23 dae gelede
Jessica besluit om weer na die grondpad te gaan
 ~ 

HAAI, Sonlanders! “Die Verskilmaker” is Joanita Richter se eerste Sonnie-skryfstuk. Lees gerus nou die tweede hoofstuk!

TERUG by die huis wonder Jessica of Lenie deur omstandighede gedwing word om in hierdie sirkel van armoede te lewe.

’n Klomp vrae maal deur haar gedagtes. Haar ouers het haar immers geleer om te probeer om ’n verskil te maak in mense se lewe, al is dit hóé klein.

“Jessica! Dis etenstyd! Kos is op die tafel,” sê haar ma. Dis al amper soos ’n rympie wat saans deur die gange eggo. Sonder lus stap Jessica in die gang af en gaan sit aan tafel.

Vanaand voel dit so anders. Selfs al het haar ma haar soos gewoonlik oortref, voel Jessica skuldig om ’n happie te vat.

Terwyl sy so sit en eet, speel die toneel van vroeër die dag weer voor haar af. Sy kan eenvoudig nie ophou dink aan die weggesteekte area nie.

“Jessica, wat is jy so stil vanaand, my poplap?” vra haar pa.

Daar is eers ’n oomblik van stilte voordat sy onderlangs brom: “Ag, Dadda, ek is net effens moeg. Ek vermoed dis seker maar net van die hitte. Ek dink ek gaan eerder vroeg slaap. Mooi aand vir Dadda en Mammie” sê sy en verdwyn in die gang af.

Terug in haar kamer gryp sy dadelik haar selfoon om met Wimpie te gesels.

“Naand, Wimpie, wanneer sal ons weer ’n draai kan maak by die grondpad?” vra sy in ’n sagte stem.

“Jessica, hoor jy nooit? Het jy nie met jou eie twee oë gesien dat daar verdagte karakters rondhang nie?

“Die besige vrou langsaan het gesien dat ons daar by die grondpad afdraai en dadelik vir my ma laat weet. My ma het my nou belet om enige kontak met jou te hê. Ek is jammer, maar dit kan nie anders nie. Tot siens, Jessica.”

Jessica rol rond op haar bed. Klaas Vakie het ook nie eens kans gesien om te kom inloer nie. Niks werk deesdae meer uit soos sy beplan nie. Dis eers ure later dat sy wel aan die slaap raak.

Die oggend is sy natuurlik baie knorrig en kortaf weens die min slaap.

“Môre, my poplap, wat pla? Het jy weer maagpyn vanoggend?” vra haar pa.

Fase 4-maagkanker is in Jessica se matriekjaar by haar gediagnoseer.

“Ag, nee wat, Dadda, ek is orrait, regtig. Daar is niks fout nie,” sê sy sonder lusteloos.

Vandag het sy baie min lus vir enige vorm van kommunikasie. Dis darem naweek en sy kan op die rusbank rondlê. Haar ouers het gaan inkopies doen en soos sy haar ma ken, sal sy met almal wil loop en gesels. Skielik voel sy eensaam in die stil huis. Sy besluit om eerder te gaan stap. Die vars lug sal beslis help om haar gemoed te verander.

Vaagweg sien sy vir Lenie in die vertes, besig om in die dromme te krap. Daar is ’n hele groep kinders saam met haar. Die vullistrok het nie dié week gekom nie en nou staan almal se dromme rond. Jessica wonder hoekom hulle dan so in die dromme krap, of dit dalk ’n soort speletjie is wat hulle speel.

Die lekker briesie wat gewaai het, voel ewe skielik ysig koud.

“Ek het ’n paar stukkies hoender gekry. Ek dink dit behoort genoeg te wees as ons dit opsny. Ons kan vanaand sommer ’n lekker pot maak. Ons bewerk dit eers lekker met die asyn, dan is dit weer net soos winkelvleis,” skree Lenie heel opgewonde vir haar maatjies.

Jessica staan op ’n afstand en skielik voel alles daardie oomblik asof sy nie kan beweeg of wil beweeg nie. Die woorde wat sy sopas gehoor het kan tog nie waar wees nie. Sy moes verkeerd gehoor het.

Realiteit skop in toe van die kinders in hul haas om by hul huise uit te kom van die dromme omstamp. Die hele pad lê nou vol gestrooi van die vullis. Die kinders lyk so opgewonde terwyl hulle in die pad af hardloop.

Skielik voel Jessica hoe die steekpyn in haar maag weer begin opvlam. Sy weet die dokter het haar gewaarsku dat enige vorm van stres haar sal siek maak.

Terug by die huis lê sy opgekrul op die rusbank en die bekommernis bly knaag aan haar. Die pyn van haar maag is nie eens so seer soos die seer om vir Lenie so te sien nie.

“Ons is hier, my poplap. Ons sou lankal terug gewees het, maar jy ken mos jou ma. Sy wil net gesels en nogmaals gesels,” sê haar pa heel tergend.

“Nee, Mammie is maar net vriendelik, soms oorvriendelik. Dis maar hoe Mammie is,” halflag Jessica en hoop dat hulle niks agterkom nie. Haar ma is egter baie oplettend en voel aan haar voorkop.

“Poplap, maar jy’t dan koors! Trek uit hierdie dik baadjie en kom spons jou gou af, my kind. Ons sal maar moet wag en Maandag daghospitaal toe gaan om net seker te maak dat alles nog is soos dit moet wees.”

“Als is oukei, Mammie. Ek voel nie siek nie,” sê Jessica vinnig.

Haar ma laat weet dadelik die Jacobs-egpaar dat Jessica effens siekerig voel en nie vir Chantel skool toe sal kan neem nie.

MAANDAGOGGEND douvoordag sit Jessica en haar ouers al by die daghospitaal. Die dokter praat soos gewoonlik die gewone ou storie dat Jessica nie moet stres nie. Hy gee soos oudergewoonte net pynpille.

Terug by die huis het haar ouers ’n ernstige gesprek met haar.

“Ek kan sien iets pla jou die laaste ruk,” sê haar ma.

“Dis Chantel se skoolmaat Lenie, wat in die dromme rondkrap op soek na ietsie te ete,” sug sy.

Haar ouers probeer haar oortuig om liewer aan haar gesondheid te dink. Dalk moet sy tog van Lenie vergeet. Altans, net vir eers, tot sy weer beter voel.

Intussen het die bure ander reëlings getref vir Chantel. Dit beteken Jessica sal ook nie meer vir Lenie so gereeld sien nie.

Weke gaan verby, maar haar besluit om haar afstand te hou bly knaag aan haar.

Dis asof ’n stem diep in haar binneste skree om vir Lenie te gaan help. Jessica besluit om vir Lenie toebroodjies in te pak en daar by die grondpad te gaan sit en wag. Dis die minste wat sy kan doen.

Een Maandagoggend vroeg sit en wag sy teen die pad. Dis so warm, die voëltjies koer nie eens meer nie. Uiteindelik kom Lenie aangestap en lyk heel verbaas. Haar ogies lyk erg moeg asof sy min geslaap het.

“Môre, Lenie, ek wag al heeltyd vir jou. Ek het toebroodjies saamgebring, maar jy kan self besluit of jy dit gaan vat.”

Lenie staan eers en dit lyk of haar gedagtes dwaal. Dan sê sy: “Dankie, Jessica, ek sal dit neem.”

Skielik hardloop Lenie met die toebroodjies weer in die grondpad af en Jessica is uit die veld geslaan.

Sy besluit om nog ’n tydjie rond te hang totdat Lenie terugkeer. So vyf minute later kom Lenie uitasem aangehardloop.

Voordat Jessica kan vra, antwoord Lenie vinnig dat sy die toebroodjies vir haar gesin gaan gee het.

“Lenie, maar wat gaan jy intussen eet?” vra Jessica.

“Ek kan by die skool brood kry. Hulle deel elke dag kos uit. Ek hoef dus nie die kos huis toe te bring nie, want hulle het nou iets om te eet,” sê Lenie.

Lenie gee vir Jessica ’n stywe drukkie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters