16 dae gelede
Johnny is op pad uit... met wraak
 ~ 

HALLO, Sonlanders!

Ons skop vandag af met ’n splinternuwe verhaal. Die Nommer is ELDRIDGE­ JASON se jongste pennevrug. Geniet die eerste hoofstuk!

HY TUUR ingedagte deur die dik tralies na buite.

Die binneplein is doodstil. G’n mens in sig nie. Waar sal die res van die bandiete dan wees? Gewoonlik mol almal mos om ’n bietjie buite te kom en bene te strek.

Bietjie weg van die oorvol selle wat ruik na almal se voete en waar jy die kans staan om TB of Covid op te doen.

Hy sug swaar en blaas sy asem stadig uit. Covid ... toe hy 20 jaar gelede hierheen gekom het, was daar natuurlik nie eens sprake van Covid-19 nie. Nee, daai tyd was Aids en TB nog hoogmode.

’n Tydperk van 20 jaar is ’n leeftyd in hierdie hel-hool. Hy onthou die dag toe die landdros hom gestraf het nog baie goed.

“Mag jy nooit weer die buitekant van die tronk sien nie. Die samelewing is ’n veel beter plek sonder mense soos jy...”

Hy klik sy tong. Hoe kan jy iemand so iets toewens. Daai judge is laas jaar aan Covid dood en hy weet vir ’n feit daai jong is nie hemel toe nie.

Hy is geframe, maar niemand wou hom glo nie. Die judge die minste.

“And so say all of us,” het die judge hom toegesnou toe hy die hof vir die soveelste keer van sy onskuld wou oortuig.

En jaar ná jaar, met elke appèl wat hy wou aanteken, het die judge sy invloed gebruik om sy pogings af te skiet.

Laas jaar het hy uitgevind hoekom: Die judge was vriende met die victim se ouers. Is dit dan nie conflict of interest nie?

Niemand wou egter sy argument hieroor aanluister nie.

Niemand luister anyway die afgelope 20 jaar na hom nie. As jy ’n bandiet is, is jy die skuim van die aarde.

Die enigste skuim waarmee mense te doen wil hê, is die skuim wat hul bubble baths maak – daai het hy nou al mooi agtergekom.

Hy is so onskuldig soos die dood. Hy is immers ’n lewende getuie daarvan.

Hy draai nie om toe die deur met ’n kraakgeluid oopgaan nie.

’n Ouerige man kom in en smile breed toe hy hom gewaar.

“Aah ... die man van die oomblik,” sê die ouerige man en vryf sy hande ingenome teen mekaar.

Hy lag, maar bly staan met sy rug na die deur gekeer.

“Môre, Dominee. Gaan dit goed?”

“Seker nie so goed soos wat dit met jóú gaan nie,” antwoord die dominee. “Ek mean maar, vandag is mos jou groot dag. Die dag dat jy weer jou vryheid proe, John. ’n Tweede kans.”

“Wel, 20 jaar van my lewe is van my gesteel. Hoe kan ek dankbaar wil wees vir ’n tweede kans, dominee Longdrop?” vra John. Sy stem kwyl van bitterheid.

Ds. Albert Longdrop trek sy skouers op en tik op die Bybel in sy hand.

“Dis wat die Bybel verlang van ons, John. Wie is ons om daarteen te stry?

“Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om–”

“En vergewe mekaar soos wat God julle vergewe het,” voltooi John die dominee se woorde vir hom.

“In my 20 jaar hier het ek ál die boeke van Efesiërs ... genade, die hele Bybel, klaar gelees.

“Daar is net één slotsom waartoe ek kon kom, Dominee: God for­gives, I don’t.”

John draai stadig om en kyk ds. Longdrop vas in die oë. Die godsman se blik sak.

John knik ’n paar keer. “Ná ál die jare kan jy my nie in die oë kyk nie, Dominee. Issit al hierdie tjappies in my gevreet?

“As jy my nie kan face nie, wat nog meer ’n unforgiving wêreld daar buite?

“Hier sit en krepeer ek al dekades vir ’n moord wat ek nie gepleeg het nie. Ek het hier ingekom as ’n jong man beskuldig van die vieslikste van dade. Ek gaan hier uit as ’n potjie ink wat omgeval het.

“Is hierdie ’n tweede kans? Ek dink nie so nie. Ek dink eerder hierdie is die kans vir society om my van oor af te straf.”

“Nou hoekom bly jy dan nie maar hier nie?” vra ds. Longdrop.

“Het ál die jare in my Bybelklasse hier dan niks vir jou beteken nie? Kyk die wonderwerk wat gebeur het. Daar is gesê jy gaan nooit weer die daglig buite sien nie en hier staan jy op die drumpel om vrygelaat te word.

“Wat meer wil jy hê?”

“My onskuld,” sis John. “Ek soek my onskuld terug.”

Ds. Longdrop skud sy kop in ongeloof.

“John, John, John. Laat ons mekaar nie om die bos probeer lei nie. Niemand kan onskuldig bly in ’n plek soos hierdie nie. Kyk verby die tattoos in jou gesig en kyk na daai sterretjies op jou skouers.

“Wat sê dit? Dat jy hier binne voortgebou het aan jou onskuld? Jy stap vandag hier uit, maar ek kan vir jou sê die bewaarders sug van verligting. Almal was bang vir jou. Selfs die gehardste van misdadiger moes vir jare met een oog oop slaap met jou in die omtes.

“Vir iemand wat sê hy is onskuldig, het jy nie veel gedoen om hulle hiervan te oortuig nie.”

John lag. “Sal dominee dan nou so oordeel en my met die grootste van klippe stenig? Is die naasteliefde-budget dan vedala?”

Ds. Longdrop beweeg weer deur se kant toe. Net voordat hy uitstap, draai hy egter om.

“Ek het so gehoop dis ’n nuwe jy wat hier gaan uitstap, maar ek is bevrees dit is nie die geval nie. Om eerlik te wees, vrees ek nou vir ander se lewens daar buite, John. “Ek voel dit in my gees asof die duiwel vandag losgelaat gaan word.”

“Dáár stem ek saam jou, liewe Dominee,” kap John sarkasties terug. “Ek is Johnny V. Johnny Vengeance, soos al wat ’n bandiet my hier binne ken. Ek is die bul wat bloed pis.

“Bloed en my naam gaan ek daar buite optel. Ek moet vrede in my hart vind nadat 20 jaar van my gesteel is?”

Ds. Longdrop skud sy kop. Daar is ’n kombinasie van hartseer en teleurstelling in sy oë.

“Good luck,” sê hy dan en trek die deur agter hom toe.

Johnny Vengeance draai weer om en loer deur die venster.

Die dominee moenie met hom kom k*k praat nie. Dis hý wat 20 jaar lank in hierdie verdomde plek moes oorleef. Dis hý wat die liefde van sy lewe verloor het die dag toe hy beskuldig is van ’n moord wat hy nie gepleeg het nie.

En nou moet hý die ander wang draai, daar ook geklap word en dan aankap met sy lewe?

Hy trek sy neus op en spoeg dan teen die venster.

Vengeance is op die menu. Dis klaar wat dit so is ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters