Verlede maand
Harriette-hulle se straat gons kwaai oor haar situasie
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders. “Awêh” is ELDRIDGE JASON­ se jongste verhaal. Geniet die eerste hoofstuk!

GROOTBOOM is ’n groot en swaar van om te dra.

Baie swaarder as vanne soos Koekemoer, Draghoender en Skelem.

Moenie dat jy boonop ’n double- barreled van het nie.

En dat jou naam Awêh is. Awêh Kleyn-Grootboom.

Cyberbullying was nog net ’n kwelstuk soos die vraag of daar life jackets is op Mars is, toe word Awêh al deur boelies gekasty.

Kyk, by sy geboorte het Awêh se ouers mos gedog hulle is verskriklik kreatief toe hulle een aand rondom ’n okkapyp met sy naam vorendag gekom het.

Awie Kleyn en Harriette Grootboom.

Awie met die klein verstandjie en Harriette met die groot ... Oukei, julle kry seker die prentjie.

Harriette het ’n groot skooltas gehad. Hoe dan anders?

Anyhow, van laerskooldae af was Awie en Harriette onafskeidbaar.

Hulle was soos mense wat ’n long en ’n nier deel van die dag af toe Awie in die eerste pouse sy bakkie bakbrood met Harriette deel.

Die grootmense kon maar hóé skel, Awie en Harriette kon net eenvoudig­ nie van mekaar af wegbly nie.

Awie was maar van sy geboorte af aan die dowwe kant en vroeg in sy lewe het ’n ieder en elk maar aanvaar hy sou nooit by Brights ’n werk kry nie.

Geniaal was Harriette nou ook nie, maar daar was darem meer tussen haar ore.

Dit was asof sy die brein van die verhouding was en Awie was haar pienkerig-om-die-kiewe meeloper.

Harriette het haar bes gedoen om Awie met sy skoolwerk te help.

Maar van die eerste skooljaar af al kon Awie nie Boet en Saartjie, asook Die Sewe Maats verstaan nie. Selfs Buks die hond in dié verhale was te slim vir Awie.

Om haar undying love aan Awie te bewys, het Harriette ook maar gesorg dat sy elke jaar druip sodat hulle ’n skooljaar saam kon oordoen.

Hier by standerd 6-goeters was dit al amper tyd vir die twee se 21st birthday-paarties.

Awie was al onder baard – meer as die nat-agter-die-ore-onnie wat pas van Bok-kollege vir Awie en Harriette moes skoolhou.

Harriette het in Mister Josephs, die jonge onnie, se klas ook min aandag gegee.

Haar tyd op die skoolbanke het sy verwyl deur die een ná die ander dik Ena Murray-omnibus te verslind.

Mister Josephs het nie oor die twee lovebirds geworry nie, want hulle het hom die minste probleme gegee.

Behalwe natuurlik eksamentyd wanneer hy sy kop gebreek het oor hoe hy aan die kringbestuurder die twee se punte, wat onder vriespunt was, moet verduidelik.

Maar kwart voor Harriette se 21ste verjaardag was Mister Josephs se kopkwale iets van die verlede: Harriette was met die lyf. Swanger. Verwagtend. Deur ’n onwillige ooievaar besoek.

’n Ooievaar wat kort daarna die jaarlikse ooievaar-simposium bygewoon en toe almal geskok het deur sy bedanking in te dien.

Hoe dit ook al sy, ál Kêrrimstraat se inwoners was geskok toe hulle hoor Harriette gaan ’n babatjie kry.

Van agter toegetrekte gordyne het al wat Kêrrimstraat-bewoner is elke keer geloer as dominee Salwing by Harriette en haar ouers kom huis­besoek doen het.

Dit was nie moeilik vir bure om die Grootbooms se voordeur dop te hou nie, want daar was maar ’n klein ou boompie in die jaart wat nie die voordeur versteek het nie.

Dit het gegons oor of Harriette, wat toe haar kerk se worship team leader was, onder sensuur geplaas sou word.

Oom Kissie en antie Tryntjie Grootboom, Harriette se ouers, het hulle ook skaars gehou en weinig hul gesigte buite gewys.

Dit was soos dood in daai straat. Harriette se bollemaag was die grootste nuus in die buurt vir dekades. Lanklaas was daar so ’n skande.

Die laaste skande was nog die dag toe oom Piet Furdriet sy stoof wit gepaint het. Die mense het so geskinder pleks van bid sonder ophou, dat oom Piet Furdriet toe maar vir hom ’n ander stoof op skuld by Lewis gaan vat het.

Aan die ander kant het Awie en sy ouers, Medium en Saaizella Kleyn, soos celebrities in die strate rondgeloop.

Medium met sy kierie, want hy was op disability van buttons rook.

Saaizella met ’n geblomde rok wat so groot soos ’n tent was en wat Kêrrimstraat se mense altyd laat wonder het of die gesin op pad was om iewers te gaan kamp.

Die atmosfeer is droewig in die Grootboom-huis toe hulle rondom ’n ghellie-blik met dominee Salwing byeenkom om die saak te bespreek.

Dit is ’n ysige wintersagtermiddag.

Dominee Salwing wens innerlik dit was al nagmaal-Sondag sodat hy die koue kon verdryf.

Oom Kissie staar strak voor hom uit.

Antie Tryntjie klou aan haar Bybel vas. Harriette speel met een van haar rok se frilletjies.

Dominee Salwing maak hard sy keel skoon.

Die drie voor hom maak traag oogkontak.

“Beloveds,” sê dominee Salwing en slaan sy oë vir ’n paar sekondes op ... na die portret van die Himalaja-berge wat teen die muur pronk.

“Ek is hier met die medewete en goedkeuring van die kerkraad.

“Nou, soos u almal weet, glo en vertrou ons dat elke kind ’n blessing van God is, maar die huidige situasie waar hierdie jonge dogter ...”

Dominee Salwing bly vir ’n oomblik stil toe hy agterkom oom Kissie staar na hom.

Totdat hy besef vandat die oom nie meer stilletjies Lion Lager agter in die Wendy drink nie, kyk hy so effens skeel.

Oom Kissie se blik was eintlik maar heeltyd op die voordeur, uit vrees dat een van die bure kamma-likes nou suiker gaan kom bedel-vra om te kom uitvis.

Weer maak dominee Salwing keel skoon.

“Klein-suster Harriette, die darling van ons worship team, is nou in die ander tyd.”

Harriette se blik verskuif na die groot ou Windsor-horlosie teen die muur.

Dominee Salwing is besig om sy salwing te verloor; besig om tred met tyd te verloor, dink sy.

Dominee bla-bla-bla ál aan, maar niemand vat verder notisie van wat hy sê nie.

Eers toe die Godsman groet – diep teleurgesteld dat antie Tryntjie hom nie één stukkie van haar famous tuisgebak aangebied het nie – onthou hulle met ’n skok wat die dominee gesê het. Dat Harriette en Awie sal moet trou.

So gou moontlik. Moontlik die gouste tyd available.

Nog voordat Jakkals en Wolf se kind óók kind kry...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters