17 dae gelede
Kate kry meer as koffie terwyl sy by ’n vriendin oorbly
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Geniet nou die laaste hoofstuk van “Broederliefde” deur GWENDOLINE KORDOM.

‘HOE gaan dit met jou, Kate? Cope jy?”

Kate staar deur die venster voordat sy antwoord: “Dit gaan seker oukei.”

Jennie Voster staar ingedagte na die mooi swartkopvrou oorkant haar. Tussen hulle trek stoom uit twee wit koppies. Deur die oop venster speel die son se strale oor Kate se bleek gesig. Kate het in ’n week se tyd in ’n geraamte verander.

Hoe dan anders? Sy het haar man op die wreedste manier verloor. Die egpaar was ’n skamele twee jaar getroud toe die kaping plaasvind.

“Is die ouens al gevang?” vra Jennie onseker.

“Nee,” antwoord Kate. Sy wens Jennie kan ophou met haar vrae.

“Ai, Kate, ek wens die lafaards beland op ’n manier in die tjoekie. Hul soort hoort nie in die same­lewing nie.

“Jou man het dít nie verdien nie. Charles was ’n liewe mens. Wanneer ’n mens rondom jou kyk, besef jy al hoe meer hoe die regstelsel ons mense faal. Deesdae kom misdadigers letterlik met moord weg!”

Kate skuif die vol koppie koffie agteruit en kom dan op haar voete.

“Dankie vir die koffie, Jennie, maar ek gaan ’n bietjie skuinslê.”

“Jy’t skaars daaraan geraak.”

“Ek wou uit die kamer kom en ’n koppie koffie deel voordat jy dink ek het selfmoordplanne. Op die oomblik het ek ruimte nodig. Dalk hoop? Nou sit en klets jy oor Charles se dood en bestook my met vrae.”

“Kate, ek het dit nie so bedoel nie,” sê Jennie boetvaardig.

“Ek weet, vriendin. Ek raak net moeg as mense heeltyd vra of ek oukei is. Ek het gisteraand hier aangekom. Lyk ek oukei?”

Kate wag nie op ’n antwoord nie. “Nee, ek is nie. Ek wil myself voor ’n trein ingooi of ’n handvol pille sluk. Enige iets om weer saam met Charles te wees.”

Haar laaste woorde eindig in ’n snik. Kate plons terug op die stoel.

“Hoekom moes die Here hom wegneem? Hoekom moes ek juis daardie aand werk? Hoekom moet ek ander se lewe red terwyl my man vir syne veg? As ek by hom was, kon ek hom dalk gered het.”

Jennie streel oor Kate se arm. “Ek wens ek kon jou pyn verlig, Kate, maar ek kan nie. Dinge gebeur soms om ’n rede. Wie sê jou lewe sou gespaar word? En watter kans sou jy teen daardie drie skurke hê? Hulle is gewetenlose monsters.

“Troos jou daaraan dat Charles op ’n beter plek is. Weg uit hierdie wêreld en sy wreedheid.”

Kate se oë verhard. “Dis nie die wêreld wat wreed is nie; dis die mensdom. Soms wens ek daar was iets wat ek kon doen.”

“Iets soos wat, Kate?”

Kate haal haar skouers op en kyk by die venster uit.

“Wanneer is jou verlof verby?”

“Ek gaan nie terug nie. Ek is klaar met verpleging.”

“Jy is nie ernstig nie, Kate. Jy is een van die beste verpleegsters in die trauma-eenheid. Hoe kan jy dit sommer net so los?”

“My lewe sal nooit weer dieselfde wees nie, Jennie. Wat is die doel daarvan om te leef terwyl die helfte van my bestaan weggeruk is? Ek vind geen genot meer in hierdie lewe nie. Ek moet hier weg. Hier is te veel herinneringe.”

“Het jy al daaraan gedink om vir berading te gaan, Kate?”

“Kry ons nie reeds te veel daarvan nie?” vra Kate droog. “Totdat so iets met jou gebeur, het jy nie ’n idee waardeur ek gaan nie. Charles was my hele bestaan.”

Kate se laaste woorde word ? pleidooi: “Wees net daar vir my, vriendin.”

Jennie sug hardop en vee ’n paar suikerkorrels van die tafel af.

“Kan ek vir ons vars koffie maak? Ek dink hierdie is al koud,” sê Jennie en lig haar uit die stoel.

“Dit sal lekker wees, dankie.”

Haar arme vriendin kry swaar. En sy, met haar groot mond, het byna alles vererger.

Sy en Kate kom al jare aan. Saam gematrikuleer en saam by die verpleegkollege geswot. Kate werk in die trauma-eenheid en sy in die Tygerberg-hospitaal se vrouesaal.

Sy was daar toe Kate haar ouers in ’n motorongeluk verloor het.

Sy het in haar blydskap gedeel toe Charles haar in die hospitaal se gange raaksien. Charles met sy seunsglimlag en sonnige geaardheid. Sy was ook hoofstrooimeisie op Kate en Charles se troue.

Nou is hy weg en Kate stoksiel­alleen in daardie kasarm in Soneike.

Jennie se hande beweeg outomaties terwyl haar gedagtes voortspook. Die geklop aan die voordeur laat die vroue verskrik na mekaar kyk. “Wag jy hier, ek sal gaan kyk,” sê Jennie.

Kate luister gespanne na naderende voetstappe.

Toe Jennie met twee mans agter haar verskyn, beweeg Kate outomaties agteruit. Haar oë vernou toe sy die skraal een herken.

“Jy! Jennie, bel die polisie,” sê Kate met pieringoë.

“Wag eers, Kate. Hulle wil met jou gesels. Hy sê hy kom in vrede.

Gaan julle drie na die voorvertrek; ek maak koffie,” sê Jennie.

Verdwaas volg Kate die twee tot in die sitkamer. Nadat elkeen ’n sitplek ingeneem het, staar Kate agterdogtig na hulle. Dalk is dit die vertrek of dalk is dit die ander man se intense kyk, maar Kate voel kriewelrig.

Brent kyk na Kate voordat hy begin: “My naam is Brent Michaels.

“Ek het byna twee jaar op straat gelewe. Die ou hier langs my is my ouer broer, Ruan.

“Godvresende ouers het ons grootgemaak.

“Ons pa is die pastoor van die Ligtoring Kerk.

“Ek was 16 toe ek met dwelms begin eksperimenteer het.

“Toe my ouers daarvan uitvind, het hulle my uit die huis geskop. Ruan was toe al in die army.

“Ruan het my gevra om die regte ding te doen. Jou man was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Ek is werklik jammer oor sy dood.”

Brent laat sak sy kop toe hy sien hoe Kate se oë vol trane skiet.

“Ek moes seker iets gedoen het, maar niks sou Rudy keer om hom te vermoor nie. Al wat ek nou kan doen, is my samewerking gee en die prys betaal. Die ander twee ouens is nie meer hier om te boet vir hul dade nie. Albei het vanaand in ? mislukte rooftog omgekom en Rudy sal jou nooit weer pla nie.”

Kate wens sy het geen bejammering vir Brent gevoel nie.

Ruan het op sy voete gekom. “Kate, ons ken mekaar nie, maar ek ken my broer en weet hy het dit nie in hom om iemand anders leed aan te doen nie. Hy was ? slagoffer van sy omstandighede.

“Dalk moet hy boet vir sy aandeel sodat hy weet om nooit weer by sulke dinge betrokke te raak nie.

“Of dalk kan dit vir hom ’n nuwe begin wees. Die besluit rus in jou hande, maar ek pleit namens Brent vir ’n tweede kans. As jy nie kans sien nie, vat ek hom self polisie toe.”

Kate staar lank na Brent. “Jy is gelukkig om iemand soos Ruan in jou lewe te hê. Dalk kan ons almal opnuut begin en aanbeweeg. Ek sal jou nie laat vervolg nie, Brent.”

Brent se oë vul met trane. “Dankie, Kate. Baie dankie.”

Dan kyk Brent na Ruan en glimlag. Die Here was weer so goed vir hom. Hy het Ruan teruggestuur. Was dit nie vir sy broer nie ...

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters