13 dae gelede
Jenny moet maar vredemaker speel tussen pa en kind
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Die twee meisies neem Johnny na ’n verlate warehouse en sê hulle kan hom help met sy revenge-gedagtes. Dan los een van dié girls, Jenna, ’n bom: Johnny het ’n kind. ’n Kind waarvan hy ná dekades in die tronk nie ’n clue gehad het nie. ’n Kind wat hom wil help om sy onskuld te bewys. Maar wie kan dit wees? Geniet nou hoofstuk 4 van Die Nommer deur EL­DRIDGE JASON.

JOHNNY staar Jenna oopmond aan.

“You lie,” sê hy in ’n skor stem.

“Ons is nog in Junie,” antwoord Jenna sarkasties. “Maar om jou vraag te beantwoord: Nee, ek lieg nie. Hoekom sal ek? Wat kan ek daaruit benefit?”

Die stilte tussen die twee is oorverdowend. Johnny se kop sing so dat hy nie kop of stert van Jenna se onthulling kan uitmaak nie.

Daar was net één girl in sy lewe, sy laerskool-sweetheart, Sandy Louw. Sandy met die bokkie-bruin oë en oulike dimples. Sandy met die sagte stemmetjie en die hart van goud. Sandy wie se ouers geweier het dat hulle mekaar verder sien toe die valse bewerings teen hom gemaak is ...

Jenna maak haar keel skoon om Johnny se aandag te trek.

“Weet jy wie Emma se ma is?” vra sy. Toe sy geen reaksie van Johnny kry nie, gaan sy voort: “Emmarentia Louw, amper 21 jaar oud. Ma: Sandy Louw. Gebore net nadat jy jou straf begin uitdien het. Need I say more? Kan jy nou verstaan hoekom Emma so kwaai was?

“Jy is die pa wat sy nooit geken het nie. Antie Sandy het altyd gesê sy sal haar sê die dag as sy 21 is, maar Emma het my laas jaar gekontak, net voor die lockdown.

“En toe vind ons uit jy, die gevreesde Johnny Vengeance, is haar pa.

“Kan jy imagine hoe ’n skok dit vir haar was? Dat sy die kind van ’n kindermoordenaar is?

“Dit het Emma verskriklik baie gepla. Ek het op ’n kol gedink sy gaan in Stikland opeindig.

“Sy kon nie glo sy is die kind van ’n killer nie ... en toe gaan sy in op jou saak.

“Emma is baie bright, ’n law student en so aantes.”

Johnny voel ’n onverklaarbare gevoel in hom opstoot. Kan dit wees ... trots? Trots op ’n kind wat hy tot hierdie uur nie eens geweet het bestaan nie?

“Al wat ek en sy gemeen het, is bloed. Ek is niks anders as daai vir haar nie. Hoekom sal sy my wil help?” vra Johnny.

“Want dis wat my ma wou hê,” kom ’n stem agter hom op.

Johnny swaai verras om. Hy het Emma nie eens hoor aankom nie.

Sy staan voor hom, hande uitdagend op die heupe. ’n Vurigheid in die oë. Bokkie-bruin oë. En dimples, besef hy. Sandy se dimples.

“My ma het my toe tóg vertel. Voor my 21st, want sy het nie veel van ’n keuse gehad nie.

“Covid het aan haar deur kom klop. Toe die dokters my laat kom, was sy op haar einde. Sy kon skaars asemhaal, maar met haar laaste bietjie asem het sy my vertel van jou.

“Vertel van hoe jy onskuldig is en al die jare boet vir ’n daad wat jy nie gepleeg het nie.

“Hoe haar ouers, my ouma en oupa, haar swangerskap weggesteek het, haar verbied het om jou hofsaak by te woon of jou ooit te vertel dat jy ’n kind het.”

Johnny krap sy kop. Al hierdie nuus is te veel vir hom. Oor die jare het hy gewonder wat van Sandy geword het.

Sy gewonder het later in bitterheid omgeskakel toe hy homself wysgemaak het dat sy hom nes al die ander mense gedrop het.

Min het hy geweet dat sy tot op haar sterfbed in sy onskuld geglo het. Dat sy hul kind in die lewe gebring het. ’n Kind wat haar ma ge-promise het om sy onskuld te bewys.

“Ek expect nie van jou om nou ’n pa vir my te wees nie. Ek het ’n goeie stiefpa gehad.

“Ek wil net my ma se laaste wens nakom. Dis al. Niks minder, niks meer.”

“Wie was jou stiefpa?” vra Johnny. “Ek dog jou ma was lief vir my.”

Emma wip haar. “Wie kan wag op ’n tronkvoël wat nooit uit die tronk uit sal kom nie?

“My ma was nie sleg nie. Sy het die reg gehad om aan te move met haar lewe.”

“Nee, nee dis nie wat ek mean ...” probeer Johnny walgooi. “Ek mean maar net ...”

Hy gooi sy hande in die lug. Hierdie is ’n saak wat hy nie gaan wen nie, besef hy.

“Carlo de Leeuw,” antwoord Emma tot sy verbasing.

“Daai mof ...”

Johnny sluk sy woorde. Vir Carlo de Leeuw onthou hy maar alte goed. Saam grootgeword.

Carlo kon nooit ’n rugbybal vang nie, het altyd saam met die girls netbal gespeel en was altyd so fyn en tingerig. Sandy en Carlo het nooit destyds enige ooghare vir mekaar gehad nie. Nou hoe het dít dan gebeur?

“Wat sê jy daar van my pa?” vra Emma aggressief en beweeg nader aan Johnny. “Moenie dink ek is bang vir jou en daai vieslike tjappies van–”

“Oukei, wag, julle,” tree Jenna haastig tussenbeide.

“Julle albei is te haastig op jul perdjies. Die formalities is nou uit die weg. Julle weet nou albei wat klap vir wat en hierdie gaan nie ontaard in wie vir wie gaan klap nie.

“Joy-Lynn Coenraad, Jayden se mammie. Onthou jy haar nog?”

“Daai bitch?” spoeg Johnny die woorde uit. “Hoe kan ek haar ooit vergeet? Sy was een van die eerstes wat ek wou gaan visit om–”

“Om wat te maak?” chime Emma in. “Haar te gaan vermoor?”

“Mense, ons kan nie so aangaan nie,” speel Jenna vredemaker.

Sy draai na Emma. “Em, onthou ons plan, asseblief?”

Emma blaas haar asem hard uit en knik stram.

Jenna waai haarself kamma koel met haar hand.

“Sjoe, dit raak warm hier binne met sulke twee hotheads soos julle.

“Anyway, Johnny ... eintlik moet ek seker sê oom Johnny?

“Jy kry vandag nog jou kans om Joy-Lynn Coenraad te gaan sien. Ons het haar opgespoor, want Emma het op baie teenstrydighede in haar verklaring en getuienis afgekom wat eenvoudig het deur die hof geïgnoreer is.”

“Ja, daai regter wou mos niks hoor nie. Ek hoor hy is dood. Good riddance!”

Dié keer gaap Jenna en Emma hom verbaas aan. “Waar hoor jy dat judge Jurie Heynes dood is?” vra Emma.

“Judge Heynes is springlewendig en die einste Joy-Lynn werk as ’n domestic vir hom.

“Dit laat my wonder: Hoekom sal ’n judge werk gee aan iemand wie se saak hy behartig het?”

“Ek ruik ’n rot,” sê Johnny. “Hier is geknoei, sê ek julle.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters