12 dae gelede
Johnny se geduld raak op met hoe hul plan uitwerk
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Johnny is geskok om te hoor Emma is die dogter van wie hy nooit geweet het nie. Ook dat dit haar ma se laaste wens was dat Emma hom moet help om sy onskuld te bewys. Jenna en Emma deel hom ook mee dat die ma van die klonkie van wie se moord hy dekades gelede skuldig bevind is, nou vir die judge werk wat hom lank tronk toe gepos het. Hy kan nie anders as om ’n rot te ruik nie. Geniet nou hoofstuk 5 van Die Nommer deur EL­DRIDGE JASON.

DIE drie sit en bibber in die kar. Hulle is op ’n stake-out.Johnny sou egter nou wát wou gee om met ’n groot stuk steak te gesit het.

Jenna het vroeër vir hulle take-aways gekoop, maar daai gemorskos het niks gemaak om sy honger te stil nie.

Wat hom betref, is daar min verskil tussen gemorskos en tronk-kos. Albei het maar bitter min liefde in.

Hulle staan nie ver geparkeer van ’n posh huis in een van die stad se lavish woonbuurte nie.

Dis hier waar regter Manfred Heynes bly. Die above-the-law- regter wat die law ingespan het om hom wat Johnny is vir 20 jaar tronk toe te stuur.

En nou werk Jayden Coenraad se ma vir hom? Van wanneer af skep sogenaamde justice dan werk ook?

Binne hom kook die haat en ongeduld. Hy kan nie verstaan hoekom hulle in die kar moet wag nie.

Hy wil die huis binnestorm en die regter en Joy-Lynn Coenraad aan hul kele gryp. Hy wil die joy uit daai liegbek-ma se longe druk totdat sy hom die waarheid vertel.

Maar Jenna en Emma wil niks hiervan weet nie. Als moet volgens die boek gedoen word, preek hulle nou al die hele tyd vir hom.

Hy wat Johnny is, glo nie aan boeke nie. Dis dan juis die book of law wat hom 20 jaar van sy lewe gekos het.

Dit het hom beroof van ’n geleentheid om ’n pa vir Emma te wees en om lekker huisie-huisie saam met Sandy te speel.

Sandy ... hy kan steeds nie glo sy is dood nie. Al girl in die hele wêreld wat hom ooit verstaan het en nou sal hy nooit weet hoe ’n lewe saam met haar sou wees nie.

Die hel gaan moet betaal vir alles wat hy verloor het. Hy is reg vir die duiwel en ál sy manskappe.

Hierdie stilsittery werk op sy nerves. Hy’t glad ’n poep van so sit en staar na Heynes se mansion. Maar hoe poep ’n man nou voor die twee girls?

In die mang was dit maklik; hy was immers sy seksie se main konyn. Hy kon poep soos hy wil.

“Daar kom sy nou,” sê Emma opgewonde en onderbreek sy gedagtegang.

Johnny loer nuuskierig in die rigting van regter Heynes se huis.

Hy sien die tengerige vrou met ’n groterige streepsak die trappe afstap. Pikswart doekie op die kop. ’n All-colours-of-the-rainbow bediende-voorskoot wat definitief op special by Shoprite gekoop is.

“Sy lyk dan soos ’n tikkop.”

Die woorde is uit voordat Johnny homself kan keer.

Emma gee hom ’n panga-kyk, maar Jenna sê: “Korrek. Sy was op ’n tyd rehab in en uit.

“Maar nie die staat-rehabs nie. Iemand het groot geld op haar gespend. Ek probeer nog uitvind wie.”

’n Swart, slap kar trek voor die huis op. ’n Man geklee in ’n swart pak, spierwit hemp en swart das klim uit en help Joy-Lynn om die sak in die kar se kattebak te laai.

“Dan het mêrrim nog haar eie chauffeur ook,” sê Johnny bitter.

Jenna skakel die kar aan toe Joy-Lynn-hulle wegtrek en begin om hulle versigtig te volg.

Dis besig om lekker skemer te word terwyl hulle deur die strate van Seepunt ry.

Johnny kan nie anders as om verlangend na die sekswerkers langs die pad te kyk nie. Ten spyte van die winterkoue wat lekker byt, is die meisies skraps geklee en gee beslis nie ’n man se verbeelding harde werk nie.

Hy draai terug en vang Emma se blik op hom.

“Meat is meat,” brom hy. Sy skud net haar kop.

Toe hulle Groenpunt binnery, swaai die kar voor hulle op in St. George-weg. Sowat 100 m die steil pad op, hou die kar stil.

Jenna ry verby die kar.

“Is jy mal?” gil Johnny. “Wat maak jy?”

’n Hele ent weg van waar die kar met Joy-Lynn gestop het, hou Jenna stil. Sy skakel die kar en ligte af en draai dan na Johnny.

“Ons kan nie ons game weggee nie.

“En dis nie nodig om my kop af te byt nie, my jinne.”

Jenna klik vies haar tong, skakel weer die voertuig aan en ry aan tot in High Level-weg.

Daar gekom, swaai sy vinnig om om weer af te ry in St George’s. In haar haas ry sy amper in ’n aankomende voertuig was. Dié driver se hooter weergalm in die straat. Jenna snork heel onvroulik deur haar neus en wys die ander bestuurder dan die middelvinger.

“Jy het ook f*kk*l mercy op die pad nie,” sê Johnny en grinnik.

Jenna antwoord hom nie.

Terug in St George’s ry sy tot naby die huis waar Joy-Lynn enkele minute tevore afgelaai is en skakel die kar weer af.

“Ek weet nie hoe ons in hierdie kommune gaan kom nie,” sê sy en sug. “Soos julle kan sien, moet daar ’n code by die security-hek ingepunch word.”

“Beteken dit ons planne om met Joy-Lynn te praat, het gevou?” vra Emma. Daar is ’n bekommerde frons tussen haar oë.

“Lyk my so,” antwoord Jenna en sug. “Ai, dis nou jammer.

“Joy-Lynn is die key. Ek is seker daarvan. Maar as ons haar nie kan corner nie, sit ons sonder bewyse.”

Johnny maak hard keel skoon. “Dis nou wat mens kry as jy dinge volgens die boek wil doen,” sê hy.

“Julle kan maar opgee, maar beslis nie ek nie. Een ding van die mang – dit is nie net ’n plek van slegte dite en al wat siekte is nie.

“Dis die university van street life. Daar leer jy nie net dat ‘kannie’ nie dood is nie, maar dat kannie moet dala volgens die nommer.

“Ek is nie ’n ou met ’n toll-free number nie. Die nommer ken my naam. Die nommer tel op van my tjappies en–”

“En vir wie wil jy dan nou met jou nommer bel?” val Emma hom in die rede. “Is dit nie die nommer wat gemaak het dat jy 20 jaar in die tronk sit nie? Waar was die nommer toe jy geframe is?”

“Ek ... ek ...” struikel Johnny oor sy woorde.

“Ek gaan julle wys hoe kry die nommer dinge reg,” sê hy en maak die kardeur oop. “Vanaand is die aand dat daai Joy-Lynn goose gaan sing oor die wonderwerke wat die nommer kan dala.”

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters