Verlede maand
John is dalk tuis, maar die gevaar is nog nie oor nie
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders. “Wraak van die Gebrokenes” is GWENDOLINE KORDOM se nuutste verhaal. Geniet nou die derde hoofstuk!

‘WAT de hel gaan aan, John? Jy het my om hulp gevra en nou hardloop die stront uit alle gate uit. Ek het jou gewaarsku dié mense speel nie. Boonop soek Charlie ’n meeting met my ... en dit alles deur jou stupidity.”

Bongani Maloi se neusvleuels tril soos dié van ’n perd wat pas ’n resies voltooi het. John laat hom begaan, want hy weet teen dié tyd hy moenie die Xhosa-man in die rede val wanneer hy kwaad is nie.

Dit het hom bykans twee jaar geneem om ’n verhouding met Bo­ngani op te bou. Teen dié tyd weet hy wanneer om stil te bly en wanneer om te praat. Waarom is dit altyd moeiliker wanneer ’n mens die regte ding probeer doen? Hy wou net Charlie Majiet in die oë kyk en hom ’n kans gee om die waarheid te praat oor wat daardie nag in sy ouerhuis gebeur het.

Hoekom moord die enigste opsie was. Hy wou by Charlie hoor of hy darem sy ouers ’n fighting chance gegee het en of hy hulle net vermoor het. Hy wou hom vra of hy soos ’n lafaard gevlug het in die hoop dat niemand hom sou sien nie. Of dit lekker was om hulle te martel.

Die moordtoneel het John nagte lank wakker gehou.

Albei sy ouers het aan veelvuldige steekhoue aan die bolyf beswyk. Hulle is eers vasgebind en met kookwater gebrand. Albei was nog lewend toe hulle gesteek is.

Charlie het vermoedelik hulp gehad. Die bloedmerke aan die mure het getuig daarvan. Dit het gestrek vanuit die sitkamer tot in die hoofslaapkamer. Dit was ook ’n bewys van hoe hard sy ouers van die moordenaars probeer vlug het.

Hy wou by Charlie hoor of hulle gepleit het of in die laaste oomblikke die dood aanvaar het.

Sy arme ma was die lieftalligste mens wat hy geken het. Haar huis en hart was altyd oop vir ander. Het Charlie dan niks gevoel toe hy sy ma met die mes gesteek het nie?

John wonder wat tot daardie aanval gelei het. En hoekom Charlie, wat soos ’n huiskind was, vir die moord opgesluit is. Luidens die dossier is Charlie se vingerafdrukke oral in die huis gevind.

Sy prokureur het probeer bewys dis omstandigheidsbewyse, aangesien Charlie ’n gereelde kuiergas was. Van die bewyse is blykbaar mee gepeuter. Die vingerafdrukke was egter genoeg om Charlie toe te sluit.

Hy het natuurlik geappelleer toe daar bevind is iemand het met die bewyse gepeuter en die res, soos hulle sê, is history.

“Jy moet closure kry, John, of hierdie ding gaan jou van binne af opvreet.”

John se skouers roer effens, maar hy sê niks. Sy gedagtes is steeds by Charlie. Hy staar deur die ruit. Bome en huise vlieg verby en los ’n eensame gevoel in sy binneste. Al manier hoe hy tot rus sal kom, is as Charlie Majiet sterf. Dís hoe hy closure sal kry.

John sug verlig toe die motor voor sy huis stilhou.

Bongani draai dan na hom. “Jy moet ’n rukkie laag lê, John. Pak ’n tas en verdwyn totdat die ding oorwaai. Charlie weet in elk geval wie jy is en hoekom jy na hom soek, so dié charade gaan jou niks baat nie. Doen asseblief soos ek vra.”

John klim sonder ’n woord uit en kyk Bongani se motor agterna toe dié van hom af wegry.

Bongani is dalk reg. Die feit dat Charlie weet wie hy is, maak dit maklik om hom op te spoor.

Maar hy is nie iemand wat maklik handdoek ingooi nie. Bongani is dalk die duiwel in vir hom, maar mettertyd sal dit ook vervaag.

Veral as John dit regkry om sy missie te voltooi. Bongani kan wragtig nie verwag hy moet vlug nie.

Hy was ’n dwaas, maar die nag se gebeure het perspektief gebring. Iets in hom wakker geskud.

Hy skryf dit daaraan toe dat die dood hom byna in die oë gestaar het. John kyk ’n paar keer rond voordat hy die hekkode intik. Die glimmende swart staalhek skuif geluidloos oop. Dalk was dit die geluid van die hek of sy instink, maar skielik trek sy rug regop. Toe John omdraai, staan Cheslyn daar met ’n pistool in sy hand.

Cheslyn se hemp is vol bloed en sy oë staan wild in hul kaste. Terwyl hy wonder hoe Cheslyn hom so vinnig in die hande gekry het, besef hy Cheslyn sal nie huiwer om hom dood te maak nie.

John se hande skiet uit toe Cheslyn op hom afstorm.

“Wag! Laat ons die ding uitpraat!” skree John, maar Cheslyn gryp hom aan die nek. John moet al sy krag inspan om homself verdedig.

Oplaas kry hy dit reg om die pistool uit Cheslyn se hand te slaan. Cheslyn plons op die grond neer.

Toe hy na sy bloedbevlekte hande staar, besef John hoekom. Cheslyn is iewers in sy bolyf gewond.

Sy asemhaling is vlak en hy probeer na John reik. “Help my. Help my, asseblief?” pleit Cheslyn.

John pluk sy trui oor sy kop en rol dit soos ’n bal op. Dan hou hy dit teen Cheslyn se linkerskouer, waar die bloed ’n nat kol maak.

“Ek moet in die huis kom om my selfoon te kry sodat ek hulp kan ontbied,” sê John en vlieg op.

“Nee,” keer Cheslyn. “Hulle gaan my kry … Moet hier wegkom. Jy ook.” Met ’n hart wat bons, vra John: “Wie? Charlie?”

“ Ja,” sê Cheslyn. Dan val sy oë toe.

John sleep Cheslyn tot in sy voorerf en lê hom tussen die struike neer. Nadat hy seker gemaak het die hek is toe, draf hy met die oprit langs na sy voordeur.

Hy vind die voordeur se sleutel onder een van die potplante, waar hy dit versteek het.

In die voorportaal kom hy tot stilstand.

Terwyl hy die agterste vertrekke se ligte aanskakel, hoor hy sy selfoon in die sitkamer lui. Teen die tyd dat hy die toestel bereik, is dit reeds weer stil.

Hy gryp daarna en kyk na die onbekende nommer op die skerm. Dan skakel hy Bongani se nommer.

Nadat John die situasie verduidelik het, kry hy ’n tas gereed. Dan haal hy ’n donkergroen kombers uit die hangkas en voel na die kluis agter in die kas. Hy haal genoeg kontant daaruit om hom vir ’n paar dae aan die gang te hou.

Met die tas en kombers in sy hand stryk hy aan na die voorportaal. Hy gryp na die bos sleutels wat teen die muur hang. Daaruit kies hy ’n stel motorsleutels. Dan draf hy om na die dubbeldeur-garage en rol die deure oop. Binne sekondes het hy sy Ford Ranger by die plek waar hy Cheslyn gelos het.

Hy spring uit en buk by die beseerde. “Cheslyn, kan jy my hoor?” Cheslyn mompel onverstaanbaar en John sug verlig.

Dit neem hom ’n rukkie om Cheslyn in die bakkie te laai. Daarna trek John met ’n stink spoed weg.

In die truspieël vertoon die straat donker en spookagtig.

  • Bongani het hom verwys na ’n backdoor-dokter. ’n Vrees in Cheslyn se oë het hom waansinnig gehad. Wat presies die oorsaak was, kan net hy openbaar. Hy hoop Cheslyn leef lank genoeg om hom te vertel.Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters