16 dae gelede
John en Luke kry albei ’n erge skok vir die gestel
 ~ 

DIÉ week se lekker storie kom uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Sy noem haar verhaal “Vloek”. Geniet nou hoofstuk 7.

JOHN Douries sluk die warm koffie haastig af. Hy voel nie eens hoe dit sy tong en keel brand nie.

Hy is vreemd gespanne. Die storie met Mieta en die grond begin op sy senuwees werk.

Hy is gewoond aan Springbokkloof se alledaagse rustige bestaan.

Hier gebeur vir dae niks nie en dan hou dit sommer vir weke so aan. Hy is nou skoon spyt oor die kere toe hy gedink het die rustigheid is vervelig en gesmag het na ’n bietjie opwinding.

Die opwinding met Sara is waarna hy eintlik gesoek en gekry het, maar hierdie storie met Peet Venter en Mieta se halstarrigheid is te veel vir sy gestel. Nou begin die manne nog van moord ook praat!

Nee kyk, hy weet darem nie. As die gedagte ooit by hom moes opgekom het, het hy nooit Peet Venter se geld aanvaar nie.

Hy kyk op sy horlosie en strek hom uit.

Dis 23:15. Dina slaap al. Hy sluip na die agterdeur en trek dit saggies agter hom toe.

Vanaand smag hy na Sara se verwelkomende lyf.

Sara laat hom altyd van ál sy probleme vergeet.

John klop saggies en stoot dan die kothuis se deur oop. Op Springbokkloof is dit nie nodig om saans deure te sluit nie.

Boonop weet Sara nie altyd wanneer hy kom nie en dit is makliker om die deur vir hom oop te los as wat sy moet opstaan om hom in te laat.

Hy huiwer vir ’n rukkie in die kamerdeur. Sara lê salig en slaap.

Haar bors deins rustig op en af soos sy diep asemhaal. Sy lê half op haar sy. Hy stap saggies nader.

Die maan se lig skyn op haar gesig.

Hy hou daarvan om na haar te kyk as sy nie daarvan bewus is nie. Sy is vir hom mooi. So jonk en sorgeloos. Anders as Dina wie se gelaatstrekke oor die jare verhard het.

Nie eens die plooie kon haar onvergenoegdheid versag nie.

John wil afbuk om Sara te soen, maar dan verstar hy. Hy sluit sy oë. Dit moet die maanlig wees wat met sy oë parte speel.

Hy maak dit weer oop en deins verskrik terug. Dis dan Mieta! Hy trap iets agter hom raak en slaan op die vloer neer. Die vrou op die bed vlieg vervaard orent.

“John?” vra Sara bekommerd.

John skud verdwaas sy kop. Hierdie storie met Mieta begin nou met hom mors.

“John, wat is dit?” Sara buig oor hom.

“Niks ... dis niks,” stamel hy en kom orent. “Ek moes oor jou slipper geval het. ’Skies as ek jou laat skrik het,” maak hy verskoning.

“Ag, dis niks, my skat. Ek is bly jy het gekom.” Sy trek hom langs haar op die bed neer en begin hom vurig liefkoos. John gee hom aan die oomblik oor.

Ná ’n paar minute trek hy haar warm liggaam onder hom in. Sy maak haar dye verwelkomend oop.

Dan bereik Mieta se kekkellag sy ore. Hy skud sy kop en kyk na Sara.

Mieta glimlag tandloos op na hom.

John spring met een beweging van die vrou af en uit die bed. Hy gryp vervaard na sy klere en voordat Sara kan keer, is hy by die deur uit.

IN DIE gastehuis lê Luke onrustig en rondrol. Hy sukkel om te slaap. Hy mis die stad se naggeluide.

Springbokkloof se stilte stem hom onrustig.

Die horlosie op die bedkas wys dis ná 12. Hy lê nog ’n paar minute en rondrol voordat hy ergerlik die duvet van hom afgooi en opstaan.

Hy stap na die mini bar en maak dit oop. Dalk help die ses komplimentêre tots goedkoop whiskey.

Hy frons verbaas.

Hy kan sweer dit was vroeër die aand daar toe hy koue water uitgehaal het. Hy drink nie Springbokkloof se brak water nie.

Hy buk en kyk weer, al is dit duidelik daar is behalwe die mineraalwater niks anders in die yskassie nie.

Hy vryf oor sy oë. Hy sal môre met die bestuur praat.

Hy het mooi gevra dat niemand in sy kamer mag kom nie en iemand het vir seker hier ingekom toe hy ingesluimer het.

Snaaks dat hy niks gehoor het nie nadat hy so sukkel om te slaap.

Dan seker maar koffie suip, want op hierdie godverlate plek gaan slaap ál wat ’n blerrie mens is saam met die hoenders!

Hy sal regtig nou kan doen met ’n stewige dop sterkes. Dit help nie hy gaan pla vir Dick nie. Soos hy hom ken, het hy reeds vroegdag ál sy drank weggeslaan, veral nadat hy vanoggend so bleek en sieklik gelyk het daar by ou Mieta se plek.

Hy skakel die ketel aan en gaan staan by die venster.

Hy trek die gordyn op ’n skrefie oop. Die maan skyn helder en verlig die grasvlaktes oorkant die gastehuis. Aan die agterkant is die berge donker skaduwees.

Sy oë gly oor die landskap. Verbeel hy hom of beweeg daar iets in die gras oorkant die pad?

Hy staar stip, sy kop byna teenaan die ruit.

Daar sien hy dit weer. ’n Be­weging. Dis te donker om presies uit te maak wat dit is.

Lyk vir hom soos honde of dalk jakkalse. Wat van tiere of leeus? Hier kan jy enige iets verwag.

Hy draai vererg om. Die ketel is doodstil.

Teen hierdie tyd behoort die water al te gekook het. Hy voel daaraan. Yskoud.

Hy druk die skakelaar af en weer aan. Wag ’n rukkie en luister. Niks.

Hy trek die plug by die muur uit en probeer ’n ander een. Weer niks.

Hierdie besigheid is besig om nou op sy gat te werk. Hy betaal blerrie hope geld vir hierdie swak diens!

Hy ruk die mikrogolfoond se plug uit en druk die ketel s’n daar in.

Hy luister. Weer niks. Hy ruk die plug so hard uit dat hy teen die yskas vasslinger.

Dan begin sy liggaam ruk. Sy tande klap teen mekaar en sy hare staan regop toe die elektrisiteit deur sy liggaam beweeg.

Beelde van hom as kind flits voor hom verby.

Hy is saam met sy pa by ’n dokter. Daar is ’n mooi verpleegster met ’n sagte stem wat hom paai en sê om mooi stil te lê. Die elektrodes teen sy slape.

Die skokke deur sy lyf.

Sy pa wat sê dis als orrait en hy is ’n groot man. Hy moet sterk wees.

Hy gil hy wil sy ma hê, maar sy pa druk hom hardhandig op die bed terug.

Die skokke kom en gaan.

Hy sien sy ma, Elna, maar dan vervaag haar beeld en Doreen, sy stiefma, glimlag gerusstellend vir hom.

Dan vervaag ál die beelde en die skokke hou genadiglik op.

Luke probeer homself na die bed sleep.

Die ketel het bo-op hom geval en hy is sopnat.

Hy is moeg en dit voel asof hy die einde van sy kragte bereik het toe sy hand aan die mat voor sy bed raak.

Hy laat sak sy kop op sy arm en val in ’n diep, welkome slaap.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters