9 dae gelede
Katie is desperaat om uit uncle Leon se kloue te kom
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Donker Geheim is Esme Cupido se jongste skryfstuk. Geniet die vyfde hoofstuk!

DIE skril geluid van ’n selfoon klink skielik op. Uncle Leon pluk vererg die foon uit sy jacket se sak en kyk op die verligte skerm.

“Hallo,” sê hy geïrriteerd en luister met ’n frons. Hy draai om en trommel met sy vingers teen die deur.

“Maar ek het…”

Katie gryp haar kamerjas van die reëling af en gord dit vinnig om haar nat lyf vas. “Ek het net gou iets by die huis kom haal.

“Julle hoef nie vir my te wag nie,” sê hy kwaad. “Laat Lucinda die sop warm maak en dan kan julle dit uitdeel. Het Jacques se ma die brood gestuur?”

Katie druk vinnig verby hom.

Hy gryp na haar, maar sy storm kamer toe en druk die deur agter haar toe. Koorsagtig soek sy na iets om die deur van binne toe te hou, want die deur het nie ’n sleutel nie. Die spieëlkas!

Desperaat druk sy met ál haar krag die swaar, outydse kas tot voor die deur.

“Ek sê mos ek kom nou,” weerklink sy stem bars in die gang.

Gou maak. Holderstebolder ruk sy die sweetpak van ’n stoel af wat sy die volgende dag wil aantrek en trek haar jacket bo-oor aan.

“Katie, my meisie. Waar kruip jy weg?” hoor sy sy speelse stem.

Hy draai aan die deurknop.

“Moenie tyd mors nie, meisiekind. Maak oop die deur!”

“Gaan weg!” skree sy benoud.

“Ek… ek gaan my ma vertel.”

Sy lag klink soos iets uit ’n scary fliek. “Jy is kostelik. Jy weet mos jou ma gaan jou nie glo nie.

“Onthou dis jý wat die stout een is. En sy hou dan so baie van die gawe ou Leon.

“‘Net jou verbeelding.’ Ja, dit is wat sy vir jou gaan sê.”

Sy stem word ernstig. “Toe, maak oop. Ek moet terug by die kerk kom.”

Katie staar beangs na die deur.

Hy sal maklik die deur kan oopkry.

Die venster! Sy skuif die gordyn weg, maar sy weet reeds met ’n siek gevoel dat daar diefwering voor is.

Sy maak die venster haastig oop en ’n stroom koue lug waai in.

“Help! Iemand help my!” gil sy wanhopig. Met een swaai is die deur oop. “Wat de…”

Hy is by haar. Sy hande stink na uie toe hy haar mond en neus verdwerg met sy groot hande. Sy ander hand druk haar teen hom vas.

Sy knipper haar oë teen die warm trane wat oor haar wange loop. “Moenie huil nie, Katie, my meisie,” fluister hy teen haar oor.

Sy hand versmoor haar dat sy sagte kermgeluidjies maak. Hy draai haar om na hom sonder om sy hand van haar mond weg te neem.

“Belowe my jy gaan nie weer ’n geraas maak nie.”

Sy knik betraand en hy haal sy hand weg. “So ja, my groot meisie.”

Hy druk haar tot op die bed.

“Moenie bang wees nie,” sê hy toe hy sy trui en hemp uittrek.

“Uncle Leon sal saggies werk.”

Hy vou eers sy hemp en toe sy trui op en hang dit oor ’n stoel.

Die oplig en steek met die knipmes is een beweging. Hy gryp na sy arm waaruit die bloed vrylik loop en sy oë spoeg vuur toe hy na haar kyk.

“Jou klein gek!” Sy stem is skor van die pyn.

Maar sy wag nie vir sy reaksie nie. Sy hardloop by die deur uit, straat-af. Weg van die monster. Haar asem jaag in haar keel.

Twee blokke verder onder ’n groot boom gaan sy skuil, die bebloede knipmes steeds in haar hand geklem. Wat nou? dink sy vervaard. Waarheen moet sy gaan?

Sy kyk straat-op en sien die ligte van ’n voertuig aankom.

Sy het nie die hond by die hek sien uitkom nie. Hy grom afwagtend, sy oë op haar, gereed om te storm as sy die geringste beweging maak. Nie dit ook nie!

Sy weet nie vir wie sy op die oomblik die bangste is nie – vir die hond of uncle Leon.

Die oomblik toe die bakkie verby dreun, besef sy twee dinge – dis uncle Leon se bakkie en die hond pyl op haar af.

Sy het laas boom geklim toe sy in die kleuterskool was, maar met een sprong sit sy in die mik van die boom. Die hond blaf verwoed onder die boom.

“Duiwel! Kom hie’so. Magtig, wie het die hek laat ooplê?”

Eers nadat alles stil is, klim sy versigtig uit die boom en stap huis toe.

Sy weet uncle Leon is terug by die kerk, want hy moet ant Mary terugbring.

Sy spoel haar gesig af, ruim die badkamer op en gaan lê oop oë in haar donker kamer.

Dis eers toe sy die bakkie in die oprit en ant Mary se stem hoor, dat sy omdraai en aan die slaap raak.

Die volgende oggend toe ant Mary om die deur loer om haar wakker te maak, sit sy al aangetrek. “Nou toe nou. Haastig vir die huis, nè?” sê sy en lag.

“Kom, ek maak gou koffie.”

Sy sit en drink koffie by die kombuistafel toe uncle Leon instap.

Hy het ’n dik jacket aan, maar sy kan sien hy beweeg die arm maar min. Hy ignoreer haar, maar dit pas haar perfek.

Toe sy later veilig in die taxi sit, sien sy die twee figure langs mekaar staan. Ant Mary waai en roep vir oulaas: “Stuur groete vir jou ma.”

Uncle Leon kom nader gestap tot by die venster.

Deur die oop deur hoor sy hom spottend sê: “Tot ’n volgende keer, Katie, my meisie.”

Die aand toe Katie en haar ma snoesig onder ’n kombers voor die TV sit, vertel sy alles vir haar ma.

Haar ma luister stil en sê nie ’n woord totdat sy klaar vertel het nie.

“Ek was so bang, Mammie. Hy het heeltyd gesê dis ons geheim.

“Maar ek het gedink aan wat ant Mary gesê het toe Mammie ook in so ’n situasie was.”

“Mammie het nie met Mammie laat mors nie,” sluit Katie haar vertelling af.

Sy begin huil en haar ma slaan haar arms om Katie.

“Die bliksem! Vuil gemors! Ek sal sy nek kaalhand omdraai as ek hom nou in die hande kry.

“Ek het in elk geval niks van die ding gehou nie, maar ter wille van Mary…”

Haar ma bly ’n oomblik stil. “Ons moet ant Mary vertel.”

Terwyl haar ma met ant Mary praat, gaan maak Katie vir hulle koffie. Sy hoor haar ma se woedende stem toe sy van uncle Leon vertel.

Haar ma is ’n lang ruk stil terwyl sy na ant Mary se stem luister toe Katie met die koffie in die voor­kamer kom.

“Dis goed so, Sussa. Jy kan vir ’n ruk na ons toe kom.”

Nadat haar ma die gesprek beëindig het, byt sy haar lip vas.

“Vanoggend het die ma van ’n meisie met die naam Michelle ’n saak by die polisie teen uncle Leon gaan lê. Verkragting,” sê sy.

“Daar is blykbaar nog meisies wat aan die jeuggroep behoort het wat ook na vore gaan kom. Ant Mary is in ’n toestand, veral oor jou.

“Maar sy sê sy het dit vermoed, maar het nie bewyse gehad nie.

“As daai jong iets aan jou moes gedoen het… ek sweer…” sê haar ma en bal haar vuis.

Haar ma druk haar styf teen haar vas. “Hy kry nou wat hy verdien.

  • “Mans soos hy wat jong meisies se lewe verwoes, moet saam met honger leeus opgesluit word.”Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters