29 dae gelede
Iets gee hom hond se gedagte oor een van dié in beheer
 ~ 

GENIET vandag hoofstuk 8 van nog ’n verhaal deur die ou hand SALMON SMITH. Hy roep dit “Die Vreemde Klong”.

TOE hulle uit die helikopter klim, merk past. Allan Ockhuys op die hele wêreld hier wemel van die soldate.

Oral op die oop stuk veld tussen die bome is tydelike geboue opgerig.

Dit lyk soos ’n tydelike operasiesentrum, natuurlik om die vreemde gebeure rondom Zeno te ondersoek.

’n Groepie soldate staan nader om hulle te verwelkom. Maar vir past. Ockhuys lyk dit na allesbehalwe ’n verwelkomingsparty.

Die soldate is almal met lang gewere gewapen en hulle lyk deurgaans nors en stug. Hy voel onmiddellik onrustig oor dié gedoente.

Past. Ockhuys kyk vlugtig na Zeno. Dié staan net en staar stil na die afgebakende gebied daar ver. Hy vermoed dis dáár dat Zeno die Aarde getref het.

Die man wat hom as kol. Van Deventer aan hulle voorgestel het, kyk hulle ondersoekend aan. Hy laat rus sy oë ’n wyle op Zeno.

Dan kyk hy vlugtig na Lena en Nelie, wat ook verwese daar staan.

“Vat die twee vroue ook daar na die ander!” beveel hy kort en kragtig aan sy manne.

Hy beduie na Ockhuys en Zeno. “Bring die twee saam met my!”

Hy draai om en stap met afgemete treë na een van die geboue.

Toe die soldate hulle met gewere in die rug aanpor, besef past. Ockhuys die weermagkolonel is met onderduimshede besig. ’n Ysige gevoel hardloop teen sy rug af.

Hy kyk onderlangs na Zeno, maar dit lyk nie asof die situasie die laitie enigsins pla nie.

Hulle word in een van die tydelike geboue ingelei. Aan die binnekant lyk dit vir Ockhuys soos ’n tipe interrogation room. Dit het dik glasafskorting en kameras.

Hulle word op twee stoele neergeplak en Van Deventer kom sit oorkant hulle. Twee gewapende soldate staan aan weerskante van hom.

Weer kyk die kolonel hulle twee met so ’n snaakse uitdrukking op sy bakkies aan dat Ockhuys kriewelrig begin raak.

“H’m, askiestog, Kolonel, hoekom word ek en Zeno in ’n ondervragingskamer aangehou? Wat wil julle met ons maak?” vra hy versigtig.

“Omdat ek wil uitvind wie of wat dié laitie is en dan daarvolgens besluit wat om met julle te maak!” bulder Van Deventer se stem deur die vertrek.

Ockhuys wip soos hy skrik. Maar Zeno reageer niks. Hy gluur net met sy donker ogies na Van Deventer.

Van Deventer kyk Ockhuys direk in die oë. “Ek verstaan die klong het uit die hiernamaals, of wat ook al, hier aangeland. Glo in ’n weerligstraal.

“Ek wil nou by jóú hoor wat die regte storie is. Soos ek verstaan, het die klong glo aan jou kop geraak, toe skyn jou kop soos ’n X-ray. En nou praat jy sy taal?

“So, jy beter nou vir my vertel wat hier aan die gang is en hoekom ons nou sit met ’n radioaktiewe gat hier in Duiwelskloof!”

Hy bly ’n oomblik stil. Toe beduie hy na Zeno. “Wie of wat is dié klong en wat is sy doel hier?”

Ockhuys kyk na Zeno se kant. Toe die klong met hom oogkontak maak, verduidelik Ockhuys in Aramees dat hy wat Ockhuys is die kolonel nou alles gaan vertel.

Toe Zeno knik, kyk Ockhuys Van Deventer straight in die gesig.

“Kolonel, jy moet nou mooi luister,” kraak sy stem deur die vertrek.

“Zeno het in die tyd toe Jesus ’n kind was ook as kind gelewe.”

Kol. Van Deventer wil nog daarop kommentaar lewer, maar Ockhuys hou sy hand op. “Bly stil! Moetie in my bek mors nie!” bulder sy stem Van Deventer tot stilswye.

Hy gaan voort en vertel in detail van Zeno se dood. Almal staar hulle oopmond aan.

“Toe, ná al die eeue daar in die hiernamaals, kry Zeno ewe skielik ’n Goddelike opdrag om ons hier op Aarde te kom waarsku oor wat op ons wag. Dít is deel van die laaste dae profesieë.

“Aaklige gedrogte en demone gaan binnekort vanuit ’n ander dimensie hier toesak.

“Satan weet sy tyd is byna om, nou gaan hy allerhande tricks uithaal om hier op Aarde anargie te saai. Ons geveg in die laaste dae gaan teen die bose magte in die lug wees.

“En Zeno is die enigste een wat ons sal kan help, want jul wapens is nie opgewasse teen daardie duiwels nie!”

Ockhuys bly ’n oomblikkie stil sodat sy woorde kan insink.

“Oukei, ek hoor jou. Maar sê my: Hoekom sal ... h’m, gedrogte of geeste in so ’n vaal, dorre plekkie soos Rus­ten­ville wil kom nesskop?

“Alles hier rond, behalwe vir … Duiwelskloof met sy digte bosse, is dor.

“Is dit oor die naam, Duiwelskloof, dat die duiwels hierheen wil kom?”

Van Deventer lag vir sy eie flou joke, maar dis maar ’n baie senuagtige laggie.

Ockhuys verduidelik: “Nee, as julle mooi na die kloof kyk, dan sal julle sien die berge aan weerskante het sulke horingagtige spitse.

“Van ’n afstand lyk dit soos die duiwel se horings. Dit is hoekom ons voorvaders dit ‘Duiwelskloof’ gedoop het.

“Maar vanuit die hel sien Satan dit as ’n baken, ’n soort poort of portal om sy gedrogte die wêreld binne te stuur. Dan gaan hulle vanuit Rustenville hul aanslag op die mensdom loods.

“Dit is hoekom Zeno hier is: om ons by te staan, want hy beskik oor heilige kragte.”

’n Hele rukkie lank staar die soldate past. Ockhuys en Zeno in doodse stilte aan.

Skielik spring Van Deventer van sy stoel af op. “Dit is die grootste stront!” bulder hy. “Demone bestaan net in movies en gruwelboeke!

Hy wys na Zeno. “Dié laitie is ’n alien wat deur ’n portal vanuit ’n ander heelal hierheen verplaas is om op ons te spioeneer!

“Dít is hoekom daardie gat waar hy geland het nou radioaktief is!

“Hy het homself nou soos een van ons vermom!”

Van Deventer kyk na sy twee manskappe hier by hom.

“Neem daardie alien onmiddellik gevange en neem hom na die lab! Ek sal nou besluit wat om met die pastoor te maak!”

Toe die soldate hul gewere oplig, spring Zeno skielik van sy stoel af op. Hy kyk grootoog in die rondte.

Toe begin hy opgewonde babbel. Hy lyk angstig terwyl hy opkyk na past. Ockhuys.

Kol. Van Deventer en sy soldate gee verskrik ’n paar treë terug.

“W-wat s-sê die klong nou?!” hyg hy geskok. Hy kyk grootoog na Ockhuys.

Die pastoor kyk verbaas af na Zeno.

Skielik gryp Zeno sy hand vas en beduie in die lug op. “Dit is tyd!” prewel hy in Aramees.

Skielik is dit asof ’n warrelwindtonnel hulle insuig en hulle weer uitgespoeg word.

Terwyl past. Ockhuys nog verward probeer uitwerk wat presies met hulle gebeur het, sien hy hoe Zeno na iets in die lug staar.

Toe hy opkyk, voel dit of die bloed in sy are stol.

Hier bokant Duiwelskloof gewaar hy ’n vreemde, donker maalkolk.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters