8 dae gelede
Joy-Lynn doen iets aakligs – reg voor Johnny se oë
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Johnny slaag daarin om Joy-Lynn se kompleks binne te sluip. Hy konfronteer haar in haar kamer en Joy-Lynn kom dan met die hele sak patats na vore: Hy wat Johnny is, is geframe om iemand na aan regter Heynes te beskerm. Maar wie kan dit wees? Geniet nou hoofstuk 7 van Die Nommer deur EL­DRIDGE JASON.

TERWYL die trane oor Joy-Lynn Coenraad se wange rol, voel Johnny vere vir haar.

Hy het oor die jare baie ouens in die tronk sien huil en na hul ma’s hoor roep.

Joy-Lynn se trane laat hom koud. Dis die trane van ’n bedrieër. Van iemand wat hom vir ’n job in die tronk laat krepeer het.

“Jy kan maar jou trane afdroog. Dit doen f*kk*l vir my nie,” sê Johnny gevoelloos.

“Het jy gedink jy kan my vir moord laat frame en daarmee wegkom?”

Dan sien hy die gebruikte tik­lollie op die bedkassie lê.

“En dan tjoef jy nog lekker jou lewe ook weg, terwyl ek gecrucify is vir iets wat ek nie gedoen het nie. As jy ’n vel oor jou gesig gehad het, sou jy jou geskaam het. Maar daai vel het jy seker ook mos al weggetik.”

Joy-Lynn gluur hom aan. Die haat kook in haar oë.

“Ek het die gemeenskap ’n guns gedoen. Die judge ... die judge het gesê jy is anyway ’n gemors wat gebêre moet word. Dis net jammer die doodstraf is uit, want dan het jy nie nou hier gestaan nie.”

Johnny bal sy vuiste totdat sy kneukels wit vertoon. Hy moet ál sy wilskrag inspan om Joy-Lynn nie met sy vuiste by te dam nie.

Hy wil die smile van haar gesig afskeur, haar die pyn laat voel wat hy agter tralies moes deurmaak. Maar hy hou hom in. Dié goose mag ’n tikkop wees, maar hy smaak nie om vir life te gaan mang oor haar nie.

“So, wie het jou seun vermoor?” vra hy nadat hy eers ’n hele paar keer tot by 10 getel het.

“Jy sê dit was iemand na aan die judge? Praat, b*tch. Praat, of ek draai jou nek morsaf.”

Joy-Lynn se vroeëre bravade verdwyn toe sy die woede in Johnny se oë sien broei. Sy kan sien dat hy elke liewe woord bedoel – dat hy nie sal huiwer om die lewe uit haar te pers nie ...

Johnny kom dreigend vorentoe gestap. Joy-Lynn Coenraad val verskrik agteroor op die bed en hou haar hande beskermend voor haar.

“Asseblief, asseblief,” pleit sy vreesbevange. Dit ... dit was ’n ongeluk. Hy het nie bedoel om Jayden seer te maak nie.

“Maar toe Jayden dreig om vir sy skooljuffrou te vertel, toe panic hy.”

“Van wie praat jy? Jy beter vir my die hele storie vertel,” sis Johnny.

“Damian,” prewel Joy-Lynn. “Damian Heynes, die judge se seun. Hy ...”

“My goeie f*k!” val Johnny haar kwaad in die rede.

“Wil jy vir my sê jy’t jou seun ... verkoop aan ’n perv?! Verstaan ek jou reg?!”

Joy-Lynn knik en laat sak dan sy kop.

“Jy sal nie verstaan nie,” prewel sy. “Die lewe is hard vir ’n single parent. Jayden se mense het reguit gesê ek moet my kind se pa loop soek. Hulle het niks vir Jayden gegee nie. Niks nie! Nie eens ’n kimbie se geld nie en toe ek eendag vir Damian raakloop en hy so vriendelik met Jayden is ...

“Ek het nie geweet hy gaan dit aan my kind doen nie,” snik sy.

Johnny is buite homself van woede. “Jy is ’n sorry excuse vir ’n ma,” spoeg hy die woorde uit.

“Jy het nie ’n verskoning nie. Daar is baie single ma’s wat nie dít aan hul kinders sal doen nie. Hoekom het jy nie liewers jouself verkoop nie, my got!”

Joy-Lynn kyk op. “Dink jy regtig ek het nie dit al probeer nie?”

Sy lig haar bloese op. Johnny sien die scars van snymerke wat van haar borste tot by haar naeltjie strek.”

“Jayden was nog ’n baby toe ek in Voortrekkerweg gaan staan het. Hierdie is die handewerk van ’n dronk jong wat my met ’n stukkende bierbottel aangeval het. Ek was amper dood.”

“Mag hy jou maar vrek gemaak het,” sis Johnny ongevoelig. “Dan het Jayden nog geleef en was ek nie in die tronk vir jou siek sondes nie.”

Hy beweeg vorentoe en kry haar aan die arm beet.

“Kom, jy gaan saam my na die judge­ se huis toe.

“Ons gaan vanaand nog hierdie ding uitklaar. Hy, daai siek etter-klong van hom én jy gaan tronk toe.

“Die wêreld ’n beter plek sonder iemand soos ek? Girl, ek het nie eens die helfte van die sondes gepleeg wat julle commit het nie!”

Johnny is verbaas oor die krag wat in Joy-Lynn se tenger lyfie skuil toe sy haarself uit sy greep losruk. Voordat hy kan reageer, gryp sy die tiklollie op die bedkassie, kap die pypie effe stukkend en steek haarself deur die slagaar.

Bloed spat in alle rigtings. Joy-Lynn val terug teen die bed, terwyl die bloed die beddegoed vinnig rooi bevlek. Sy maak sulke aardige roggelgeluide terwyl haar liggaam aan die ruk gaan.

Dan raak sy stil en haar oë staar dof na die plafon.

Johnny beweeg deur se kant toe. Hy moet hier weg, dink hy paniekerig. Voordat die mense hom wéér wil frame vir iets wat hy nie gedoen het nie.

Hy maak haastig die deur agter hom toe en drafstap die gang af.

Die spulse paartjie is steeds aan’t vroetel in die kombuis. Die man draai om toe Johnny verby hulle stap, en loer nuuskierig na hom. Sy hart klop woes toe hy verby hulle stap. Die sekuriteitshek kan nie gou genoeg nader kom nie. Tot sy verligting, hoef hy nie van die binnekant ’n wagwoord in te punch nie.

Agter hom hoor hy ’n commo­tion. Deure wat oop- en toeklap. ’n Gil van ’n vrou wat in die donker aand weergalm. Blitsig maak hy die deur agter hom toe en nael na waar Jenna en Emma se kar geparkeer staan.

Toe hy uitasem in die kar klim, gil hy: “Ry! F*kk*n ry!”

Net een kyk na Johnny, en Jenna besef daar is groot fout. Met bewende hande skakel sy die voertuig aan en trek dan met skreeuende tyres weg in die rigting van die hoofpad. Haastig draai sy in die rigting van die stad.

“Wat ... wat het gebeur?” vra Emma bekommerd. “En hoekom is jy so vol bloed?”

Johnny kyk af na sy klere en skrik toe hy sien dat hy inderdaad met Joy-Lynn se bloed bevlek is.

Oh my word,” sê Emma en hou haar hand geskok voor haar mond. “Jy’t haar doodgemaak – nes jy gesê het jy gaan doen. Dis waar wat hulle sê: Once a killer ...”

Johnny gluur haar aan en blaas dan sy asem hard uit. “Jy dink ook maar min van jou derra,” antwoord hy dan kil.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters