21 dae gelede
John dink Dick se stadsgewoontes is die groot obstacle
 ~ 

DIÉ week se lekker storie kom uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Sy noem haar verhaal “Vloek”. Geniet nou hoofstuk 4.

JOHN Douries glimlag breed toe hy die telefoon op die mikkie terugsit. Sjoe! Peet Venter is rojaal. R50 000 is nie te versmaai nie.

Hy kan sommer baie gate toestop met daai geld. Dit sukkel maar as ’n mens jou minnares en jou vrou gelukkig wil hou.

Die probleem met klein dorpies soos Springbokkloof is dat jy as burgemeester moet rekening gee van elke sent van die belastingbetalers se geld. Hy is die dorp se eerste bruin burgemeester en dit plaas baie druk op hom.

Die blanke inwoners en plaasboere hou hom met ’n fyn oog dop. Asof dit nie al erg genoeg is dat hy die verhouding met Sara Duiker tot elke prys geheim moet hou nie.

Sara het aan die begin van die jaar hier kom skoolhou. Wat haar laat besluit het om haar hier op dié godverlate plek te kom vestig, sal niemand weet nie.

Dis nie aldag dat ’n jong juffrou die grote stad agterlaat vir ’n byna primitiewe dorp soos Springbokkloof nie.

Maar dit pla John Douries nie. Hy was verlief op die mooie Sara vandat hy die eerste keer sy oë op haar wulpse lyf gelê het.

Haar stadsmaniere het hom bekoor en sy was glad nie gekant teen sy intensies nie. Getroud ofte not.

Maar dit sukkel om diskreet te bly. Juis om daardie rede het hy gevra dat sy haar intrek by hom en Dina kom neem.

Dina was honger vir geselskap, want Springbokkloof se vroue ken net van skinder. Sy het met groot vreugde die kothuisie op hul groot erf vir die nuwe juffrou ingerig. Min wetende dat hy dit juis so beplan het sodat hy gerus en uit die oog by Sara kan kuier.

Hy en Dina het ná 30 jaar van getroude lewe nie juis meer veel van ’n liefdesverhouding nie.

Boonop het Dina oor die jare soveel gewig aangesit dat hy dit net nie kan verduur om by haar toenadering te soek nie.

Dalk soms net noodgedwonge. Hul kinders kom net vakansies kuier en dan sukkel dit om sy afsku in hul ma weg te steek.

Voor hulle en voor die dorp se inwoners is hy altyd die liefdevolle eggenoot. Gelukkig beweeg Dina vanweë haar gesetheid nie so baie rond nie. Sy bly maar binnenshuis en lê vrugte in, kook jam en bak koekies vir die plaaslike winkeltjies. Dit hou haar besig en uit sy pad.

John Douries skrik uit sy mymering toe sy selfoon biep. Hy glimlag nog breër toe sy oë oor die bank notification gly.

Peet Venter is ’n man van sy woord. Nou kan hy Sara na hartelus bederf. Hy slaan die lêer voor hom oop. Hy bestudeer die argeologiese ligging van die grond waarvoor Peet Venter bereid is om etlike miljoene rand te betaal.

Daardie grond wat eeue lank net daar lê, sal nou ontwikkel word in ’n multimiljoenrand-projek. Dink net wat dit alles vir Springbokkloof kan beteken! ’n Einde aan werkloosheid en armoede vir die 2 000-tal inwoners. Hul dorp is nou wel afgeleë, maar selfs hier het die dwelmduiwel sy kloue onder die jeug begin inslaan.

John Douries weet dis omdat hier ’n tekort is aan werksgeleenthede en ontspanningsfasiliteite. Dis tyd dat Springbokkloof wakker skrik uit sy oeroue bestaan.

Dis net jammer ou Mieta Booi probeer nou ’n drol in die drink­water wees. Hy weet al vandat hy ’n opgeskote seuntjie was van die ou tannie. Wanneer hulle stout was, het die oumense hulle altyd met ou Mieta banggemaak.

Blykbaar het die ou tannie se voorouers die grond besit, maar daar is nêrens enige kaart of transport om te bewys dat die grond aan enige een behoort nie. Die boere het maar so met die jare al die grond rondom die gebied opgekoop.

Die 1 000 hektaar wat bestaan uit ’n deel van die berg, klowe en rivier is nie geskik vir boerdery nie, maar dit sal wel voldoende wees vir Peet Venter se beoogde projek.

Dit kan vir almal net tot voordeel wees. Vir ou Mieta ook. Sy is al horingoud en om so alleen in die gopse te bly is nie geskik vir ’n oumens nie. Boonop kan sy vir die res van haar lewe in weelde leef met die ruim vergoedingspakket wat Peet Venter haar aanbied.

Dit sal egter moeilik wees om haar te oortuig. Hy wat John is, het die antie al so ’n paar keer vantevore ontmoet.

Sy kom so ses keer per jaar met haar donkiekar in dorp toe om sout, asyn, lap, kastrolle en goed te kry wat sy nie self kan vervaardig nie.

Sy bring dan gewoonlik ’n klomp groente en slope biltong saam wat die plaasmark by haar oorneem in ruil vir die artikels wat sy wil hê.

Die mense is mal oor Mieta se biltong.

Hy was ook al drie keer tot by haar plek daar tussen die klowe en hy was verbaas om te sien hoe goed die antie daar lewe.

Hy het uitgevra oor haar familie en of sy kinders het, maar die antie het net haar kop geskud.

Ten minste hoef hy nie nog te worry oor teenkanting van familie ook nie. Die antie is stoksielalleen op die aarde, so dit sal maklik wees.

Dis dalk net Dick Smit se stadsmaniere wat nie die antie aangestaan het nie. Hoekom anders sou hy sommerso in sy spore omgedraai het? wonder John en vou die lêer weer toe. Hy begin hom regmaak vir die ongemaklike rit na ou Mieta se woonplek.

JOHN Douries wens die rit wil einde kry. Dit voel of sy longe al los geskud is en die man langs hom laat hom nog ongemakliker voel.

Hy het al opgegee om geselsies te probeer aanknoop met Dick Smit. Die man is bot en John kan verstaan dat ou Mieta hom die vorige kere die koue skouer gegee het.

Dick klem die stuurwiel so styf vas dat John bang is dit breek morsaf. Dit wil amper voorkom of Dick bang is.

Die pad is sleg en bykans onbegaanbaar, maar darem nie so erg dat jy vir jou lewe moet vrees nie.

Veral nie as jy uit die grote stad kom nie, waar jy elke dag met tientalle ongeduldige taxi-drivers op die snelweg jou lewe waag.

John skud sy kop en tuur deur die Jeep se venster. Die wêreld is mooi. Die berge se blou en die groen klowe maak ’n skilderagtige prentjie. Peet Venter is ’n gelukkige man. Hierdie grond is elke sent werd.

John slaak ’n sug van verligting toe die opstal voor hulle opdoem. Die ingeperkte ruimte tussen hom en Dick Smit begin ondraaglik word. Hy klim uit en strek sy lyf voordat hy rondom hom kyk.

Die omgewing lyk rustig en stil. Voëltjies fluit vrolik in die digte bome. Hy dink hy sal eendag, sodra die plek reg is om gaste te ontvang, sommer gereeld hiernatoe kom. Hy en Sara. Sy verhouding met Peet Venter is van so ’n aard dat hy sy minnares sonder bekommernis hier sal kan onthaal.

John draai om en staar verbaas na Dick, wat roerloos agter die stuur sit. Wat is dit met die man? Hy stap nader en steek in sy spore was.

Dick staar roerloos voor hom uit. Sy gelaat is doodsbleek.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters