24 dae gelede
Jessica-hulle loop ’n ander pad en kry ’n groot skok
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die Verskilmaker” is Joanita Richter se eerste Sonnie-skryfstuk. Lees gerus nou die eerste hoofstuk!

JESSICA is ’n gewone meisie, pas gematrikuleer. Sy woon saam met haar ouers, Andy en Wendy Anderson, in ’n plattelandse dorpie. Werk is skaars in daardie deel van die wêreld. Jessica was maar te dankbaar toe die buurvrou, mevrou Jacobs, haar nader om bedags na haar dogter, Chantel, om te sien. Sy moet stiptelik wees om Chantel soggens betyds by die skool te kry. Dinge is maar woes tuis nadat haar pa sy werk weens die resessie verloor het.

Haar moeder probeer die potte aan die kook hou deur los werkies in die buurt te doen. Tog het hulle geen gebrek aan liefde nie. Hulle is ’n hegte gesin wat al baie saam trotseer het.

Jessica wil graag hê haar familie moet eendag trots wees op haar. Dis hoekom sy so baie vir hulle probeer doen.

Haar ouers was bly toe hulle verneem van die nuwe werkie wat sy losgeslaan het. Die geldjies kan ’n ekstra gaatjie vul totdat haar pa weer op die been kom.

“Mammie, ek wonder watter klere ek sal moet dra. Ek wil darem ordentlik lyk op my eerste werkdag,” sê Jessica ewe opgewonde.

“Nee wat, my kind. Ons bure is mos eenvoudige mense. Trek jou gunsteling-jeans aan waarin jy gemaklik sal voel.

“Oukei, Mammie,” sê sy en los ’n piksoen op haar ma se wang.

Die oggend vroeg is Jessica al in die kombuis bedrywig en maak vir almal ’n lekker koppie boeretroos.

“Dis byna 07:30, Mammie. Ek sal moet wikkel. Sien Mammie oor ’n paar minute.”

Sy beweeg vinnig na hul bure se huis, waar Chantel se pa staan en wag. Hy lyk effens kwaad. “Môre, oom Ben. Jammer. Ek het nie besef dat Oom nou laat is nie.”

“Chantel, kom. Die skoolklok gaan nou enige oomblik lui.”

Vinnig loop Jessica en Chantel oor die oop stuk veld waaroor klomp kinders elke dag loop. Hulle is darem net-net betyds en Chantel hardloop opgewonde by die skoolhek in.

Heel ingenome met haarself stap Jessica stadig huis toe.

“Hoe was dit toe, my kind? Ek sien jy’t dit darem oorleef,” spot haar ma.

“Ag, Mammie weet mos ek is ’n perfeksionis. Ek is net teleurgesteld in myself. Ek moes vroeër geloop het. Ek sal later bietjie in die tuin by Mammie kom sit en plante plant.”

Die tyd vlieg vinnig. Toe Jessica weer sien, is dit weer tyd om skool toe te gaan. Terwyl sy staan en wag, begin sy sommer met van die ouers gesels. Hulle sê die gesels laat glo die tyd vlieg, want die dag kan lank raak by die skoolhek.

Uiteindelik kom Chantel uitgehardloop, heel opgewonde.

“Jessica, kan ons ’n koeldrank koop, asseblief? Ek is dors.”

Hulle gaan by die winkel in en gewaar ’n meisie wat net daar staan en kyk. Sy vra vir Jessica of sy vir haar ’n pakkie NikNaks kan koop.

“Ek het nog nie geëet nie,” sê die kind. Jessica kry haar jammer en koop sommer vir haar twee pakkies.

Die drie van hulle loop saam van die winkel af.

“Jong dame, wat is jou naam en gaan jy ook skool hier oorkant die pad?” vra sy die dogter.

Chantel antwoord: “Sy’s ook in my klas en haar naam is Lenie.”

“Oukei. So, jy bly ook hier naby?”

Die kind eet haar pakkie NikNaks sonder om ’n woord te sê.

Jessica wil egter nie verder karring nie en begin op haar selfoon krap.

Skielik draai die meisie by die grondpad af wat mense byna nooit gebruik nie. Sy sê net vinnig tot siens en hardloop in die pad af.

Hulle kyk haar agterna.

Toe hulle tuis kom, is mevrou Jacobs reeds klaar gewerk.

“Mamma! Mamma! Ek het só verlang!” skree Chantel opgewonde vir haar ma wat by die hek wag.

“Dankie, Jessica. Het sy haar darem gedra?” vra mevrou Jacobs.

“Natuurlik, Tannie!”

Nee, wat. Ek behoort dié werkie toe oë te kan doen, dink Jessica heel ingenome.

Tuis wag haar ouers haar heel opgewonde in en wil weet hoe die middag verloop het.

Jessica verduidelik dat sy dit sover geniet en dat daar nóg ’n meisie is wat ook in daardie rigting loop.

Sy voeg by daar is iets anders omtrent die kind en dat sy net nie haar vinger daarop kan lê nie.

“Ag, my kind. Jy sien weer spoke,” laat hoor haar pa.

Die volgende dag daag Jessica vroeg by die Jacobs-woning op. Hierdie keer heel stiptelik.

Soos hulle loop, merk Jessica op dat dieselfde kind van die vorige dag ook op pad skool toe is.

Sy en Chantel bly staan en wag vir haar.

Jessica let onmiddellik op dat die meisie soort van ’n houding het, asof sy haar vererg oor hulle vir haar staan en wag.

“Goeie môre, Lenie,” groet Jes­sica.

So onderdeur groet die meisie.

Hulle drie stap in stilte voort.

Jessica kan nie help om te wonder of die kind ’n broodjie in haar sak het nie. Haar klere is effens vuil en so ook haar hare. Diep binne brand dit om die kind uit te vra oor haar huis en familie, maar sy wil haar nie afskrik nie.

Uiteindelik is hulle by die skoolhek.

“Julle moet mooi soet wees en ál julle werk doen of ek koop nie NikNaks vanmiddag nie,” sê Jessica terwyl sy vir hulle waai.

Terug by die huis wonder Jessica wie in die verlate grondpad af woon.

Sy besluit om bietjie te gaan loer en vra Wimpie om saam te stap.

Wimpie is haar jarelange vriend en vertroueling. “Jy weet tog niemand gebruik daai pad nie oor daar so baie stories loop,” sê Wimpie heel vreesbevange.

“Ag, Wimpie, jy moet altyd die ergste dink.”

Die heel eerste ding wat hulle opmerk, is die vullishoop en die kinders wat daar speel.

Dis asof dit ’n gemeenskap is wat ’n heel ander lewe lei as die res.

Die huisies is meestal gemaak uit weggegooide boumateriaal.

Daar is ’n klomp kinders wat loop en dwaal sonder enige toesig.

Jessica en Wimpie wonder hoe kinders in dié omgewing kan grootword. Te oordeel aan die manier waarop hulle aangegluur word, is dit duidelik sy en Wimpie is nie welkom in dié gemeenskap nie.

“Die area lyk beslis nie geskik vir kinders nie,” sê Jessica en ’n traan rol oor haar wang. Sy wonder in watter huisie Lenie bly.

“Ons moet hier wegkom. Kyk net die vreemde elemente. Ek gaan my uit die voete maak,” sê Wimpie.

Jessica vererg haar vir hom, maar tog kan sy nie alleen hier agterbly nie

“Wag! Ek kom!” skree sy.

Op pad huis toe loop Jessica en Wimpie in stilte. Dis duidelik dat hulle erg geraak is deur net te sien hoe dié mense lewe.

“Ek sal beslis nie hierdie prentjie uit my gedagtes kan kry nie. Ek dink nie eens ek sal vanaand regtig kan slaap nie,” sê Jessica.

“Glo my, ek is self nou getraumatiseer. Dit gaan my verstand te bowe oor hoe mense hul kinders aan klomp dinge kan blootstel,” sê Wimpie. “Jessica, weet jy, ek besef nou dat ons alles moet waardeer wat vir ons gedoen word.”

Oudergewoonte groet hulle met hul geheime handdruk.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters