9 dae gelede
Joy-Lynn het nie ’n clue wie Johnny is toe hy opdaag
Oom Sonnie  ~ 

HALLO, Sonlanders! Johnny, Emma en Jenna agtervolg vir Joy-Lynn Coenraad. Sy is die mammie van die kind vir wie se moord Johnny geframe is. Joy-Lynn werk vir die regter wat Johnny vir lank tronk toe gepos het. Die drie besef dat dit moeilik gaan wees om by haar uit te kom in die password-beheerde kompleks waar sy bly. Maar Johnny se geduld is op en hy besluit om sonder ’n plan na die kompleks te gaan. Geniet nou hoofstuk 6 van Die Nommer deur EL­DRIDGE JASON.

NIE Jenna of Emma wil dit waag om asem te haal terwyl hulle angstig dophou hoe Johnny in die pad af stap nie.

Hulle weet nie wat hy beplan nie, maar wat hulle wel weet, is dat hy wat Johnny is, ’n loskop is. Daai shoot first, ask questions later-tipe. Eintlik die soort wat nie nog bodder om later vrae te vra nie.

“Hy gaan alles opmors,” sê Emma in ’n fluisterstem. “Ek sal nie my ma se laaste wens kan nakom nie.”

“Moenie worry nie,” probeer Jenna haar paai. “As die rook begin draai, dan ry ons weg.

“Jy het mos probeer. As jou pa nou weer in die tronk gaan beland, dan is dit nie jou skuld nie.”

“Bloed maak hom nie my pa nie,” kap Emma astrant terug. “Jy sien dan hoe domastrant hy is.”

Jenna lag. “Relax, Ems. Dis glad nie nodig om jouself so op te werk nie. Hoe meer jy anyway try stry, hoe meer remind jy my aan hom.

“Bloed is dikker as water. Johnny Vengeance se bloed vloei deur jou are. Of jy dit nou likes, of nie.”

Emma blaas haar asem gefrustreerd uit. “Kom ons hoop net hy gebruik sy verstand,” antwoord sy stram.

Toe Johnny by die sekuriteitshek kom waaragter Joy-Lynn minute gelede verdwyn het, begin hy self twyfel.

Hy het nie ’n plan nie. Dis ’n groot probleem vir hom. Wraak kan jou net so ver vat.

Wraak beteken niks as jy soos ’n afkophoender voor ander mense se hek staan nie.

Maar hy is nou hier. Omdraai is nie ’n opsie nie. Hy ken homself – rus gaan hy nie rus voordat die regter, Joy-Lynn en wie ook al hom laat mang het, boet vir hul daad nie.

Hy het hulle niks gemaak nie. Hoekom dan sý lewe verwoes? Oor hy ’n nobody is? Iemand met die gevreet van ’n kroek wie se skuld niemand sal bevraagteken nie?

Hy sien die paneel langs die deur. Instinktief druk hy die eerste vyf digits. 1,2,3,4,5 ...

Tot sy groot verbasing, maak die deur ’n kliekgeluid en pop dan effe oop. Johnny staan ’n oomblik geskok. Wie sou kon raai? dink hy terwyl hy in verwondering staan.

Bang dat die deur weer sal toeklap, stoot hy dit oop en stap na binne.

Die eerste ding wat hy opmerk, is die swembad aan sy linkerkant.

Dan, toe hy opkyk, sien hy ’n ouerige man op die stoep sit, sigaar in die mond.

In die stoeplig sien hy die man kaalbolyf sit met net ’n handdoek om die lyf, en ’n glas in die hand.

“Can I help you?” vra die man agterdogtig. Johnny stap sonder ’n woord nader.

“My cousin ... Joy ... I just missed­ her,” sê hy in sy mooiste Engels wat hy op TV in die mang geleer het.

Die man trek sy oë op skrefies. Duidelik nie impressed met al die tjappies in Johnny se gesig nie.

Hy vat eers ’n diep sluk van sy drankie, suig aan sy sigaar en nadat hy die rook behaaglik uitgeblaas het, staan hy op.

“Joy-Lynn knows the rules: No strange faces. This is the last time. I think I should re-advertise room eleven.”

Die man gee Johnny ’n laaste vuil kyk en stap dan die huis binne.

Jou moer, man, dink Johnny, maar is diep verlig. Meneer Kaalbolyf, die handdoek-lover, was meer behulpsaam as wat hy besef.

Danksy hom, weet hy nou sommer ook wat Joy-Lynn se kamernommer is.

Hy merk ’n gang op wat na binne lei en mik daarheen. Daar is geen waarborg dat Meneer Kaalbolyf nie sal terugkeer nie, so hy beter wikkel.

Toe hy in die gang af stap, sien hy ’n kombuisie aan sy linkerkant.

’n Paartjie, met hul rûe na hom gekeer, is besig om te kook. Hulle is egter meer besig om vatterig te raak as om te kook. Of selfs note van hom te vat.

Hy smile toe hy verder aanstap. By deur nommer 11 gekom, klop hy ’n paar keer.

Hy hoor bed­springs raas, voetstappe wat nader beweeg en dan gaan die deur op ’n skrefie oop. Haastig stoot hy dit oop.

Joy-Lynn Coenraad tree verskrik agteruit. Haar oë is pieringgroot.

“I ... I don’t have any money,” stamel sy.

“Jou money se gat,” antwoord Johnny kras en beduie aan haar om op haar bed te gaan sit.

“B*tch, kan jy sing?”

Joy-Lynn gaap hom oorbluf aan. Sy het duidelik nie ’n clue waarvan Johnny praat nie.

“Kan jy sing?” herhaal Johnny sy vraag.

“Nie eintlik nie,” antwoord Joy-Lynn verskrik.

“Maar wat het dit–”

“Mooi,” val Johnny haar in die rede. “’Cos why vanaand gaan jy sing soos g’n Idol al ooit gesing het nie. En as jy weet wat goed is vir jou ...”

Johnny laat sy woorde doelbewus in die lug hang.

“Weet jy wie ek is?” vra hy dan aan die verskrikte vrou.

“Het jy dan amnesia?” probeer Joy-Lynn haar sterkgesig hou. Sy blyk oor haar aanvanklike skok gekom het.

Johnny is binne ’n paar tree by die bed.

Hy pluk haar onseremonieel op en slaan haar dan met die agterkant van die hand deur die gesig.

Hy verslap sy greep om haar arm en Joy-Lynn plons terug op die bed.

“Hierdie is ’n matter of life and death, verstaan jy my?”

Joy-Lynn knik, terwyl sy haar hand op haar gesig lê waar Johnny se kneukels nog duidelik sit.

“Ons gaan nie nou worry oor GBV nie.

“Manfred Heynes, die judge. Jy werk vir hom?”

Al reaksie wat hy van Joy-Lynn kry, is ’n kopknik.

“Nou hoe is dit dan so dat jy werk vir die man wat jou kind se hofsaak gehandle het?

“En dink baie mooi oor jou antwoord, want as ek nie likes wat jy sê nie ...

“Daar is nog baie klappe op die menu, especially for you, soos wat Kylie Minogue gesing het.”

“Dit was my reward,” prewel Joy-Lynn. “Ek moes iemand anders die skuld gee vir my kind se dood. Die killer ... hy is baie na aan die judge ...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters