15 dae gelede
Gwenyth dink aan haar ouers en mis haar steunpilaar
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Terwyl Gwenyth, wat baie ryk maar eintlik hoogs verveeld is, sukkel om te cope sonder Tandi, haar domestic worker, sit dié in die Oos-Kaap en wonder of sy ’n fout gemaak het deur terug te keer om na haar suster se kinders om te sien. Geniet nou hoofstuk 3 van CHRISTO MEYER se “Vrou uit die Township”.

SOOS elke weeksdag om 15:15 is Gwenyth ingeskakel op Radio Grensloos, die stasie vir die nasie.

Sy wag geduldig dat die middagvervolgverhaal begin. Dit help haar ontspan en neem haar gedagtes tydelik van werksake af.

Elke vrou het af en toe ’n bietjie me time nodig waartydens sy haar ’n rukkie afsny van die werklikheid.

Gwenyth se liefde vir stories kom van kleintyd af. Destyds het sy gereeld aan haar ouers se lippe gehang wanneer hulle iets uit ’n kinderboek voorgelees het.

Dit was voordat sy self geleer lees het. Sy was hardkoppig en wou nie saans in die bed klim voordat sy haar slaaptydstorie gehoor het nie.

Toe sy groter raak, kon sy nie wag om smiddae ná skool by die radio uit te kom nie. Verhale soos Jakkalsdans in die Donker en Ballade vir ’n Vreemdeling sal haar altyd bybly.

Daar was ander gunstelinge ook waarvan sy die titel al vergeet het.

Haar ouers het van kleins af ’n liefde vir lees by haar gekweek. Vandag nog, wanneer sy kans kry, sal sy met ’n goeie boek in die bed klim, veral op ’n aand wanneer die slaap sukkel om te kom.

Gwenyth was gelukkig om met ’n goue lepel in die mond gebore te word.

Haar ouers was skatryk. Daar was nooit enige tekortkominge nie. Alles wat sy wou hê, het haar ouers vir haar gegee.

Sy het van jongs af haar eie bankkaart gehad sodat sy, soos haar pa dit gestel het, vroeg al kan leer hoe om met geld te werk.

Op skool het sy nie in kêrels belangstelling getoon nie. Daarvoor was haar skoolwerk te belangrik.

Die eerste keer dat ’n mansvriend haar uitgeneem het, was die aand met die matriekafskeid.

Op 18 het Gwenyth haar rybewys gekry en as verjaardaggeskenk het haar ouers haar eerste kar gekoop.

Maar haar pa het haar ook gewaarsku: “Jy moet onthou, ek en jou ma sal nie vir altyd lewe nie. Nie jy of jou broer stel belang in ons wynboerdery nie en julle kan nie net staatmaak op die erfgeld wat ons vir julle gaan los nie. Volg jou hart en maak iets van jou lewe.”

Vandag verlang sy erg na haar ouers. Hulle was sulke vrede­liewende mense wat mooi na hul plaaswerkers omgesien het. Nooit suinig of inhalig nie. Die beste ouers vir wie ’n kind kon vra.

Ook verlang sy na Tandi, haar regterhand van die afgelope byna 16 jaar. Tandi, wat elke middag vir hulle tee gemaak en saam met haar na die storie geluister het.

Hoe dikwels moes sy nie verduidelik as ’n woord te moeilik was vir Tandi nie of as dit die eerste keer was wat sy dit gehoor het. Hier het hulle lekker gesels, gelag en gehuil ook.

Sy moet onthou om te bel en te hoor hoe dit met Tandi gaan. Die arme vrou sal kan doen met ’n bietjie ondersteuning.

Haar dogter was skaars twee toe Tandi hier begin werk het. Tandi was 24, met net gr. 8 agter haar naam. Dit voel soos ’n leeftyd terug.

Toe sy weer dink aan hoe sy vir Tandi ontmoet het, voel sy lus om te huil.

Dit was ’n Saterdagoggend ... Gwenyth was op pad winkels toe. Sybrand het na Tanika gekyk.

By ’n rooi verkeerslig het iemand aan haar kar se venster geklop. Met die opkykslag het sy ’n vrou daar gesien staan, haar lippe droog en asvaal. Sy kon sien die vrou is honger. Teësinnig het Gwenyth die ruit afgedraai.

“Ek kyk gou in my handsak vir kleingeld,” het sy vir die vreemde vrou gesê, nie seker of sy Afrikaans verstaan nie. Die vrou het haar kop geskud. “Ek wil nie handouts hê nie; ek is eintlik op soek na werk.”

Die verkeerslig het na groen oorgeslaan. Gwenyth het aan die ander kant van die pad gaan stop, op ’n geel lyn.

Toe doen sy iets waarop haar ouers nie trots sou wees nie. “Klim in, dan gaan drink ons koffie. Dan gesels ons sommer.”

Gwenyth het onderlangs na haar passasier gekyk. Die vrou se rok was ietwat uitgebleik, maar tog skoon. Haar skoene het beter dae geken. Sy het na Sunlight-seep geruik.

“Ek is desperate, Mevrou. My pa sit in ’n rolstoel nadat hy dronk voor ’n kar ingeloop het en my ma char net drie dae in die week. Ons sukkel.”

Gwenyth het die vrou jammer gekry en besluit om haar ’n kans te gee. Sy kon net hoop sy berou dit nie. Daar was so baie stories van mense wat hulle as engeltjies voordoen, maar eintlik wolwe in skaapsklere is.

Vanselfsprekend was daar twyfel in haar agterkop. Wat as die vrou hulle rot en kaal wou besteel?

Tandi het egter gou haar vertroue gewen en in haar hart ingekruip. Boonop het sy mooi na Tanika omgesien. Gwenyth kon vinnig agterkom hulle twee gaan nog ’n lang paadjie stap.

Tandi was later nie net ’n huishulp nie; sy was soos ’n vriendin.

Toe Gwenyth uitvind Sybrand bedrieg haar, was sy stukkend. Sy was op die punt om pille te drink, oor ’n afgrond te jaag of by ’n hoë krans af te spring. Vir die lewe het sy nie meer kans gesien nie. Sy het soos ’n mislukking gevoel, dat sy nie goed genoeg is nie.

Tandi was die een wat haar moed ingepraat het. “By ons by die township die manne cheat ook. Die vroue huil, maar hulle bly nie lê nie. Hulle staan op en move aan.

“Ons mense is arm. Ons kan nie suicide commit nie. Ons dink aan die mense wat agterbly. Mevrou moet aan Tanika dink. Wie gaan agter haar kyk as Mevrou nie meer hier is nie? Ek kan nie; ek ken nie wit mense se traditions nie.”

In haar donkerste uur was Tandi soos ’n lig.’n Skouer om op te huil, ’n ware vriendin. ’n Steunpilaar.

Dit het lank geneem om oor Sybrand te kom, maar Gwenyth het dit dag vir dag gevat en eindelik heel anderkant uitgekom.

Die egskeiding het haar sterker gemaak. Sy laat nie meer toe dat ’n man met haar mors nie. Sybrand het kom pleit vir nog ’n kans, maar sy was finaal klaar met hom.

Dis eintlik ’n verligting om van hom ontslae te wees. Sy wonder of hy haar ooit werklik liefgehad het soos sy vir hom. Sy sal seker nooit weet nie. Dit maak ook nie meer saak nie. Hy is deel van haar verlede.

Gwenyth is nie heeltemal gekant teen mans nie, maar sy gaan nie weer haar hart laat breek nie. Vir die liefde is sy versigtig. Sy wil nooit weer trou nie. Daar is mans wat van haar hou en omdat sy ’n vrou met behoeftes is, sal sy een die een of ander tyd ’n kans gee.

Sy sal dit net van die begin af duidelik maak waar hy met haar staan sodat hy nie te veel van haar verwag nie. Sy soek nie ’n vaste verhouding nie, net ’n bietjie pret.

Sy wil ook nie as ’n goedkoop vrou gebrandmerk word of in dieselfde bootjie beland as Tandi se suster nie. Daarvoor het sy heeltemal te veel om voor te leef.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters