29 dae gelede
Hettie vertel in trane vir Meester wat gebeur het
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Elton van der Ross is glad nie hêppie met sy vonnis nie en sweer hoog en laag hy het dit vir sy ma gedoen. Oumeester Connie Claassen, wat nou sy lyf journo hou en die hofsaak gedek het, wil graag ’n onderhoud met Elton se ma voer, maar weet nie hoe om verby die vragte mense te kom wat haar altyd vergesel nie. Geniet nou hoofstuk 3 van CEDRIC AFRIKA se “Met Liefde Vir Mamma”.

DIE noodlot laat hom nie voorskryf nie. Hy bepaal sy eie dinge, dink Meester Danie weemoedig terwyl Hettie droewig snik.

Haar hele liggaam bewe, asof sy die vernedering en pyn van daardie gruwel-aand opnuut ervaar. Daardie aand toe ’n gewetenlose monster haar van haar onskuld beroof het.

“Suster Hettie hoef nie verder te vertel as dit u so erg ontstel nie,” sê Meester ná ’n rukkie.

Sy kyk op in die flou straatlig wat oor die motortjie skyn en glimlag, maar haar oë glimlag nie saam nie.

“Nee, Meester, ekskuus … Ek wil vertel en dit vir ewig van my skouers afkry.”

Hy glimlag tevrede toe sy met die reeds nat gehuilde sakdoek oor haar gesig vee.

“Hy … hy het oorgeklim na die passasiersitplek, waar ek nog vreesbevange gelê het.

“Die pistool se koue loop was steeds teen my slaap.”

Sy beduie met haar wysvinger teen haar kop.

“Die volgende oomblik, toe is hy bo-op my.”

’n Traan rol weer sonder waarskuwing oor haar wang.

“Ek het probeer skreeu … probeer baklei, maar die pistool teen my kop … Sy oë was wild in sy kop.

“ ‘Jy hou jou verniet soos ’n virgin! Jy’s nét so skynheilig soos jou dominee en sy kerkraad!’ het hy met sy wynasem op my gegil. Toe skeur hy die klere van my lyf af ... en gaan soos ’n wilde dier bo-op my te kere.”

Sy bly ’n oomblik stil, asof sy die laaste bietjie moed probeer bymekaarskraap.

“Meester, ek … ek was nog onskuldig … as Meester verstaan wat bedoel.”

Sy glimlag skaam, maar vermy sy intense blik.

“Dit wat ek gekoester het vir eendag wanneer die Here vir my ’n man sou stuur, is my ontneem deur Daniel Britz.”

Dis ’n oomblik stil in die motor, behalwe vir die stortreën wat onversteurd op die motor se dak val.

Hy wag geduldig dat sy haar emosies onder beheer kry. Dan gaan sy voort, met alle erns.

“Toe hy klaar was, het hy van my af opgespring en verward na my gestaar … so asof hy uit ’n trance teruggekeer het ... maar die volgende oomblik het hy wéér die pistool tussen my oë gedruk. Hy’t my gewaarsku dat indien ek sou besluit om polisie toe te gaan of dit sou waag om met enige iemand te praat, hy my sou doodskiet. Ek moes ook aan my sussie dink.

“Wat sou van haar word as enigiets met my sou gebeur? Twee weke het verbygegaan, maar hy het my vermy soos ’n pes. Die dorp het toe reeds gegons dat hy daardie middag by die kerkraadsvergadering van sy amp as wyksdiaken en tesourier onthef was.

“Oom Danie het ook nie meer omgegee wat mense van hom sê nie. Hy het openlik aangegaan met sy dronk partytjies en onsedelikheid tussen die jong meisies, meestal op die plase, waar hy voorheen as die altyd nederige diaken in die bediening gestaan het. Die eens gerespekteerde kerkman het by die dag meer geldgierig geword en selfs gespog dat dit die kerk se geld was waarmee hy die tavern gebou het.”

’n Sug ontsnap haar longe.

“Dit was net voor toemaaktyd toe hy een aand besope by die winkel opdaag. Die atmosfeer in die winkel was toe reeds geruime tyd gespanne.

“Hy het ons almal na sy kantoor ontbied. Die boeke het toe kwansuis nie geklop nie, oorlat daar kastig gereeld geld uit die tille gesteel is.

“Ousie Emma was so geskok oor die valse beskuldigings dat sy net daar in die kantoor begin huil het.

“Hy het my toe opdrag gegee om die aand agter te bly vir stocktake.”

Sy bly weer ’n rukkie stil, so asof haar moed haar wil begewe.

“Daardie gemors is dood. Hy kan níks meer aan my doen nie. Vanaand raak ek ontslae van hierdie skuldgevoel wat my nou reeds meer as 20 jaar agtervolg en teister,” moedig sy haarself aan.

Dan gaan sy voort, met nuwe durf.

“Nadat ousie Emma en die ander meisies geloop het, het hy die winkel gesluit en my beveel om my klere uit te trek terwyl hy my weer begin betas het. Ek het geweier en my met alle mag teen hom verset.

“Hy het my deur my gesig geklap dat ek my balans verloor. Ek het my kop hard teen ’n rak gestamp en die volgende oomblik het dit vaal voor my geword. Ek weet nie hoe lank ek daar gelê het nie. Ek moes my bewussyn verloor het. Toe ek my oë weer oopmaak, het hy reeds regop gestaan. Hy was besig om sy broek vas te maak.

“Sy gesig was hard en uitdrukkingloos toe hy na my staar waar ek steeds sonder klere gelê het.

“Toe beveel hy my met ’n kil stem dat ek moet opstaan en my gaan skoonmaak.”

Trane kronkel weer opnuut oor haar wang terwyl sy haar vingers senuagtig inmekaar steek. Maar niks kan haar meer keer nie.

Sy het lank genoeg geswyg.

“Ek … ek moes daardie aand huis toe loop, Meester. ’n Erg vernederde vrou wat vrees vir haar lewe.

“Ná ’n paar weke het ek met skok ontdek dat ek swanger was met oom Danie se kind. Ek was vreesbevange om die nuus met hom te deel.

“ ‘Maak die kind af. Gaan vir ’n aborsie as jy nie weet wie daai kind se pa is nie, was sy woorde.

“Ek het toe maar besluit om ousie Emma in my vertroue te neem en haar raad te volg.

Toe hy van my planne hoor om my ongebore baba te behou, het hy my dadelik gefire.

“Hy my dreigend laat verstaan wat die gevolge sou wees as ek met enigiemand sou praat oor wie die kind se pa is.

“Ná Elton se geboorte het ek, soos vandag, steeds los werkies gedoen om te oorleef en Daniel Britz nooit ’n sent gevra nie.

“Elton was my bondeltjie vreugde en het op ’n druppel water na sy pa gelyk ... en met my geheim oor wie die kind se pa is, is ousie Emma na haar graf … of so het ek gedink, tot ná die moord op oom Danie.

“Die jare het voortgegaan en Elton was ’n voorbeeld vir sy klasmaats, het sy juffrou gesê. Tot een middag ná skool. Ek kon dadelik sien dat hy ontsteld is. Hy wou uit die bloute weet wie sy pa is.”

Sy staar weer ’n oomblik na niks.

“Hy het my onkant betrap met daardie vraag, Meester. Ek het hom toe maar weer dieselfde ou storie vertel dat sy pa in Kaapstad vermoor is. Ek … ek hoop nie Meester neem my kwalik nie. Dit het my voor die Here gepla dat ek nie die waarheid durf vertel het nie. Dit was om hom te beskerm.

“Ek onthou nog daardie verwarde uitdrukking op Elton se gesig.

“Hy het sy mond oopgemaak om iets te sê, maar daarteen besluit. Hy’s kamer toe en het die res van die dag daar gebly. Ná daardie dag was hy nooit weer dieselfde opgewekte seun nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters