Verlede maand
Hulle van Vidag se stories van gister kom spook
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Meisiepop kom agter haar streng ma, antie Ragel, steek iets vir haar weg. Daar is egter een mens, oom Spekko, wat haar meer sal kan vertel. Sy moet net by hom uitkom. Geniet nou hoofstuk 2 van EL­D­RIDGE JASON se “Meisiepop”.

TEN spyte van ál haar ma se pogings om haar toe te gooi onder take, vergeet Meisiepop nie om ’n draai by oom Spekko te gaan maak nie.

Antie Ragel moet later self skuinslê van moeg kan wees om haar dogter moeg te wil maak.

Dis net die geleentheid waarop Meisiepop gewag het en nadat sy doodseker gemaak het dis legitimate balke wat haar ma in haar slaapkamer saag, drafstap sy af na oom Spekko se huis.

Sy kry die ou man op sy stoep sit met ’n stewige knerts Olof Bergh in ’n bewende hand.

“Ek het geweet jy gaan kom,” sê oom Spekko toe Meisiepop die trappies bestyg. “Jou ma kan maar wát maak, jy gaan nie rus tot jy die antwoorde gekry het waarna jy so smag nie.”

Meisiepop kan kwalik haar verbasing wegsteek. Sy het op pad hierheen hoeka gewonder met watter ompad sy oom Spekko aan die praat sou kry.

Nou blyk dit die brandy en oom Spekko se gewete het reeds die aanvoorwerk namens haar gedoen.

“My ma steek iets vir my weg,” val Meisiepop sommer sonder deur in die huis.

“Ek weet nie of dit met my pa te doen het nie. Lewe hy dan nog? Sy het dan gesê hy is kort ná my geboorte dood.

“Maar ...” Sy bly ’n oomblik stil en tuur oor oom Spekko se netjiese tuin. “Maar daar is nie eens ’n foto van hom in ons huis nie. Tot hierdie dag weet ek nie eens wat sy naam was nie – dis nou ás hy dood is.”

“Anna Moss-Surtie,” antwoord oom Spekko. Hy grawe in sy broeksak, bring ’n gefrommelde Stuyvesant-pakkie te voorskyn en steek vir hom ’n entjie aan.

Byna dadelik bars hy uit in ’n hoesbui soos min.

“Oom moet die rook los,” sê Meisiepop besorg. “Dis nie goed vir Oom nie.”

Oom Spekko wil iets sê, maar ’n splinternuwe hoesbui oorval hom. Ná ’n ruk blaas hy verlig sy asem uit.

“Dis die rook wat mý nie wil los nie,” sê hy dan met nat, betraande oë. “Maar hier in die pylvak van my lewe gaan ek nie nog opgee op een van die min plesiertjies wat ek nog het nie.

“Waar was ek nou weer? O, ja ... Anna Moss-Surtie ... Lui die naam ’n klokkie by jou?”

Meisiepop skud haar kop. Oom Spekko blyk confused te wees. “Animosity” is ’n woord, nie ’n naam nie.

“Dalk moet Oom ’n bietjie gaan skuinslê?” stel Meisiepop voor. Dit voel nie reg om nou antwoorde by Oom Spekko te soek terwyl die hoesery duidelik na sy kop gegaan het nie.

Oom Spekko grinnik. “Een van die dae het ek die ewige rus, kind.

“Buitendien, my ou lyf is al seer van rus. Nee, wat. My moeg is glad nie só moeg nie.

“Ek wil nou die storie vertel van Anna Moss-Surtie, as dit oukei is met jou? Is jy gereed vir die waarheid?”

Meisiepop knik. Sy sal maar die oom laat begaan. Dis seker weer een van daai stories waar hy die een ná die ander spekfabriek skiet.

Oom Spekko kug en vat dan weer versigtig ’n trek van sy sigaret. Wonder bo wonder hou sy bors hierdie keer en van dapperheid vat die oom sommer nóg ’n diep skyf. Hy blaas die rook behaaglik uit en draai dan na Meisiepop.

“Die storie van Anna Moss-Surtie loop hand aan hand met dié van Hulle van Vidag.”

“Hulle van vandag?” vra Meisiepop nuuskierig. “Wie is hulle, en wat het dit met vandag te doen?”

Oom Spekko lag. “Nee, hulle is eintlik Hulle. Dis sy naam, so waar as God.”

Oom Spekko spoeg op sy vinger en maak ’n nat kruis teen sy voorkop. “God se waarheid,” sê hy weer.

Flitse van Covid-balletjies speel voor Meisiepop af, maar sy skud die gedagtes af.

“Hulle van Vidag ... nie vandag nie, Vidag. Hulle van Vidag was ’n ryk, verwaande klong wat altyd hier kom kuier het.

“ ’n Regte pyn in die dinges. Spiky hare, altyd rondgeloop met arms breed oop, soos iemand wie se roll-on net nie kan droog word nie.

“En Anna Moss- Surtie ... sy was die mooiste girl in die dorp. Oulike gesiggie, ’n figure wat enige ou man maar gerus ’n stroke kon gee en ’n smile wat ’n man laat vergeet het daar is ’n vrou en kinders by die huis wat wag op sy pay-pakkie.”

Oom Spekko draai na Meisiepop. Daar is ’n skuldige uitdrukking op sy gesig. “Baie van ons manne hier het maar aan Anna Moss-Surtie-sindroom gely. Ons kon dit nie help nie.

“Daai meisie het ons betower. Almal wou haar kansel toe sleep. Toe steek Hulle van Vidag op ’n dag hier uit en steek ’n stokkie voor ons almal se wildste drome, die vark.

“Daai was net voor die millen­nium aangebreek en ál wat doemprofeet mos voorspel het dat die wêreld tot ’n einde gaan kom. Askies, kind.

“Ek sit en raak sommer van oor af weer kwaad as ek dink hoe Hulle van Vidag ons almal ’n traan kom druk het. Ek was daai tyd nog getroud. Die liewe Heer het my nog nie daardie tyd die guns kom doen en antie Meitjie kom haal nie. En ’n man bly mos ’n man.

“Anna Moss-Surtie was nie bestand teen sy stedelike sjarme nie.

“Dit was nie lank nie, toe is sy in die ander tyd. Maar dit was mos ’n ander tyd daai gewees waar as jy in die ander tyd was en jy was nie getroud nie, jy nét so ongehoorsaam was soos Moses wat ’n woestyn sonder GPS aangedurf het. Anna Moss-Surtie het net klaar gekraam, toe kom Hulle van Vidag met sy dinge.

“Destyds het Hulle voor almal van ons se oë Anna Moss-Surtie se voete onder haar uitgeslaan en haar oor sy skouer gegooi. So is hy met haar weg Kaap toe.”

Meisiepop frons. Sy volg nou nie so lekker die storie nie.

“Voete onder haar uitgeslaan?” vra sy confused. “Het hy met sy charm haar voete onder haar lyf uitgeslaan?”

Oom Spekko skud sy kop. Nee, met ’n crowbar. Hy het haar met ’n crowbar gepootjie en voor enige een van ons kon keer, is hy in sy Ford Cortinatjie hier weg. Ek dink dit was ’n 1975-model. Collector’s item. Bloedrooi, met ’n pikswart dak ...”

“Nou hoekom vertel oom Spekko hierdie vir my?” vra Meisiepop.

“Want,” antwoord oom Spekko en vat nóg ’n trek aan sy entjie, “die kind wat Hulle van Vidag so in sy haas agtergelaat het, was jy, Meisiepop. Dit was jy ...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters