Verlede maand
John het ’n doel voor oë, en níks sal hom stuit nie
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders. “Wraak van die Gebrokenes” is GWENDOLINE KORDOM se nuutste verhaal. Geniet nou die eerste hoofstuk!

‘VIR wie soek jy?” vra die jong ou met die silwer tussen sy tande.

John rig sy oë gespanne op die groep van ses. Hul voorkoms getuig van armoede en jare lange dwelmmisbruik.

Sy optrede is roekeloos. Hy soek vir moeilikheid om dié tipe ouens te nader op ’n plek waar niemand met enige verstand dit dié tyd sal waag nie. Maar hy is om ’n rede hier. “Ek is op soek na ’n ou met die naam Charlie,” sê John.

“Hoekom soek jy hom?” vra die ou wat hom blykbaar as die spreker van die groep aangestel het. Die res staar uitdrukkingloos na John.

“My naam is John en ek wil graag besigheid met hom bespreek. My produk sal hom binne enkele maande in ’n ryk man verander.”

Hy draai sy rug op hulle en fokus op die huise om hom. Agter hom hoor hy ’n opgewonde gefluister.

“Hoekom sal hy met jou besigheid doen?”

John draai stadig om. “Ek het gehoor Charlie verwelkom altyd nuwe besigheid.”

Hy gee ’n tree nader. As hulle hom wou dood gehad het, sou dit al gebeur het. Iets aan hom of sy motor laat hulle onseker voel en hy moet dit tot sy voordeel gebruik.

“Maar dit lyk of julle niks van besigheid af weet nie.”

John draai om en mik vir sy swart BMW onder die ligpaal.

“Wag,” sê die ou skielik. “Ons gaan wys jou sy hoofkwartiere.”

“Sal my kar veilig wees hier in die straat?” vra John.

Die ou beduie na ’n lang knaap. “Keanan sal sorg dat niks daarmee gebeur nie. Kom, laat ek jou skud, want larney ouens soos jy is onder bedrog.”

John snork hardop, maar staan gedwee totdat die lat klaar is. Dan beduie hy John moet hom volg.

John het nie besef dit sal só maklik wees nie. Dit is toe ook nie.

Hulle het skaars 10 treë gevorder toe die jong outjie met sy kaalgeskeerde kop skielik gaan staan en aggressief na John staar.

“Ek wou mos sê jy lyk bekend. Is jy nie die ou wat vir Lisa date nie? Dís waar ek jou BM gesien het,” sê hy.

John wil byna sê hy is niemand se “ou” nie, maar wat sal dit hom baat om met dié moegoe te stry?

Dat Lisa in dieselfde omgewing woon as die man wat sy ouers vermoor het, is toeval.

Destyds kon die koerante nie genoeg baljaar met hoofopskrifte oor die oudleerder wat die skoolhoof en sy vrou vermoor het nie. Iemand wat hulle soos hul eie in hul woning aanvaar het nadat hul eie twee kuikens die nes verlaat het.

Die hofsaak het twee jaar geduur. Skaars ’n dekade later moes hy uitvind die blikskottel is vrygelaat. Nie hy of Haylee is ingelig nie. Die ondersoekbeampte wat die saak destyds hanteer het, lê ses voet diep.

Blykbaar is sy sake aan van sy kollegas oorhandig, maar tot op hede het niemand kontak gemaak nie. John moes van sy kontakte gebruik om inligting oor die saak te kry.

Charlie Majiet het egter nie rekening gehou met daardie vermoorde egpaar se seun nie. Maande lank was hy besig met taktiese opleiding en hierdie klein snotgat gaan wragtig nie vanaand in sy pad staan nie.

“Ek was besig met invordering. Lisa skuld my ’n lorrievrag geld. Is dit ’n probleem?” vra John.

“Van wanneer af operate jy jou service in Charlie se territory? Jy soek mos vir moeilikheid, bra. Hier in die Gat is net een loan shark en dis Charlie,” sê die ou met die silwer tande.

“Ek is nie ’n loan shark nie,” sê John. Die atmosfeer het in ’n oogwink verander. “Lisa het deur ’n vriend van my die geld geleen en dit was ’n once-off-transaksie. Ek sukkel om my geld te kry.”

Sekondes tik verby. ’n Doodse stilte hang in die lug. Dan sê die ou: “My naam is Cheslyn en ek hoop jy praat die waarheid, want hier kry jy vinnig ’n bullet deur jou kop as jy vir moeilikheid soek.”

Hy draai om en stap weg terwyl hy op ’n selfoon tik. John hoop hy kommunikeer met Charlie.

Dan val hy agter die res in. Sy oë dwaal onrustig oor die huise.

Nêrens sien hy ’n lig wat brand nie. As die ouens besluit om hom te oorrompel, sal niemand die moeite doen om hom te help nie.

Hy sal hulle ook nie kwalik neem nie, want in hierdie strate lê die bloed van onskuldiges. Kinders wat te vroeg in hul lewe weggeraap is.

Bendes soos hierdie ouens hou dié tipe gemeenskap gevange. Oor die regstelsel is dié spul nie gepla nie. Die tronk het ’n vakansieoord geword en bendes heers daarbinne sowel as buite.

Maar dit sal kos om hom dood te maak, want hy sal nie sterf sonder om ’n hewige geveg op te sit nie. As hy dit sou regkry om lewend hier uit te kom, sal hy terugkom en hulle een vir een uitwis. Niemand sal in elk geval ’n paar skollies mis nie.

“Wie het jou van Charlie vertel?” vra Cheslyn uit die bloute.

John sien Cheslyn het reg langs hom inbeweeg. Hy moet sy gedagtes agtermekaar kry. Die ding dat sy kop voortdurend dwaal, moet stop.

Cheslyn het gaan staan en sy blik skroei nou oor John. Hy besef Cheslyn is ’n geslepe karakter. Hy is aanhoudend en wissel sy vrae af, soos een wat dié ding gereeld doen. Geen wonder hy is die leier van die groep nie. Seker ook die enigste een met breins hier rond.

“Bongani Maloi,” antwoord John.

“En van waar af ken julle twee mekaar?” vra Cheslyn.

“Ons kom ’n lang pad aan,” sê John en besluit om nie uit te wei nie. Cheslyn wil hom in ’n hoek dryf met sy vrae, maar hy is darem nie só onnosel nie.

“Ek sien,” sê Cheslyn en glimlag. “Ek weet nie of jy al die gesegde gehoor het nie, maar my oorlede ma was nogal lief daarvoor om dit gebruik. Sy het gesê: ‘Armoede leer ’n maer hond bene kou.’ ”

Dan verdwyn die glimlag. Sy oë kry ’n koue glans. “Hier rond is ek alombekend as Die Hond, want niemand mors saam met my nie.”

John staar na hom sonder om ’n oog te knip. “Dankie vir daardie waardevolle inligting.”

Cheslyn knik en beduie hulle moet verder stap.

Voor ’n verwaarloosde blou huis kom hulle tot stilstand. John is skielik onseker of hy die ouens tot binne moet volg.

Tot sy verbasing sien hy in die huis brand ligte, asof die inwoners reeds iemand verwag. Sou Charlie sy baas iets laat weet het?

Dan trek John sy skouers agteroor. Dit baat nie hy trek nou kleinkoppie nie. Hy is nou hier; hy kan dit net so wel oor en verby kry.

’n Jong ou met pieringoë pluk die verweerde bruin houtdeur ná twee kloppe oop. Dan beweeg die groep na binne terwyl Cheslyn op die drumpel huiwer.

“Welkom by Charlie se crib,” sê hy met ’n onleesbare kyk in sy oë.

John kyk een keer terug na die lamlendige houthekkie wat aan een skarnier hang. Dan tree hy met ’n hart wat woes klop oor die drumpel.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters