14 dae gelede
Jare ná daai brief gee Gertruida hom steeds butterflies
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Kort ná oom Boesman se besoek bel sy vrou, antie Gertruida, vir oom Andrew. Sy het hond se gedagte oor haar eggenoot en benodig oom Andrew se hulp. Sy kom visit hom by sy werk, maar haar plan pla hom. Is die twee besig om met oom Andrew se kop te smokkel? Geniet nou hoofstuk 5 van EL­DRIDGE JASON se “Oulik en Lillik”.

TOE hulle jonk was, het hulle lekker geblues op Lionel Richie se “Three Times a Lady”.

Naweke het hulle matching jeans en T-shirts gedra en hy het die een ná die ander gedig vir haar geskryf.

Maar toe kom Boesman en sy stywe bankbalans mos in die prentjie en Gertruida drop hom soos ’n warm patat toe hy in die Vrystaat gaan werk. Hy onthou nog goed die een sin in die afsê-brief wat sy vir hom geskryf het. “Dis nie jy nie, dis ek.”

Maar dit was sy. En Boesman.

Daardie tyd het hy sy Judy Boucher-kasset stukkend gespeel van liefdesverdriet.

En nou staan sy hier en vra hom vir sy hulp? Dít terwyl haar man, aan die ander kant, van haar ontslae wil raak?

“Ons kan weer Oulik en Lillik wees, soos die mense ons destyds gespot het,” sê antie Gertruida en streel oor oom Andrew se arm.

Die oom sien hoe sy vel hoendervleis uitslaan en hy moet aan homself erken die vleis wat hy by Shoprite koop, is nie ál vleis wat hy in sy lewe makeer nie.

Oulik en Lillik ... Amper soos Beauty en die beast. Hy onthou nog baie goed hoe hulle gespot is, ja. Gertruida het altyd hierdie lang, gladde hare gehad wat nog by haar stêre gehang het.

Hy is uitgekryt as ’n korrelkop met wie se hare eintlik draad gespan behoort te word.

Die mense was nasty! Dit het ook nie gehelp dat haar ouers teen hul verhouding gekant was nie.

“Julle moet dink aan die kinders se hare,” het Gertruida se oorle’ ma, antie Lienie, destyds in ’n temerige stemmetjie gesê.

“Julle sal met relaxer moet begin boer,” het Gertruida se pa, oom Koos Bokser, destyds gesê en soos ’n leeu gebrul van die lag oor sy onvanpaste grappie.

“Sal jy my help?” onderbreek antie Gertruida oom Andrew se gedagtegang.

Hoekom moet die duiwel so listig wees? wonder oom Andrew.

“Hoe?” vra oom Andrew, wel wetend dat hy hierdie vraag gaan berou.

“Boesman het destyds toe ons getrou het, aangedring op ’n voorhuwelikse kontrak.

“Ek was nie baie happy daarmee nie, maar ek het gedink ons is mos verlief en dat die liefde vir ewig gaan hou.

“Min het ek geweet die liefde is by Boesman soos airtime; dit moet oor en oor recharge word.

“Boesman skimp nou al jare dat ek hom verneuk.”

Antie Gertruida haal diep asem voordat sy verder gaan: “Dit is natuurlik nie waar nie, maar ek is al ál wat kerkbroer is, gegee.

“Ek kan nie in die week biduur toe gaan nie, dan jol ek. Ek kan nie Sondae laat van die kerk af kom nie, dan het ek weer met ’n broer gelê.

“Só gaan dit al jare aan. In die openbaar sit ek ’n smile op, maar ...”

Antie Gertruida slaan ’n paar keer hard op haar bors.

Oom Andrew kan nie anders as om so tussen die bra-lyne te lees nie.

“Hier binne in my is ek besig om elke dag ’n bietjie te sterf.

“Mense dink jy is gelukkig as jy in ’n groot huis bly en enige iets kan koop wat jou hart begeer, maar selfs ons groot huis is te klein vir my pyn en eensaamheid.”

Antie Gertruida fladder haar wimpers. Oom Andrew kry ook ’n fladdering ... in die omtes van sy belt.

“Jy was nog altyd goed met jou hande. Ek bewonder al jare hoe jy die lyke so mooi kan opdollie dat families op ’n waardige wyse van hulle afskeid kan neem.

“Daar’s ’n klousule in ons huwelikskontrak wat Boesman gerieflikheidshalwe altyd vergeet: As hy cheat en ek besluit om te skei, dan is ek geregtig op ál sy besittings.

“En dan is daar hoeka daai vakansiehuis langs die see in Hermanus wat ek graag sal wil hê en waar ek my oudag saam met iemand spesiaals op die stoep kan deurbring.”

Oom Andrew is nie seker of antie Gertruida vir hom knipoog en of haar oog nog jeukerig is ná haar jongste katarakverwydering nie.

Die oom lek oor sy droë lippe. Hoe is dit dan so dat dié twee met dieselfde plan aan sy deur klop?

Speel hulle met hom? Of is hulle al so lank getroud dat hulle al dieselfde dink?

Oom Andrew kon nog nooit vir ’n vrou nee sê nie.

Hy weet nie hoekom nie, want selfs op skool is hy net misbruik om tjoklits aan te dra.

Gertruida sweer hoog en laag sy mors nie met die kerkbroers nie, maar kyk hoe flirt sy dan nou met hom! Hy weet nie so mooi of hy saam met haar Hermanus toe wil trek nie.

Hy kry seesiek van net na die see staar en hy is nou al so lank alleen ... die lewe het hom geleer dat vroumense baie demanding kan wees.

Is hy op sy oudag regtig lus vir al die drama?

“Daar is natuurlik ook kontant op die spel,” gaan antie Gertruida voort.

Sy is net ’n ouer weergawe van Delila, dink oom Andrew.

“Ek kan natuurlik nie van jou verwag om verniet te werk nie. Is R500 000 genoeg?”

Toe oom Andrew te lank na haar sin stilbly, gaan sy haastig voort: “Jy moet sê as dit te min is. Ek kan altyd–”

“Geld is nie die probleem nie,” val oom Andrew antie Gertruida in die rede. “Dis die manier hoe julle ...”

Hy bly stil, bang dat hy te veel gesê het.

“Julle?” vra antie Gertruida nuuskierig. “Het jy al hierdie gesprek met Boesman ook gehad?”

“Natuurlik nie,” antwoord oom Andrew vinnig. “Jy weet mos ek en Boesman sit nie langs dieselfde vuur nie.

“Ek kan mos nie kop of stert uitmaak van jou man se Engels nie.”

Die grap het die gewenste uitwerking, want die agterdog verdwyn uit antie Gertruida se oë.

“Ek is net bly ons het nooit kinders gehad nie,” sê antie Ger­truida. “Die liewe Heer het seker maar van beter geweet. So, hoe sê jy, Lillik? Het ons ’n deal?”

Oom Andrew kan nie anders as om te smile nie.

“Hoe kan ek weier as jy so oulik vra? Het jy iets spesifieks in gedagte?”

“Die masker moet soos daai Janice-meisiekind lyk,” antwoord antie Gertruida.

Daar is ’n kyk in haar oë wat oom Andrew diep ontstel.

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters