6 dae gelede
Judge Heynes en sy seun kry die skok van hul lewe
Oom Sonnie  ~ 

HALLO, Sonlanders!

Met Joy-Lynn wat haar eie lewe geneem het, voel Jenna en Emma ál opsie wat oorbly, is om regter Heynes en Damian, sy seun, aan die confess te kry. Hul plan is dat Johnny hom as ’n kerkbroer moet voordoen en die regter se gebedsessie by sy huis moet join. Johnny is skepties oor dié plan en wie kan die oud-bandiet blame? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van Die Nommer deur EL­DRIDGE JASON.

JOHNNY is heel op sy nerves en wat-wat toe hy aan regter Heynes se voordeur klop.

Emma en Jenna het hom daarvan verseker dat die judge se sekuriteitspersoneel nie aan diens is as hy gebedsessies daar hou nie, maar dié nuus het hom nie juis gerusgestel nie.

Hy moet pretend om ’n brother te wees, ’n kerkbroer wat die ins en outs van die Bybel ken.

Maar hy het kleintyd al Sondag­skool gebunk en ken seker net die Bybelverhaal van die vyf brode en sewe vissies. Of was dit nou agt brode en 99 vissies?

Jissis, hy het altyd gewonder hoekom die mense nie maar destyds Sasko toe of fisheries toe gegaan het nie. En nou sal hy daai storie wat hy nie eens meer lekker kan onthou nie, as lokaas moet gebruik om die judge te oortuig hy is legit.

En verder laat die pak klere wat Emma en Jenna hom laat aantrek het, hom verskriklik ongemaklik voel. Dit voel of hy op pad is na iemand se funeral. Hopelik nie sy eie nie ...

Hy klop weer aan die voordeur. Doodse stilte. Johnny voel verlig hieroor en is net aan’t omdraai toe die deur oopswaai. Hy kyk vas in die vraende blik van ’n ouerige man wat vaagweg bekend lyk.

Dan val dit hom by: Regter Heynes. Die man wat hom destyds tronk toe gepos het en wat nou so oud soos die berge lyk. Twee bergreekse.

“Kan ek help?” vra die judge kortaf. “Ek stel nie belang in enige AmaKhosi4Life funeral plan wat jy verkoop nie.”

Vir ’n oomblik wonder Johnny waarvan die judge praat, maar besef dan as hy nóg langer as ’n standbeeld hier gaan staan, gaan die regter die deur toemaak.

“Ek ... ek groet u in die wonderlike, soete naam van ons Heer.

“Daar is net één naam, één lelie van die dale. Want al gaan ek ook deur ’n dal van doodskiste ...”

“Doodskaduwee,” val die regter hom in die rede. Johnny worry nie dat hy gekorrigeer word nie, hy is net bly dat die voordeur al wyer oopgaan.

“Hy’t my deurgedra, deurgedra deur ál die storms van die lewe, het hy my deurgedra.”

Johnny sê die woorde van ’n koortjie wat hy baie male gehoor het bekeerde bandiete sing. Die voordeur gaan nóg wyer oop.

“Ons praat nou juis van ’n teken wat ons moet kry oor die kruise wat ons in die lewe moet dra,” sê regter Heynes. “Asseblief, kom gerus binne. Kom sluit asseblief by ons aan.”

Dit is met heelwat verbasing dat Johnny die huis binnestap. Wil jy nou meer, dink hy. Hy kan tot diep binne ’n koortjie lieg!

Emma en Jenna is nét so verbaas toe hulle vanuit die kar sien hoe Johnny die huis binnegaan.

“Uhhh ... ek het nie hierdie expect nie,” sê Emma oorbluf. “Nie in ’n honderd jaar nie.”

Jenna lag. “Jou pa het skills. Jy kan nie stry nie. Kom ons hou nou duim vas dat die recording device wat hy het, werk.”

Regter Heynes loop al heel krom van oud wees en stap stadig voor Johnny.

’n Moedswillige gees kom by Johnny op. As hy die judge nou net vasgryp en teen ’n muur vasslinger, dan is dit game over vir die ou man. Hemel toe gaan hy mos anyway nie. Maar hy bedink hom. Die binnekant van die tronk wil hy nie weer sien nie. Nooit weer nie!

Ná wat soos ’n ewigheid en ’n half voel, lei die regter Johnny ’n groot vertrek binne. Hy sien dadelik die vyf ander wat in ’n halfmaanformasie op stoele sit. Een van hulle vlieg op. Johnny herken dadelik Damian Heynes – die ware killer vir wie se sonde hy moes gaan mang het.

“En nou, Daddy?” vra Damian.

Johnny kom agter dat hy baie nervous is.

“Ons het ’n spreker. Gaan sit, Damian,” antwoord regter Heynes streng.

“Maar Daddy, hierdie is–”

“Ek sê mos jy moet gaan sit,” val regter Heynes sy seun geïrriteerd in die rede.

“Jy hoef nie vir my te vertel wie hierdie is nie. Ek weet presies wie hy is.”

’n Yskoue gevoel spoel oor Johnny. Maar hoe? Die judge is dan so stokoud, maar clearly skort daar niks met sy geheue nie.

Regter Heynes draai na Johnny.

“Hierdie is ons sign. Die teken dat daar hoop vir ál ons sondaars is. Ek het nou met hierdie man buite gesels en dadelik besef dat hy vir ’n doel na ons gestuur is.

“Agter elkeen van die tattoos op sy gesig, is daar ’n les én boodskap vir ons.”

Johnny slaak ’n sug van verligting. Die hoop is darem nog nie skaam vir hom nie. Voordat enige iemand anders kapsie kan aan­teken, slaan Johnny sy Bybel oop. Sommer enige plek en begin hardop te lees.

“Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.”

Johnny slaan die Bybel weer toe en loer na die groepie voor hom.

“Ek dink daai wat ek nou gelees het, is drukfoute, ’cos why die wraak kom my wel toe.

“Ek is tronk toe sonder enige spykertjappies op my lyf en kyk nou na my: ’n Gesig wat net ’n ma lief voor kan wees.

“Vir 20 jaar het ek gaan mang vir ’n ander man se sondes. ’n Ander man wat ’n siek ding vir klein laities gehad het, en wie se pa seker gemaak het sy kind gaan nie voor mang nie. ’n Ander man wie hierdie kind vermoor, in ’n sloot gedump en toe na sy derra toe gehardloop het om iemand anders te frame.

“So, hoekom kan wraak my dan nie toekom nie?”

Johnny sien hoe die bloed uit Damian se gesig dreineer. Regter Heynes kyk hom ook geskok aan. Johnny draai na hom.

“Is hierdie die sign waarvoor jy gebid het, judge? Die sign dat jul uurglas leeggeloop het?

“Die waarheid seëvier altyd, dan nie? Sê die Bybel dan ook nie dat die waarheid jou vry sal maak nie?”

Dit lyk of die regter enige oomblik flou gaan omkap. Johnny draai na die res van die groep.

“Ek is hier vir die waarheid. En ek sal graag wil hê dat in die teenwoordigheid van julle almal en van God, regter Heynes en sy seun julle vertel van die dag toe hulle my lewe verwoes het. Die waarheid wil nóú gehoor word.”

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters