21 dae gelede
Jane besluit sy gaan op haar eie manier justice kry
 ~ 

HALLO, Sonlanders!

Jane Meyer laat die privaat speurder Brandon Doeries se hart sommer vinniger klop. Maar hy weet nie of dit goeie idee is om haar te help nie. Lees lekker aan die derde hoofstuk van ’n splinternuwe verhaal uit die pen van GWEN KORDOM. Die titel is Vergelding.

‘GELD is nie ’n kwessie nie,” sê Jane.“Nie alles in die lewe gaan noodwendig oor geld nie,” kap Brandon terug.

Jane voel die bloed na haar wange stoot. Haar pa het deur ? kontak die nommer van Brandon­ Doeries gekry. Hy is blykbaar ? voormalige speurder, maar is geskors weens wangedrag en nog ander klagte.

Brandon was betrokke by die een of ander bedrogspul in ? hoëprofielsaak.

“Jy sê darem vinnig nee vir besigheid. Ek sal ekstra betaal as dit moet.”

“Wel aangesien jy aandring en duidelik geld het om te mors, sal ek dit neem,” antwoord hy skielik.

“Maar luister mooi. As ek die saak hanteer, beteken dit jy moet eerlik wees.

“Boena is ’n geharde misdadiger en tog kry die polisie hom nie gevang nie. So, wat mis ek?”

“Ek vind dit moeilik om te glo dat jou pa met al sy hulpbronne hom nie kon opspoor nie. So wees eerlik, Jane.

“Is enigiemand bewus daarvan dat jy na die hom soek? Want ek kry die gevoel niemand weet van hierdie ontmoeting nie, aangesien jy moes seker maak niemand agtervolg jou nie?”

“Jy is reg. Ons het probeer om hom op te spoor, maar het misluk.

“My pa voel ek moet hom in die Here se hande los. Hy sal self sy pad na die tronk vind.

“Volgens my gebeur dit nie vinnig genoeg nie en die polisie is te slapgat. Hulle fokus nou op ander sake nadat dié een doodgeloop het.

“Ek soek justice vir Kevin.”

“Luister na jou pa. Dis net ’n kwessie van tyd voordat hy gevang word as hy voortgaan met die lewe wat hy lei.

“Jy sê self hy is betrokke by die moord en roof, so sy skelm ways sal hom eventually na die tjoekie lei.”

“Ek kan nie wag vir karma nie. Daar is iets anders wat ek onthou. Boena het iets gesê voordat hulle by die deur uit is: ‘See you around, sweetheart.’

“So selfversekerd asof hy my weer sal sien.”

“Het jy dit voorheen aan die speurder genoem?”

“Nee, dit het my seker ontgaan. Of die skok was dalk te groot in daardie oomblik oor wat ek deurgemaak het.”

“Het Boena dalk familie buite die dorp?”

“Ons al het daardie moontlikhede ondersoek. Ál die inligting is in die lêer.”

“Nou goed. Ek sal die saak hanteer en jou op hoogte hou.”

“Baie dankie, Brandon,” sê Jane.

“Moet nog nie begin dankie sê nie. Ek sal vanaand alles oorgaan en amptelik môre begin,” sê hy en lig hom uit die stoel.

“Dan kontak ek jou sodra ek iets het.”

Brandon stap weg van die tafel voordat Jane enigiets daarop kan sê. Hy wil so gou as moontlik van haar af wegkom. Hoekom weet hy nie.

Hy voel haar oë op sy rug brand toe hy by die deur uitstap. Op pad terug na sy woonplek speel Jane se gesig voor hom af.

Hy onthou nou waar hy haar gesig gesien het. ’n Paar maande gelede in die plaaslike koerant.

Hy ry sy kompleks binne en parkeer voor sy tweeslaapkamer-eenheid. Voor die deur kom hy tot stilstand. Iets op die vloer – ’n wit koevert steek halfpad onder die deur uit.

Brandon sug. Wanneer wil Sylvie dan ophou met haar malligheid? Hy wil haar nie graag laat toesluit nie, maar dié obsessie­gedagtes moet nou end kry.

Hy sluit die deur oop en skuif die koevert met sy voet tot by die vullisdrom in die kombuis.

Hy sit die lêer op die tafelblad neer en was sy hande. Terwyl hy besig is met aandete dwaal sy gedagtes terug na Jane. Hy wonder wat sy doen en of sy ook aan hom dink.

JANE staar Brandon agterna toe hy van haar af wegstap. Dan gryp sy haar handsak en volg hom.

Sy wag ’n tydjie voordat sy hom agternasit. Toe sy motor minute later by ’n kompleks in die middestad indraai, ry sy verby.

Sy sal sorg dat sy môreoggend vroeg oorkant die kompleks wag. Sy wil elke oomblik waar hy is. En naby genoeg vir wanneer hy Boena vang.

Sy het ’n voëltjie hoor fluit hy was een van die beste ondersoekbeamptes in die kontrei. So, dis bloot ’n kwessie van tyd.

Misdadigers hoef nie altyd weg te kom met hul dade nie. In dié geval sal sy self jurie, regter en laksman speel.

Morné Lackay, ’n kursusleier in selfverdediging, het haar die laaste tyd onder hande geneem.

Hy het ook van sy kontakte gebruik om haar te leer skiet. Sy weet al hoe om ’n vuurwapen te hanteer.

Die gedagte om vigilante te speel het al by haar opgekom, maar sy het geen ondervinding in die vegkuns gehad nie. Enige fout kon haar lewe kos. Maar sy is ’n nuwe Jane wat nie maklik tou opgooi nie.

Dalk moet sy vanaand ’n slagoffer soek vir haar eerste kill. Sy sal dan seker maak elke barbaar in dié kontrei weet van haar.DIS net ná 22:00 toe Jane die lokasie binnery. Sy sien die verval in die afgeskilferde mure van die eens kleurryke huise.

In ’n stillerige straat verminder sy spoed toe ’n figuur aankom.

Haar hart klop woes toe sy nader ry. Sy stop reg langs die ou.

Hy is met twee treë langs die motor. Deur die ruit sien Jane haar slagoffer is ’n verwaarloosde tienerseun.

Sy wangbene staan prominent uit en sy oë vertoon massief in die skraal gesig. Jane draai die ruit af en deins terug toe sy gesig byna teen hare stamp.

Sy kry egter nie kans om te praat nie. Hy gryp haar aan die hare en druk ’n mes teen haar keel. “Gee jou bag of jy vrek,” sis hy.

“Okay, ek sal, maar dan moet jy die mes lig. Die handsak lê op die vloer agter my,” sê sy.

“Sluit oop, dan haal ek dit self uit,” sê hy. Jane gehoorsaam en hy los hy haar so skielik dat haar nek ruk.

Dan pluk hy die agterdeur oop.

Sy hou die skokapparaat styf vas en wag totdat hy sy kop grondwaarts druk. Dan swaai sy om en druk dit vinnig teen sy nek. Hy maak sy mond oop om te skree, maar die skok is te groot en hy sink halflyf in die kar neer.

Jane kyk vinnig rond, maar sien nêrens ’n beweging nie. ’n Glimlag krul om haar mondhoeke.

Lees môre verder

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters