17 dae gelede
Gwenyth se dag begin baie anders sonder Tandi daar
 ~ 

HAAI, Sonlanders! “Vrou uit die Township” is CHRISTO MEYER se jongste pennevrug. Geniet die eerste hoofstuk!

DIS ’n Maandag in Februarie in ’n vooraanstaande buurt. In ’n dubbelverdiepingwoning met klankdigte mure gaan daar stiptelik 06:40 ’n alarm af.

Gwenyth Scheffers skrik wakker, steek haar hand uit en druk die geraas op die bedkassie met haar wysvinger dood. Nes elke ander weeksoggend staan sy nie onmiddellik op nie.

Daar is geen haas nie. Sy hoef eers teen 08:30 op kantoor te wees.

Gwenyth draai op haar rug en kyk diep ingedagte na iets teen die plafon. ’n Glimlag vorm om die hoeke van haar mond. Die lewe is ’n lied, die woorde soet en vrolik in haar ore.

Sy het so baie om voor dankbaar te wees. Soos wat sy haar ouers destyds belowe het, het sy ’n sukses van haar lewe gemaak.

Sy pluk nou die vrugte van haar harde werk. Haar ma en pa sou trots gewees het op haar, al wou haar pa gehad het sy moet die wynboerdery by hom oorneem.

Dit nadat haar broer, Roberto, ontdek het hy kan sing en hom permanent in Spanje gaan vestig het. Gwenyth is so bly dit gaan goed met sy loopbaan. Die Spaanse meisies hang seker aan sy lippe.

Sy’t van die begin af geweet om ’n wynboer te wees, moet jy ’n passie hê vir wyn.

Nie een van Gwenyth of Roberto het daardie passie gehad nie. Haar pa was diep teleurgesteld, maar hy het verstaan.

Gwenyth bly in die tipe huis waarvan sy as kind dikwels gedroom het. Sy kan enige tyd ’n nuwe voertuig aanskaf. Sy het vier verskillende bankrekeninge, almal met balanse wat ander sakepersone groen sal maak van jaloesie.

Haar dogter, Tanika, is in matriek aan ’n privaat skool wat jaar ná jaar met ’n 100%-slaagsyfer spog. Tanika het haar eie chauffeur, wat ook die rol van lyfwag vervul.

Sy kom en gaan soos sy wil.

Buite is dit stil. Gwenyth hoor nie eens ’n hond iewers blaf nie.

Dis die voordeel van in dié posh deel van Kaapstad woon. Jou privaatheid word gerespekteer.

Vir ’n paar sekondes maak Gwenyth weer haar oë toe. Sy haal diep asem. Dis tyd om met haar Skepper te kommunikeer, soos sy elke oggend voor opstaantyd doen. Sy mag nooit vergeet waar al haar seëninge vandaan kom nie.

“Here, baie dankie dat U oor my gewaak het deur die donker nag. Gee my genoeg krag vir die dag wat voorlê. Amen.”

Net dit. Niks meer, niks minder nie. Kort en kragtig. Sy glo nie aan onnodige, niksseggende, lang gebede nie.

Sy lê nog tot so 07:00 voordat sy haar uit die bed lig. Stadig loop sy in die gang af badkamer toe. Poedelnakend. Sy hoef nie bekommerd te wees dat iemand haar so kaal sal sien nie. Dis net sy en Tanika in die huis.

Tanika steur haar nie veel aan haar ma nie. Sy weet haar ma het ’n wil van haar eie en laat haar deur niemand voorsê nie. Selfs toe Sybrand nog hier by hulle gebly het, het Gwenyth nie omgegee om so te loop nie. Sy haat dit om met nagklere aan te slaap.

Gwenyth verkies dit om saans in ’n borrelbad te lê en soggens stort sy net. Nooit langer as vyf en ’n half minute nie. Vanoggend is geen uitsondering nie. Toe sy klaar is, droog sy haar af en gaan terug kamer toe om aan te trek.

Vandag wil sy op haar beste lyk. ’n Eerste indruk is blywend. Dit het sy nog altyd geglo.

Sy het 10:00 ’n vergadering met ’n oorsese bemarker en sy is vas­beslote dat dit goed sal afloop.

Sy wag al lank vir ’n deurbraak soos dié. Scheffers Pharmacy, die apteekgroep waarvan sy die grootbaas is, is gereed vir internasionale blootstelling. Gwenyth raak opgewonde by die gedagte dat hul produkte dalk binnekort oorsee versprei sal word. Eers net in Indië, daarna na die res van die wêreld. Wat meer kan ’n vrou van 45 van die lewe vra?

’n Wit bloes by haar liggrys broekpak met die potloodstrepies. Dis wat sy gaan aantrek. En die hoëhakskoene wat sy verlede week by ’n boetiek in Seepunt gekoop het. Dis die perfekte geleentheid om dit te dra.

Haar hare gaan sy laat los hang; nie haar gesig met te veel grimering beplak nie.

Sy is van nature ’n pragtige vrou. Miskien nie beeldskoon nie, maar mooi genoeg om koppe te laat draai.

Waarom het Sybrand haar bedrieg? Nogal met ’n vaal, onaantreklike vrou?

Was sy nie meer goed genoeg nie?

Gwenyth wik oor die kleur van haar lipstiffie. Rooi is altyd ’n goeie keuse.

Toe Gwenyth in die kombuis kom, wag daar nie vir haar ’n koppie koffie op die tafel soos elke ander weeksoggend nie. Sy sien ook nie vir Tandi, haar getroue huishulp, in die omtes nie.

Dan tref die besef haar soos ’n klap deur die gesig: Sy sal self moet koffie maak. Tandi is nie meer hier om dit vir haar te doen nie.

Sy is weg Eastern Cape toe om na haar susters se kinders te gaan omsien. Die taxi het haar gisteraand kom oplaai. Van vandag af is sy wat Gwenyth is, aan haar eie genade oorgelaat, maar sy kon nie vir Tandi verhoed om te gaan nie.

Tandi se suster lê op sterwe. Dis glo net ’n kwessie van tyd.

“Ek dink sy het die groot griep,” antwoord Tandi, dogter van ’n bruin ma en Xhosa-pa, toe Gwenyth wou weet wat sy makeer.

“Ek praat nie van die Covid nie, Mevrou. Ek praat van die ander groot griep, die original een.”

Gwenyth besef met ’n skok sy verwys na vigs.

“Hoe oud is jou suster?” vra sy.

“Sommer nog baie jonk, Mevrou. Twenty seven. Sy het drie kids by drie different boyfriends.”

Tandi skud haar kop.

Ek weet nie hoekom Thembi nie die injection gevat het nie.

“Die clinic is tog naby die huis.”

Gwenyth kan die seer in Tandi se stem hoor. Die pyn, die teleurstelling.

“Ek is sorry ek moet Mevrou net so drop, maar ek het nie die ander choice nie. Wat gaan van Thembi se kinders word?”

“Is daar niemand anders wat na die kinders kan kyk nie?”

Tandi skud haar kop.

“Die family, hulle hou nie much van Thembi nie, Mevrou.

“Hulle sê Thembi het die goeie naam by die modder gesleep. Ons ken van arm wees, maar at least ons family het dignity.

“Dis net Thembi. Ek weet nie hoekom sy die mans so baie love nie. Nou moet haar kinders suffer.”

Gwenyth skakel die ketel aan en gaan haal ’n koppie uit die rak. Sy kan nie haar dag sonder koffie begin nie.

Hoeveel lepels suiker het Tandi altyd in die koppie gegooi? Twee? Drie? Vier? Sy is nie seker nie.

Dit sal belaglik wees om haar te bel net om dit te vra. Tandi se koffie was nooit bitter nie, ook nie te soet nie. Dan moet dit seker drie lepels wees, reken Gwenyth.

Sy weet nie hoe sy sonder haar oor die weg gaan kom nie.

Van een ding is sy oortuig: Vir Tandi Molope, die vrou van die township, gaan sy verskriklik mis.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters