Verlede maand
Is dit ’n probleem of rek ou Lientjie net die waarheid?
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons skop vandag af met ’n splinternuwe verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON. Hy noem dit “Die Online Shopper”. Geniet die eerste hoofstuk!

LENTE. 1 September. Die dag waarop die weer vir ’n slag ’n ander onderbroek aantrek en nie meer so koud en oorstuurs is nie.

Die dag dat die voëltjies weer uit die bloute lustig begin nesmaak en die een rap song ná die ander fluit.

Catherine staan in die kombuis en wag dat die ketel kook.

Eintlik is sy Katryn gedoop. Dit staan nou nog só op haar book of life.

Maar toe Catherine ’n paar jaar gelede as ’n domestic in die Kaap begin werk, het Katryn verdwyn.

Sy is nou al ’n paar maande terug in Paternoster, maar sy verwys steeds na haarself as “Catherine” of “Cathy”.

Sy praat sulke vreemde goed, soos “you know mos” en “Oom Koos-them”.

Verder voel die anties altyd ongemaklik as hulle op die stoep sit en tee drink en Cathy kom verby en skree: “How are yous?”

Niemand weet ooit hoe om te antwoord nie, want nie een van die mense daar se naam is Yous nie.

So, sedert haar terugkeer is Cathy ietwat van ’n buitestander.

Dis nie oor sy ’n nare mens is nie, maar omdat niemand die Engels kan verstaan wat sy praat nie.

Niemand het ook die hart om haar te vra om tog maar oor te slaan na die liewe Afrikaans, wat niemand niks gemaak het, nie.

So staan Cathy toe by die ketel en wag dat die water kook.

Sy trommel half ongeduldig met haar vingers op die kombuistafel en pluk onvergenoegd aan haar swirl-kous.

Ietwat geïrriteerd druk sy ’n lastige bossie hare terug onder die swirl-kous.

Sy wil nie haar draad so adverteer nie. Netnou sien Clicks haar.

Sy wil ’n Spring Ball reël, staan en dink sy.

So single kan ’n vrou ook nie wees nie. ’n Dans is net die regte plek om die liefde van haar lewe te ontmoet.

Iemand wat saam met haar op die stoep kan sit en na die sons­ondergang kan staar.

Iemand van hier. ’n Weskusser in murg en been. Nie een van daai Kapenaars, wat so lieg en net ’n girl se hart wil breek, nie.

Toe sy nog in die Kaap gewerk het, het sy in Selfbou in Belhar gebly.

Daar was ’n ou ... Ag, sy wil ook nie aan daai sleg ding dink nie.

Rodney Valentine was so bang vir werk soos wat Clicks nou vir die EFF is.

Sy wat Cathy is, moes later by ander mense ook gaan char – net om Rodney se mond oop te hou.

Wanneer sy soggens gaan werk het, het Rodney nog onder die duvet gelê. En daar het sy hom ook gekry wanneer sy saans uit die werk uit gekom het.

Totdat sy hom een laatmiddag betrap het met een van die bure se meisiekinders onder daai einste duvet waaraan sy so swaar by Home Choice afbetaal het.

Cathy skud haar kop. Sy moenie aan sulke depressing goete dink nie, vermaan sy haarself.

Dis ’n mooie dag. Dis nie nodig om haar dag te spoil deur te dink aan cheating leeglêers nie.

Sy kan vir haar ’n sterk Weskusklong kry. Een met sterk, bruingebrande arms en ’n bry wat haar tot diep in haar slaap kan serenade.

Te oud vir die liefde is sy nog glad nie; 50 is immers deesdae die nuwe 15.

“Dis darem lekker om so te staan en dagdroom.”

Cathy wip van die skrik toe ’n stem agter haar opklink.

Dit is so op haar tong om ’n vloekwoordjie vry te laat, maar sy hou haar pose.

Sy draai stadig om en kyk vas in Lientjie se glimlaggende gesig.

Lientjie se oë is glad bottoe van lekker kan lag.

“Dis nie my bedoeling om jou ’n heart attack te gee nie, maar ek staan al ’n tydjie hier en jy vat net nie note van my nie,” maak Lientjie verskoning.

Cathy trek haar skouers ongeërg op. “It take a lot to rattle me.”

“Sit julle ook met ’n rotprobleem?” vra Lientjie.

Toe sy die mengsel van skok en verbasing op Cathy se gesig sien, gaan sy laggend voort: “Toe maar, ek grap net. Ek is nou wel nie van Ingeland nie, maar ek weet wat jy bedoel.

“Anyhow, ek is nie hier vir ginnegaap nie, girlfriend. Ons sit met ’n groot probleem. ’n Helse probleem.”

Cathy frons. Vir Lien­tjie kan ’n mens nie aldag ernstig opneem nie.

Elke tweede liewe ding wat in haar lewe gebeur, is ’n krisis.

Soos die tyd toe sy nie geweet het waar sy haar Lotto-kaartjie gesit het nie.

Lientjie het hoog en laag gesweer daai nommers was die wennommers van die vorige week se Lotto-trekking.

Maar kaantie het sy toe net nul en die bonusnommer ingehad.

“Is dit die wêreld wat gaan vergaan?” vra Cathy en sug. Lientjie is ’n diep gelowige vrou wat glo Openbaring moet elke oggend saam met haar toast afgesluk word.

Lientjie trek haar asem skerp in en slaan met haar een hand op haar bors. “ ’n Mens speel nie met die Woord nie, vrou,” sê sy en swaai ’n vinger vermanend rond. “Die kring van die spotters is nie ’n sirkel nie.”

Cathy grinnik en besluit om Lientjie se siel liewers nie verder uit te trek nie.

“So, what is shaking your biscuit?” vra sy.

Lientjie staar haar grootoog aan. Sy loer eers rond, amper asof daar ander mense in die omtes moet wees.

“Ons het ’n dief-probleem,” sê sy dan in ’n fluisterstem.

“So, what’s new?” vra Cathy. “Dit krioel ook mos deesdae hier in die Pato van die tikkoppe.”

Lientjie skud haar kop.

“Nie daai tipe diewe nie,” antwoord sy in ’n skril stemmetjie.

“Ons sit met ’n panty-dief. Iemand is besig om ons vroue se onderklere-goeters van die wasgoedlyne af te steel.”

“Underwear?” vra Cathy geskok.

“Nee, ek weet nie waaronder nie,” antwoord Lientjie. “Maar ek het al ’n ruk terug agtergekom my panties verdwyn van die lyn af.

“Eers het ek gedog ek verbeel my, maar gisteraand...”

Lientjie bly dramaties stil. Sy is al van kleins af die drama queen, dink Cathy vies.

Nie eens bekeerskap kon haar genees van al hierdie drama-grille van haar nie.

“Ja, wat van gisteraand?” por Cathy haar ongeduldig aan.

“Dit was mos load shedding en pikdonker buite. Maar die maan het so helder geskyn dat ek lekker kon sien in die jaart daar waar die wasgoedlyn is. En toe...”

Lientjie skud haar kop. Cathy is so vies dat sy vergeet het die water het meer as ’n eeu gelede gekook.

“Eers het ek gedog ek sien spoke, maar dit was ’n man daar by die wasgoedlyn.

“Nogal by daai blommetjies-panties van my. Daai een wat broer–”

Sy bly stil, soos iemand wat haar tong raak gebyt het. “Wat gaan ons maak?” vra sy dan benoud.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters