20 dae gelede
John kom eindelik met die hele sak patats vorendag
 ~ 

HAAI, Sonlanders! John laat Meities uiteindelik toe om winkel toe te gaan. Onder sy wakende oog, natuurlik. Meities geniet omtrent die vryheid en is by die winkels verbaas toe John vir die groceries betaal. By die huis gekom, dring sy daarop aan om die waarheid te weet en John erken uiteindelik dat die cops hom soek ... maar waarvoor? Geniet nou die slothoofstuk van ESME CUPIDO se Vir ’n Dag of Drie”.

DIE selfoon in die man se broeksak lui skielik.

Hy probeer die groot foon met ’n gesukkel uit sy sak uitkry terwyl die geluid al harder word.

“F*kk*t.”

Meities vat stil die foon aan, sien dis Sybil wat bel.

“Hallo, Sybil.”

“Wat vat Mammie so lank? Is alles reg daar?” Sybil klink kwaai.

“Ja, my kind. Ek dog jy bel Sondag eers.”

“Ek het so ’n snaakse gevoel gekry dat daar iets fout is by Mammie. Is daar?”

Meities kyk hoe die man in die gang af verdwyn.

Nou is haar kans, sy is alleen.

Sybil klink verlig en die gesprek duur nie lank nie.

Meities hoor die man in die badkamer doenig en besluit om met die kos te begin.

Ná ete was sy die skottelgoed. Sy maak vir elkeen ’n beker koffie. Toe sy oorkant hom sit, skakel hy die televisie af.

“Waarom het jy nie jou dogter van my vertel toe jy die kans gehad het nie?”

Meities vat ’n sluk koffie. “Ek wil hoor wat jou storie is,” sê sy eenvoudig.

“Die polisie soek my.” Hy wend sy oë vir ’n oomblik af. Hy sug voor hy verder gaan.

“My naam ís John. Ek bly op Daniëlspoort, seker so 275 kilometer van hier af, oor die berg.”

“Hoe oud is jy, John?”

“Dis vandag my 21ste verjaardag.”

Meities kyk hom verras aan.

“Waarom het jy nie lankal gesê dis vandag jou verjaardag nie?”

Hy haal sy skouers op. “As dinge is soos wat dit vir my is, dan maak ’n verjaardag nie meer saak nie.”

“Wat het gebeur, John?”

“My ma is oorlede toe ek 10 was. Van toe af is dit net ek en my pa. My pa is ’n onderwyser in die dorp, slim wiskunde-onnie. Weet van alles. Maar van my … van my wou hy niks weet nie. Dis net skool toe, sport, voorbereiding en slaap. Al die afgelope 11 jaar.”

Hy drink die laaste bietjie koffie en sit die beker hard op die tafeltjie neer. Frederik het op sy skoot kom spring en krul hom heerlik op. John vryf saggies sy pels.

“Ek het my maar besig gehou met my eie dinge, want ek het ook nie maklik maats gemaak nie. Ek dink vir my pa was dit erger omdat my wiskunde nie goed was nie. Goed in tale, want ek het gelees. Dis hoe ek baie van my tyd omgekry het.”

Hy bly stil. Meities kyk hom stil aan. Sy’t ’n gevoel hy wil nie bejammer word nie.

“Toe, in matriek ontmoet ek ’n meisie. Sy was … die teenoorgestelde van my. Wild, tatoes, daai soort ding. Ons het ’n los en vas soort verhouding gehad, want sy wou nie gebind wees nie. Maar … sy’t my gehou, want ek het genoeg geld gehad.”

Hy glimlag sinies. “Dis die een ding wat my pa nie vergeet het nie, my sakgeld, want dan kon ek uit sy hare bly.

“Verlede jaar in Desember was ek saam met haar mense Boggomsbaai toe in die Suid-Kaap. Haar ouers is net so weird soos sy, maar hulle het van my gehou. Ek … dit was so lekker, ek’t amper ’n ander sy van Zara gesien. Hoe liefdevol en sag sy kan wees.

“Twee weke gelede het ons teruggekeer Daniëlspoort toe en die ding was, sy het dieselfde gebly, sag en liefdevol. Ek wou haar vra om my meisie te wees. My regtige-egtige meisie.

“Toe … Saterdag …” Hy bly stil. Meities kyk hom bemoedigend aan.

“Ja?” vra sy sag.

Sy stem breek. “Antie, ek het haar doodgeskiet!”

Meities maak van skok ’n klein geluidjie. Sy het nie dít verwag nie. O, nee!

Hy sit met sy hande voor sy gesig gevou. Sy skouers ruk. Die kat spring gesteurd van sy skoot af en loop kamer toe.

Meities kom sit langs hom. Plaas haar arm om sy skouer. Hy staan egter op, trane loop stil oor sy wange.

“Ek het haar vermoor.” Hy haal die gun uit sy lyfband.

“Met hierdie gun.” Hy gooi dit op die bank neer.

Meities skrik effens, maar staan op en sy lei hom terug tot op die bank en gaan sit weer oorkant hom. Sy wil sy gesig sien.

“Ek en sy het Saterdagaand gaan dans. Sy het dagga gerook. My plan was om haar later die aand te vra om my meisie te wees.

“En toe … ná die dans het sy gesê ons moet eerder huis toe stap. Ons sou ’n lift saam met een van haar pelle gekry het. Daar was hierdie groot huis. Dit was donker.

“Haar oom bly daar, maar hulle was nog nie terug van vakansie af nie. Ons moet ingaan, het sy gesê, sy weet waar hulle ’n ekstra sleutel hou.

“Ons het ingegaan en sy het soos ’n mal ding kaste begin oopgooi en goed uitgooi … Sy het die trappe opgehol terwyl ek besig was om van die goed weer in die kaste te bêre.

“Toe ek weer sien, staan sy met die gun in haar hande.”

Hy snik. Meities skuif vorentoe en sit haar hande op sy knieë.

“Ek wou die gun uit haar hande vat … toe klap die skoot …”

Hewige huilbuie.

Meities staan op, tap water in ’n glas, roer ’n bietjie suiker in. Sy staan so ’n rukkie totdat hy stiller raak. Sy weet nou wat gebeur het. Dit was bloot ’n ongeluk.

“Hierso. Drink.”

Hy drink die stroopsoet water.

“Waar het jy die geld gekry?”

“My pa se kluis. Ek het haar daar gelos … daar was bloed orals. Ek het huis toe gehardloop.

“My pa het geslaap en ek … ek het die geld uit die kluis gehaal. Daarna net die pad gevat. Gehardloop.”

“En jy’t hier op Bessiefontein beland, my huis gekies om te kom wegkruip?”

Hy knik. “Antie se huis is die eerste een in die straat, ek kon nie meer verder nie …”

“Wat gaan jy nou doen?”

“Ek weet nie.”

Hy kyk vinnig op. “Gaan … gaan Antie nou polisie toe?”

“Nee. Dink vanaand daaroor en sê my môre wat jy gaan doen.” Sy staan op. “Geluk met jou verjaarsdag, John.”

Die eerste ding wat Meities die volgende oggend sien, is haar selfoon op haar bedkassie en ’n stuk papier. Sy spring op en hardloop in haar nagrok sitkamer toe.

John is weg.

Antie Meities, baie dankie vir die dag of drie wat ek hier kon bly. Jammer dat ek so rof was, veral die eerste aand. Ek was bang. Ek het baie kans gekry om te dink. Nou is ek nie meer bang nie. Ek gaan terug huis toe en dan polisie toe.

John

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters