kop toe.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters