Verlede maand
Hy moet iets doen om die 2 vroue te red wat hy liefhet
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag kom CEDRIC AFRICA se verhaal “Bloedgeld” tot ’n einde. Geniet die laaste hoofstuk!

STONE is steeds erg verward en ontnugter toe hy later deur stortreën op die Weskuspad ry.

Ons is in dieselfde span. En wat is dit van ’n secret service waarvan daai vroumens netnou gepraat het?

Sy’t my die hele tyd goed vir ’n gat gevat. Gmf! Gastehuiseienaar se moer, man! As ek daai majoor nou in die hande kry, draai ek sy verrimpelde nekkie twee keer om.

Die skril gelui van sy selfoon onderbreek sy gedagtegang.

”Sharon,” antwoord hy kortaf.

“Aweh, masekind. Long time no hear.”

Stone se vingers klem meteens stywer om sy selfoon, maar hy bly kalm. Hy het Sharon dan uitdruklik opdrag gegee om pad te gee.

“Hoe’s my gazie da’ nou soe stil?”

Stone het moeite om sy asemhaling te reguleer.

“Aweh, ou Katte, waa’s julle dan?”

“Masekind, ôs is hie’ byrie captain se krale. Stiek yt by die braai. O ja! Ek het nog ’n masse surprise vi djou: Sê hi vi’ djou cherry vannie volstruisdorp!”

Stone se hart mis ’n slag. Hoe de bliksem is dit moontlik?

“Stone, hulle het my ontvoer. Hulle wil hê dat jy hiernatoe moet kom om jou te ver–”

Stone hoor hoe sy gil toe Katjies haar deur haar gesig klap.

“Hierie plaaskatjie va’ djou is nogals harregat, but ou Katjies wiet hoe om met hul soort te werk. O, ja! Ou Clarence stuur groete.”

Stone trap die petrolpedaal dieper terwyl die vrae deur sy kop maal.

“Ek scheme ek het nou jou volle attention, ou Stone. O ja! Hoe Katjies gewiet het wa’ hiérie katjie wegkruip, issie nou important nie.

“Wat rêrig important is, is dat jy jou gat baie gou hiesa kry.

“En moetie worry nie; ons wil net gesels. Mr. Meintjies-hulle is mos reasonable ouens.”

Ek moet probeer tyd wen voordat Katjies ’n stupid ding aanvang.

“Oukei, Katjies, ek kom, maar ek wil eers met Sharon praat,” probeer hy die gesprek aan die gang hou.

“Ek dink nie sy wil saam met djou pratie. Het jy gewiet sy jol nou saam ou vet Giep? Luister djy ma’ self of sy djou stem wil kry.”

“Stone, hulle moes geweet het ons wil vlug. Hulle het ons met ’n poeliesvên by die flat kom haal.”

“Daai’s genoeg! Djulle twietjies ka’ later lekke’ chat orie goeie ou dae in julle larney flat.”

DIT motreën nog toe hy die klein Weskusdorpie binnery. Hy parkeer sy kar op ’n veilige afstand in die larney woonbuurt waar kapt. Rollison bly. Dan draf hy die paar honderd meter tot in die cul-de-sac waarin Rollison se huis uittoring.

Daar was ’n tyd toe hy hier soos ’n huiskind gekom en gegaan het, maar vandag is hy ’n public enemy.

Stone spring van die hoë grensmuur af en land geluidloos in Rollison se erf.

Die huis se ligte is dood. Hier is niemand in sig nie.

Óf hierdie ouens is van ’n pos af óf hulle wag dat ek aan hul deur kom klop en sê: “Hier’s ek. Nou kan julle ma’ dala.”

Stone staan roerloos onder een van Rollison se groot koeltebome terwyl sy verstand oortyd werk.

Daar is kommer in die gewoonlik selfversekerde kapt. Rollison se stem toe hy uit sy slaapkamer op die balkon uitstap.

“Probeer seker om jou baas in die hande te kry? Maar net soos ek is julle vanaand aan jul eie genade oorgelaat.”

Rollison staar in ongeloof na die skim in swart kamoefleerdrag voor hom. Hy maak sy mond oop om alarm te maak, maar Stone se vuis ontplof teen sy gesig. Hy hoor hoe sy kaak skeur en teen sy wangvleis vassteek. Hy sak kreunend ineen.

Dan ’n stem: “Kapt. Rollie, wa’ de donner draai–”

Stone en Katjies staar ’n oomblik roerloos na mekaar. Dis Katjies wat eerste na sy pistool voor in sy broek gryp, maar dis te laat. Die vlymskerp lem van Stone se jagmes tref hom netjies tussen die oë. ’n Doodsnik ontsnap moeisaam uit sy longe terwyl bloed gemeng met sweet ’n rooi kol op Rollison se duur tapyt maak.

Stone drafstap ligvoets in die gang af. ’n Skoot vanuit die sitkamer bring hom tot ’n halt.

Die vetgat Giepie lewe darem nog, dink hy met ’n wrang glimlag toe hy Giepie soos ’n maer vark hoor skree.

“Shut up! Dis deur jou en die stupid teef se eie nwattas dat julle vanaand hier sit!” gil Die Beer histeries terwyl hy sy pistool blindelings op hulle rig.

Ek sal moet gou speel; vrees laat ’n man met ’n gun in sy hande baie stupid besluite maak, dink Stone waar hy roerloos in die donker gang staan.

Hy oorweeg sy opsies, waarvan hy nie veel het nie. Dan besluit hy op die een waarin hy die beste is.

Nog ’n skoot klap. Die Beer staar verward na sy bebloede vingers en dan na sy pistool, wat nou nutteloos op die vloer voor hom lê.

Toe hy tot sy sinne kom, is Stone by hom. ’n Haakhou teen sy gorrel laat hom na sy asem snak. Dan bring Stone hom met ’n hou teen sy sleutelbeen vloer toe.

Stone glimlag wrang toe die reus van ’n kapt. Solly de Beer in ’n patetiese bondel voor hom lê. “Jou twee buddies lê daar bo. Rollie sal lewe, maar jou adjudantjie, Katjies, het pas sy Heer ontmoet. Hy sal nooit weer die son sien nie en dis alles jóú skuld.

“Maar ou Stoney is nie ’n k*k jong nie. Hy sal jou nog ’n kans gee ... as jy wil.”

Die Beer sing soos ’n voëltjie. Kapt. Rollison het ’n skelm verhouding met Salomie gehad oorlat sy bad luck vrou nie kan kinders hê nie. Toe sy preggies raak, het hy haar in haar moer gestuur. Sy het gedreig om sy vrou te vertel, toe laat hy Katjies haar uithaal.

Die hit op hom en als wat skeefgeloop het, was Katjies en kapt. Rollison se idee. Dead men tell no tales.

DIE dag breek. Stone staar met gemengde gevoelens na Sharon, wat om haar Giepie kloek. Nellie het net ’n inspuiting vir skok gekry.

Kapt. Rollison en Die Beer is agter­in die vangwa. Hulle sal op hul tyd – saam met hul baas, Hilton Meintjies – hul storie verduidelik.

“Kom ons gaan huis toe. Hier is niks meer vir my in hierdie Weskusdorpie nie, behalwe bad memories.

Nellie haak swygend by Stone in toe hulle in die motreën terugstap na sy kar. Hy het nog altyd gehou van happy endings. Sharon blyk gelukkig te wees met haar vet Giepie en hy wat Stone is, weet reeds hy’t ’n tweede kans op ware liefde gevind. Hy trek Nellie speels nader en soen haar liggies op haar voorkop. Dan lui sy selfoon skril.

Wie kan dit nou dié tyd van die oggend wees?

Hy herken die majoor se toonlose stem amper onmiddellik. Dan voel hy hoe sy bloed na sy kop toe stoot.

“Môre, Ouboet. Ek hoor jy het jou goed van jou taak gekwyt. Welkom by die span. Ontmoet my môreoggend 09:00 by die restaurant in Oudtshoorn. Ek het ietsie vir jou, en miskien nog ’n takie.”

Die majoor lui af voordat hy kan vra: “Welkom by watse span?”

“Wie was dit?” fluister Nellie agterdogtig in sy oor toe hy glimlag.

“Ek dink dit was my nuwe baas. Ek gaan saam met hulle dwelmneste uitroei.”

  • Die einde

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters