3 dae gelede
Iemand verras die groepie in Uys se kantoor
Oom Sonnie  ~ 

SONLANDERS! Met sy pa aan sy sy ruk Will op na die landdros se kantoor. Dit is hier waar oom Clive aan die landdros en staatsaanklaer sê hulle maak ’n groot fout om Will te vervolg. Maar wat mean die oom? Geniet nou hoofstuk 8 van ELDRIDGE JASON­ se “Die Verhoor van Will E. Hoorie”.

GEELTAND-CLIVE.

Daai’s wat mense oom Clive in sy jonger dae genoem het – voor of agter sy rug.

Oom Clive het altyd gesê daai tand was sy gelukbringer – totdat een van Ballie Bokser se manskappe sy tand uitgeslaan het.

Van daai dag af, nog voor sy jare lange verdwyning, het oom Clive nie meer so baie gesmile nie.

Mense het altyd gesê dat hy sy smile verloor het omdat daar niks is om oor te lag as jy met iemand soos antie Magrieta getroud is nie.

Maar nou, in die kantoor van landdros Q.N. Uys, is oom Clive se smile so wyd en breed soos die Heer se genade.

“Julle het nie veel van ’n saak teen my seun nie,” sê oom Clive baie vol van homself.

“Die eerste hofverskyning was nie per toeval ’n flop nie. Julle skarrel rond op soek na bewyse teen Will.

“Die waarheid is dat daar nie veel evidence is nie. Die twee slagoffers wat niemand nog met ’n oog ná die voorval gesien het nie, is twee professionele tik­koppe.

“Hul werk is om te tik. ’n Tollie vir ’n lollie is soos ’n stokperdjie vir hulle.

“Ek het my huiswerk gaan doen. Nie net is die huis waar die kamstige voorval plaasgevind het, een van Ballie se drug-huise nie, maar daai twee girls het al hoeveel ander sake teen ander gemaak waarvan daar niks gekom het nie.”

Landdros Uys draai nuuskierig na die staatsaanklaer, Dicky Lake.

“Is dit waar wat die beskuldigde se pa sê?”

Dicky lek senuagtig oor sy lippe.

“Edelagbare... dit is so dat die twee klaers... err... ietwat van ’n dodgy verlede het.

“En... ja, daar was al talle klagte in die verlede waar die polisie hul ondersoek gestaak het, want die klaers het later die sake teruggetrek en gesê hulle het ’n fout gemaak.”

“So, is hierdie keer anders? Wie sê nie hulle maak net weer ’n sogenaamde fout nie?” vra die landdros en frons.

Dicky Lake staan in die kantoor met ’n mond vol tande. Hy weet nie watter kant toe nie.

Will maak sy keel skoon.

“Your Honour, ek wil nie snaaks wees nie. En ek weet niks van die law af nie...”

“Behalwe om dit te verbreek?” vra die landdros sarkasties.

“Na bewering, Your Worship. Na bewering,” chime oom Clive in. Die oom is min gespin oor die onwettige panga-kyk wat die landdros hom gee.

“Innocent until proven guilty,” haal oom Clive sy beste Engels uit. “Dít is wat die wet sê.

“Ek mag nou wel nie ’n lawyer wees nie, maar ek weet van regte.

“En van regte gepraat, dink ek nie julle het die regte man hier beet nie. Al daai onheilige dinge het by Ballie Bokser se huis plaasgevind.

“Hoekom is Ballie nie aangekla nie. Is hy dan above the law?”

Landdros Uys maak sy mond oop om iets te sê, maar voordat hy ’n woord kan uiter, is daar ’n polisie-klop teen sy deur en die deur word wild oopgemaak.

Eers sien almal net ’n massiewe blom-doek. Dan tree antie Magrieta na binne.

“Ek hoop nie ek het die paartie gemis nie,” sê antie Magrieta aan die oorblufte groep.

“Ek het mos nie ’n invite gekry nie. So, as Mohammed nie na Bergstraat wil kom nie, kom Bergstraat se mense maar na Landdrosstraat.”

Sy loer beskuldigend na Will, oom Clive en Maggie wat tot nou toe nie ’n woord gesê het nie.

“Kry ’n mens dan nie ’n stoel hier nie?” vra antie Magrieta hoogs verontwaardig.

Dicky Lake vlieg vinnig van sy stoel af en stoot dit in die antie se rigting. Sy plons behoorlik op die stoel neer.

Die pote kreun een of ander klaaglied, maar hou wonder bo wonder.

Sy sit haar bag op haar skoot neer en kyk om die beurt na almal in die kantoor.

“So, wat het ek gemis? Het Clive julle die storie vertel van hoe hy ’n pakkie chips gaan koop en toe vir 20 jaar verdwaal-verdwaal gesukkel het om by die huis uit te kom?”

Landdros Uys gaap haar geskok aan. Dicky Lake weet nie waar om sy kop in te steek nie.

Maggie, Will en oom Clive sing die “Aarde, Sluk My Asseblief In”-koortjie.

“Nee, hoekom is dit dan nou so stil? Mens kon dan van buite af hoor hoe lekker julle gesels,” sê antie Magrieta en draai dan na landdros Q.N. Uys.

“Quinnie Noddy Uys... jy ken my. Ek ken nie nog van lang dinge sukkel nie en hou nie daarvan dat my vel so van my gesig getrek moet word nie.

“Will is stout. Baiekeer wonder ek of dit nie met sy van te doen het nie, maar hy wil nie hoor nie – nes sy pa, Clive Hoorie.

“Nou, ek is ’n god­vresende vrou. God het die waarheid lief en as dit so is dat my kind skillag is, dan moet hy gestraf word.

“Ek weet nie veel van die regstelsel af nie, maar het darem so ’n bietjie Law & Order gekyk en kyk, ek kan jou nou sê: As Will verhoor gaan word, gaan die berge hiervan hoor.”

Landdros Uys skuif ongemaklik op sy stoel rond, juis oorlat antie Magrieta so ál sy name genoem het. Hy het jare gewerk om ’n reputasie op te bou en nie gesien te word as ’n landdros wat sy brood en botter in Toyland verdien nie.

“As ek moet eerlik wees,” sê landdros Uys en wik en weeg sy woorde mooi. “As ek moet eerlik wees, is daar baie dinge in die saak wat nie klop nie.

“Die hof se tyd kan nie verkwis word met ’n hoorsê-verhoor nie.

“Ek gaan dit eenvoudig nie duld nie.”

Hy draai na Dicky Lake, wat heeltyd na ’n ou Andy Capp-spotprent teen die muur gestaar het.

“Meneer Lake, môreoggend 10:00 gaan die saak voort. Ek het ’n beslissing om te maak, so ek stel voor dat jy, indien daar enige iets nuuts is, dit môre aanroer.

“So nie, kan ons nie ’n mens se lewe op hold plaas totdat jy en die polisie klaar cowboys en kroeks gespeel het nie.”

Die landdros draai na Will.

“Jong man, daar is baie dinge in dié saak wat nie sin maak nie, maar iets wat nie betwyfel word nie, is dat jy wel die aand van die beweerde misdrywe by die betrokke huis was.”

“Daar was nie trokke by daai huis nie, Your Honour,” sê Will.

Sy ma gee hom ’n panga-kyk waarvoor sy later sal moet bely.

“Dis net koppies wat ore het waarmee hulle nie hoef te luister nie,” antwoord die landdros kil.

  • “Julle sal my nou moet verskoon, want ek het ’n groot besluit om te maak.” Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters