6 dae gelede
Jane vat Sylvie goed vas toe sy aangeval word
 ~ 

SONLANDERS, ons gaan vandag voort met GWENDOLINE KORDOM se “Bloedspoor”. Slaan jul tande gerus in die derde hoofstuk. Geniet!

JONTY van Wyk staar vreesbevange voor hom uit. Hy besef nou hy is in die kattebak van ’n motor. Hy weet nie hoe lank sy blaas sal hou nie.

Pakkiesdorp is wel nie van die veiligste plekke om te leef nie, maar hier rond ken almal mekaar.

Dis hoekom hy verbaas was oor die motor wat skielik langs hom stop. Nog groter sy verbasing vir die mooi vrou agter die stuurwiel. Sy het geglimlag en hy het ontspan.

Sy was op soek na die shebeen in Elimstraat. Hy was besig om te verduidelik, toe sy uitklim. Hy het niks vreemds daaromtrent gevind nie, maar toe sy hom onverwags ’n drukkie gee, was hy verstom. Daarna het hy ’n steekpyn in sy nek gevoel en ná dit donkerte.

Waarheen is hulle op pad?

Hy het ook geen idee wie sy is en wat op hom wag nie. Waarom wil sy juis vir hóm ontvoer? Hy kan net hoop dat sy ma hom met die hulp van die polisie vind. Hy is net 15. Hy kan aan geen rede dink hoekom iemand hom leed sal wil aandoen nie. Sover hy weet, leef hy in vrede met almal rondom hom.

Sy ma, Sanna van Wyk, is boonop ’n siener.

Hy is dus positief hy sal inderdaad gered word.

Sy het in die verlede vermiste mense help opspoor, maar ná ’n sekere voorval het Pakkiesdorp se mense hul vertroue in Sanna verloor. Hy is Sanna se enigste kind en hy weet sy sal alles in haar vermoë doen om hom te vind. Hy kan net hoop dat sy nie die verkeerde inligting sal gee soos met pastoor Jimmy se dogtertjie nie. Tyd is immers nie aan sy kant nie.

TWEE dae. Dis hoe lank Jonty nou al weg is. Toe Jonty nie Vrydagaand van die jeugvergadering terugkeer nie, was Sanna rasend. Sy het die polisie laat kom en ’n soektog is begin. Die soektog van twee dae het niks opgelewer nie. Haar intuïsie het haar in die steek gelaat. Daar is geen telepatie en ook geen leidrade nie. Hoe gebeur sulke dinge? Die geskenk wat sy nog altyd as ’n vloek beskou het, het haar verlaat.

Sanna staar met nikssiende oë by die venster uit. Jonty is haar enigste kuiken. Jare lank het sy by die Here gebid vir ’n kind. Haar oorlede eggenoot, Hans, was op die punt om haar te verlaat toe die wonderwerk gebeur. Op 44-jarige ouderdom het sy swanger geraak met Jonty. Hans is kort daarna oorlede.

Sy het ál Jonty se gunsteling-items uit sy kas gepak. Een vir een voor haar neergelê in die hoop dat sy ’n visioen sou kry. Die silwer ketting met die simbool van ’n kruis waaraan Christus hang, is een van die items wat sy nou styf in haar hand vasklem. Sy Jesus-ketting, soos hy dit kleintyd gedoop het.

Sanna sluit haar oë en wag.

Ná ’n rukkie gee sy ’n lang sug. Die enigste gesig wat voor haar verskyn, is dié van Bennie. En agter Bennie, bloed. Die bloed hardloop met ’n smal paadjie en kom skielik tot ’n halt toe ’n skaduwee daaroor val.

’n Donker figuur huiwer daar. Voordat haar oë oopvlieg sien sy dit is ’n vrou met ’n onbekende gesig. Sy smyt die ketting van haar af weg, spring op en vlug in die rigting van haar kamer. Daar slinger Sanna haarself op die bed neer en raak hartverskeurend aan die huil.JANE voel trots op haarself toe sy wegry van haar geheime wegsteekplek. Twee in een nag!

Sy voel ook nie skuldig oor die twee se gepleit en gesoebat nie.

Die skraler een se gedrag pla haar wel. Hy bid die heeltyd en roep na sy ma. Is sy dalk verkeerd oor hom?

Hy het glad sy naam aan haar verskaf sonder dat sy gevra het. Selfs ’n hartseerstorie vertel oor hoe hy sy ma se enigste kind is.

Die ongebruikte kelder van ’n ou verlate plaashuis tussen Witfontein en Gansdam is ’n tydelike wegsteekplek tot sy ’n ander plan maak.

Haar gedagtes keer terug na haar slagoffers. Die jonger een, Jonty, se blik lyk eerlik en opreg.

Dis die sogenaamde Katjies wat haar laat wonder. Hy maak nie oogkontak nie en praat ook nie veel nie. Dis by Jonty dat sy die nodige inligting oor Katjies moes kry.

Nie dat dit saak maak nie. Nadat sy die regte inligting uit hulle gekry het, is hul lewe in elk geval verby.

Boena se dwelmoperasie is steeds aan die gang. Hy trek die toutjies van binne. So, dis net ’n kwessie van tyd voordat sy uitvind waar die dwelms gestoor word. Een van die twee weet iets. Haar gevoel vertel haar dis Katjies.

Hoe langer hy swyg, hoe langer sal hulle in daardie verlate kelder vertoef. Sy het hulle deeglik toegesluit, met splinternuwe slotte wat sy gekoop het.

Niemand waag dit naby die plaashuis nie oor die spookstories wat daar rondlê. Daar is ook genoeg voedsel vir die twee en ’n emmer vir wanneer hul blaas vol raak.

Jane staar verbaas na die onbekende motor voor haar erf. Dis net ná nege toe sy stilhou. Sy het tot dusver nie ’n woord van Brandon gehoor nie.

Sy het pas uitgeklim toe ’n onbekende vrou op haar afstorm.

Toe Jane haar kom kry, het die vrou haar aan die hare beet. Daar is nie tyd vir dink nie. Jane doen soos sy geleer is – baklei met die doel om ernstige skade aan te rig.

Sy lig haar knie en stamp die vrou hard in haar maag. Toe sy na asem snak, gryp Jane haar aan die kop en slaan haar só hard in die gesig dat sy steier.

Jane is egter nog nie klaar nie.

Sy gryp die vrou aan die hare en sleep haar huiswaarts.

“Iemand! Help my!” gil die vrou.

Jane se ore slaan toe, haar liggaam in aksie. Haar instink smag na bloed. Sy is verbaas toe iemand haar aan die arm gryp.

Dis Justin Koopman, haar buurman. Langs hom staar sy vrou, Lisa, met groot oë na Jane.

“Wat gaan hier aan?” vra Justin.

Die vrou glip uit haar hande en skuil angsbevange agter hulle.

“Bel die polisie,” sê sy.

Jane draai na haar. “Wie is jy en wat soek jy van my?”

“Die vrou wou my doodmaak. Hoekom bel jy nie die polisie nie?” vra Sylvie aan ’n geskokte Justin.

Nie een van die vier sien die motor wat stilhou nie. Dan word daar hardop geswets en skielik is Bran­don tussen hulle.

“Wat gaan hier aan? Sylvie?”

Hy draai na Jane. Hulle staar etlike sekondes na mekaar voordat Sylvie haarself in sy arms werp en histeries aan die huil gaan.

“Dankie, Justin, maar ek het nou alles onder beheer. Dis nie nodig vir polisie nie. Ek sal die storie uitsorteer,” sê Brandon.

Toe die twee traag omdraai, staar Brandon met granietoë na Jane.

“Jy beter jouself onder beheer kry, anders doen ék dit vir jou.”

Toe raap hy Sylvie in sy arms op en stap met haar na sy motor terwyl Jane hulle agterna staar.

Woede kolk in haar. Die Sylvie-vrou het met die verkeerde vrou gemors. Wie dink sy is sy om haar voor haar eie deur aan te val?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters