24 dae gelede
Haar rustige aand raak toe skielik ’n volslae nagmerrie
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Ons skop vandag af met ’n nuwe kind in die Oom Sonnie-huishouding. ESME CUPIDO maak haar debuut met “Vir ’n Dag of Drie”. Geniet die eerste hoofstuk!

DIE deur gaan huiwerig oop.

Hy sien ’n vrou voor die televisie sit, haar oë stip op die stel. Sy hap ingedagte aan ’n stuk brood, kou en sluk. Hap weer.

Haar hand reik na ’n glas met rooi vloeistof.

Toe skok haar oë op sy gesig tot stilstand, die hand met die koeldrank in die lug. ’n Oomblik lank staar hulle na mekaar.

“Net een geluid en ek skiet jou derms uit!”

Hy druk die deur agter hom toe terwyl hy die gun op haar rig. Haar verstarde gesig kyk na hom.

“W-wie is jy?” Haar stem is krakerig.

“Piet Pompies,” sê hy smalend. Hy stap dieper die vertrek in. Behalwe vir die stemme op die televisie is die huis stil.

Hy kyk om hom rond. Kleinerige oopplanvertrek met ’n kombuis aan die oorkant. Die kombuislig brand skel.

“Waar is die ander mense?

“Dis net ek en...”

Haar stem verstil, oë groot en bang op hom gerig.

Met een beweging skop hy ’n stoel uit sy pad en gryp haar aan die skouers.

“Ek waarsku jou, Antie, moenie iets try nie. Verstaan jy my? Verstaan jy my!?”

“Ek verstaan jou! Eina! Moet my nie seermaak nie, asseblief? Jy kan alles vat. Alles.”

Daar is smeking in haar huilerige stem.

Hy los haar skielik dat sy soos ’n lappop op die bank terugval.

“Ek vra weer. Waar is die ander mense? Wie is nog saam met jou in die huis?”

Op die televisie bulder Rocky se stem bevele uit.

“En sit die blerrie TV af!”

Sy gryp verbouereerd die remote. Sy sit die TV eers kliphard en toe op ’n ander kanaal voordat sy die regte knoppie druk en dit afsit. Skielike stilte.

Haar oë kyk bang op na hom, sak dan laer af na die gun wat steeds op haar gerig is. “D-dis net ek en Frederik. Dis al. Net ons.”

Met een beweging is hy by haar. Hy druk die gun teen haar linkerslaap.

“Waar’s hy?” sis hy. “Ek skiet jou vrek.”

Sy begin saggies huil.

“H-hy is in my kamer. Asseblief, moet hom nie seermaak nie.”

Hy buk effens laer, fluister in haar oor. “As jy enige iets waag... énige iets, ek sweer ek skiet julle albei. Verstaan jy my?”

Sy knik saggies. Die trane loop oor haar wange. Hy beweeg saggies agteruit, gun steeds op haar gerig.

Vanuit die oopplansitkamer en -kombuis loop ’n gang. Twee deure aan weerskante van die gang. Die badkamer is aan die bopunt van die gang.

Hy wys twee vingers na sy oë en sy wysvinger na haar. Hy hou haar dop.

Die eerste vertrek is leeg, behalwe vir ’n enkelbed en ’n kas.

Hy beweeg versigtig na die volgende vertrek. Die deur is toe. Hy stamp dit oop en swaai die gun in verskillende rigtings.

Daar is niemand. In die vensterbank sit ’n kat. Die kat staar hom uit die hoogte aan, spring van die vensterbank af en stap kop in die lug verby hom.

Terug in die sitkamer sit die vrou met die kat in haar arms. Wiegend, asof sy ’n baba vashou.

“Oukei, so dis die kat van wie jy gepraat het, reg?”

Sy knik net. Hy gaan sit op die bank oorkant haar.

Haar oë gaan vinnig oor hom. ’n Jong seunsgesig. Sy skat hom nie ouer as 20 nie.

“Wat maak jy hier? Wat wil jy hê?”

Hy leun effens vorentoe. “Kyk hier, Antie, hier vra ék die vrae, jy antwoord. Verstaan ons mekaar?”

Sy knik. Wat wil die man hê? In haar beursie is net die R200 wat Sybil haar gestuur het.

Haar oë verskerp. Sybil! Sy kyk vinnig op haar polshorlosie. Dis 19:56.

Die skielike beweging laat die man die gun weer hoër rig. Op haar gesig. Op haar skoot lig die kat sy kop en kyk haar vraend aan.

“Moenie iets try nie. Ek waarsku jou.”

“Nee, ek doen niks. Dis net … ek onthou nou Sybil gaan my bel. Sy’t gesê–”

“En wie is Sybil? Jy gaan nie daai foon optel nie. Verstaan ons mekaar?”

“Maar ek moet, want an–”

Hy spring op. Sy gesig is wit van woede. “Al bel Alice in Wonderland jou, jy tel nie daai foon op nie.”

Die man voeg by: “Verstaan ons mekaar?”

Op die tafeltjie voor haar verlig die foon se skerm, dan volg die skerp luitoon.

Sy het vroeër met die foon gesit en speel en die luitoon verander.

Sy moet tog onthou om later, wanneer die man weg is, weer haar ou een op te sit. Hierdie een sal selfs muskiete irriteer.

Sy kyk angstig na hom. “Jy verstaan nie. As ek nie optel nie, dan gaan sy weer bel. En weer. En dan …”

Die geluid word harder hoe langer dit lui. “F*kk*t!”

Die geluid hou op. Sy kyk na hom.

“As die foon weer lui, tel jy op, maar sit dit op speaker. As jy enige iets sê …”

Hy skuif vorentoe op sy bank, gun weer netjies tussen haar oë gerig.

Die foon het skaars weer begin lui, toe gryp sy dit.

“Vir wat vat Mammie so lank om die foon op te tel?”

’n Kwaai stem.

Sy kyk vinnig in sy rigting. “Nee, e-ek was gou... h’m... ”

“Praat reg! Jy wil nie hê sy moet iets agterkom nie. Anders …” fluister hy saggies en dringend.

“Vir wat hakkel Mammie soos een wat iets wegsteek? Sit oom Jors dalk daar by Mammie en nou is Ma skaam?”

’n Laggie klink op.

Sy kry haar beheerstheid effens terug.

“Nooit, never. Sal ek nou met daai geraamte hier opgeskeep sit? Nee, ek was besig om wasgoed op te vou.”

Die man wys geïrriteerd dat sy die gesprek moet kortknip.

Die kat kom sit voor hom. Besluiteloos oor of hy aan die man se skoene moet ruik.

“Wag, my kind, Frederick karring hier oor sy kos. Ons praat mos môre weer.”

“Maar ek bel mos net Sondae vir Ma. Ma sal daai geheuepille moet kry.”

“Koebaai. Tot môre.”

Sy druk die foon dood.

“Waar’s slaapplek vir my?”

“Hoe nou?”

“Waar kan ek slaap, Ouvrou?”

“Jy gaan nie net steel en dan loop nie?” vra sy verskrik.

Hy gee ’n lelike lag.

“Luister, en luister nou mooi: Al wat ek soek, is slaapplek vir ’n aand of drie.

“En dat jy jou mond styf toehou daaroor. Verstaan ons mekaar?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters