16 dae gelede
Glenda stap nader toe ’n kar by haar optrek
Oom Sonnie  ~ 

Hallo, Sonlanders!

Ons gaan vandag voort met CHRISTO MEYER se splinternuwe verhaal, “Wimpie van die Onderdorp”. Geniet die slothoofstuk!

IN ’N stillerige straatjie trippel ’n skraps geklede vrou ongeduldig rond. Haar kop swaai heen en weer. Sy krap in haar handsak en steek ’n sigaret aan.

Wat gaan vanaand aan? Dis verdomp al 20:40. Het niemand lus vir ’n bietjie pret nie? Sy het so baie om te bied. As iemand haar sal toelaat, sal sy ’n man se stres lekker kan verlig ná ’n lang dag by die werk.

Haar naam is Glenda de Koker en haar liggaam is al gewoond aan die nag se koue.

Ongeag die weer verdien sy elke aand op straat haar geld met min klere aan.

Die 25-jarige Glenda wonder gereeld hoe haar ma sal reageer as sy moet uitvind wat haar dogter regtig doen.

Haar ma is onder die indruk sy werk in ’n restaurant. Gelukkig kom die Onderdorp se mense nie eintlik in die Bodorp nie. Mag die waarheid nooit uitkom nie.

Haar ma het al twee hartaanvalle oorleef en Glenda weet ’n derde een sal die ou girl se dood beteken.

Sy sal nooit met haar gewete kan saamleef as sy die oorsaak van haar ma se ondergang is nie.

Soos baie ander kinders in die Onderdorp het Glenda ook sonder ’n pa grootgeword. Sy het vaderliefde op ’n verkeerde plek gaan soek en swanger geraak van ’n getroude man.

Glenda is nie trots op wat sy doen nie. Sy kan net hoop haar sewejarige dogter volg nie eendag in haar voetspore nie. ’n Vrou moet hare op haar tande hê om haar lyf te verkoop.

Net toe dit begin lyk asof dit nie ’n aand vir besigheid is nie, kom hou ’n swart BMW langs haar stil. ’n Ruit word afgedraai.

“Hoe lyk dit, Oulik? Kan ’n man dan nie?”

Sy gee haar breedste glimlag. Uiteindelik iemand wat wil uithaal en wys. Sy antwoord: “Natuurlik kan jy ... As die geld reg is.”

“Jy klink expensive. Hoeveel vra jy?”

“Hang af wat jy wil hê,” sê sy.

“Klim in dan gesels ons.”

Sy laat haar nie twee keer nooi nie. Die man ruik na sweet. Dit val haar dadelik op toe sy inklim.

“Ek soek ’n full house. Hoeveel gaan dit my kos?”

“Ek charge R350 vir ’n full house. As jy ’n regular was, het jy nou R50 discount gekry.”

“Geld is nie ’n probleem nie. Ek weet van ’n plekkie hier naby.”

Sy beskou hom onderlangs en sien die vars krapmerk op sy linkerwang.

“Wat het met jou wang gebeur?”

“Lang storie daai. Ou koeie. Wil nie nou daaroor praat nie.”

Hy trap skielik rem. In sy hand is ’n naald wat hy in haar linkerarm druk. Die laaste ding wat sy hoor, is sy lag.

WIMPIE ruk haar uit die voertuig, dwing haar in by die verlate gebou.

Moedig probeer sy weerstand bied, maar sy staan nie ’n kans teen hom nie. Met sy breë skouers en enorme arms is hy veels te sterk vir haar. Uit desperaatheid begin sy gil: “Help! Help! Help!”

Daar is angs, vrees en paniek in haar stem. Haar hart klop benoud. Wat is die man se planne met haar? Waarom het hy haar hierheen gebring? Is hy ook van daardie siek soort? Sy hoop nie hy gaan haar ... Nee, sy moenie daaraan dink nie!

Hy druk ’n mes teen haar keel en beveel: “Trek uit jou klere. As jy klaar is, gaan sit jy op daai stoel in die hoek.”

Sy maak soos hy sê. Met ’n sterk tou bind hy haar bolyf vas. Sy gil. Hy wend geen poging aan om haar stil te maak nie. Hoekom moet hy? Sy kan maar raas en aangaan nes sy wil. Hier’s tog niemand anders wat haar kan hoor nie. Dit is net hulle twee. Of sy nou daarvan gaan hou of nie, sy gaan nog die hele aand met hom opgeskeep sit.

Hy gaan nêrens heen voordat hy sy plan uitgevoer het nie.

Sy weet dit nog nie, maar daar is nie ’n manier dat sy môre die son gaan sien opkom nie. Daaroor het hy klaar besluit.

“Wat gaan jy met my doen?” vra sy ná ’n ruk.

Hy begin hardop lag. “Ek gaan jou rus-rus doodmaak.”

“Dis nie nodig nie,” keer sy haastig. Hoekom wil jy so iets doen?”

“Want ek is Wimpie van die Onderdorp en ek hou daarvan om in control te wees. Dit sal my groot plesier verskaf om jou te hoor smeek en pleit vir jou lewe.”

“Wimpie, my naam is Glenda. Jy hoef dit nie te doen nie. Jy hoef my nie dood te maak nie. As jy gevang word, gaan jy tronk toe en die tronk is ’n aaklige plek.”

“Bly net stil, vroumens. Jy weet nie waarvan jy praat nie.”

“Ek was al in die tronk, Wimpie. Meer as een keer. Ek weet presies waarvan ek praat. Dit is nie ’n plek waar jy in beheer gaan wees nie. Jy moet doen wat ander sê.”

Hy gluur haar aan.

“Hoekom sê jy al hierdie goed? Probeer jy met my kop smokkel?”

“Nee, ek wil nie hê jy moet iets doen waaroor jy agterna gaan spyt wees nie. Ek het ’n dogtertjie. Kan jy dink wat dit aan haar gaan doen as sy hoor haar ma is vermoor? Lewe jou ma nog?”

Wimpie knik.

“Jy hoef my nie leed aan te doen nie. Maak my los en laat my gaan.

“Ek belowe ek sal ’n ander werk kry en nooit weer my liggaam verkoop nie.

“Ek wil hê my kind moet trots wees op my en ek is seker jy verlang ook dat jou ma moet trots wees op jou.

“Vanaand is vir my ’n eye opener. ’n Mens kan ’n verandering jou lewe maak as jy net wil. Dit vat net een besluit.”

Iets in Wimpie knak. Tot Glenda se verbasing sak hy op sy knieë neer en bars in trane uit.

“As kind was ek magteloos as my pa my ma aangerand het. Ek wou haar so graag help, maar teen my pa was ek nie opgewasse nie. Ek het myself belowe ek gaan ook eendag goed doen waar niemand my kan keer nie. Maar nou doen ek dan presies wat my pa gedoen het! Dit maak my niks beter as hy nie.”

Hy vertel haar van Conita. Hoe hy haar onder valse voorwendsels van haar ouerhuis af weggelok het. Hoe hy haar eers verkrag en toe vermoor het en hoe goed dit hom laat voel het.

“Kom ons maak ’n deal. Jy maak my los en laat my gaan en ek vertel vir niemand van jou nie.”

Hy maak haar los. Sy gryp haar klere en storm na buite.

Vanaand het sy ’n les geleer wat sy nooit sal vergeet nie. Dis tyd dat sy haar hart vir die Here gee. Sy voel jammer vir Wimpie. Hy het professionele hulp nodig.

Die letsels van ’n moeilike kinderlewe laat hom wrede dinge aanvang.

Lank nadat Glenda weg is, staar Wimpie nog voor hom uit. Hy weet die waarheid gaan die een of ander tyd uitkom. Hy wil nie tronk toe gaan nie. Hy neem die mes en begin sy polse sny ...

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters