Verlede maand
Giep try uitkom en Stone besluit dis tyd vir move
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag is dit hoofstuk 8 van CEDRIC AFRICA se verhaal Bloedgeld. Geniet die leesstof!

EEN vraag bly maal deur Giep Basson se kop: Liewe Here, hoe het ek by hierdie gemorste betrokke geraak?

Hy staar bekommerd na die donker skadu’s op die Weskuspad.

Sweetdruppels loop draaie oor die plooie op sy voorkop terwyl hy sy vet lyf agter die stuur van sy traffic-kar regskuif. Hy was nog altyd ’n joviale mens, die groot nar op partytjies wat saam gespot het oor sy groot pens.

Totdat ’n kollega hom aan tik voorgestel het. Dit was veronderstel om hom te help gewig verloor en van die alewige moegheid ontslae te help raak.

Dit was nie lank nie, of ou vet Giep Basson was ’n volslae tikkop wat elke maand sy pay net so vir Katjies moes afgee.

Om vir Hilton Meintjies ’n koerier te word was ’n goeie plan.

Die geld was goed, maar toe kom Sharon in sy lewe in.

Hy is nou reeds ’n paar maande skoon en hy wil uit, maar met Hilton Meintjies en sy gespuis gaan dit nie maklik wees nie.

Die opdrag wat Meintjies hom vandag gegee het, gee hom meteens weer koue rillings.

Hy moet uitvind waar Stone Stenekamp wegkruip – of hulle laat Sharon verdwyn ...

Stone voel vars en uitgerus toe hy wakker word. Die middagslapie het hom goed gedoen, dink hy toe hy voor die badkamerspieël staan.

Hy kyk op sy polshorlosie toe die nou reeds bekende dreuning van die dieseltrokkie nader kom.

Jip, dis nie toeval nie. Hierdie bakkerylorrietjie is elke aand stiptelik 22:00 by Hilton Meintjies se huis. Hy bly nie lank nie, dan hoor Stone hom wegry. Hy is nou reeds drie dae hier; dis tyd om dinge ’n bietjie van nader te bekyk.

“Wat bring jy of wat kom haal jy?” praat hy met homself toe die trokkie se neus weer deur die sekuriteitshek loer.

Lional Stuurman, die driver, is salig onbewus van die rooi Golf GTI wat hom op ’n veilige afstand volg.

Gospelmusiek blêr oorverdowend uit die trokkie se kajuit. Nog net so ’n paar trippies vir ou Katjies en sy gespuis, dan is die klimeid se varsity-geld vol. As ’n born again Christian wat hom in die tronk bekeer het, weet hy dis verkeerd wat hy doen en dit kan hom weer in die tronk laat beland.

Maar hy het nie ’n ander choice nie; die mense trek hul gevreet op as jy werk soek en hulle hoor dat jy in die vierhoeke was.

Stone gaap lui toe Lional se broodlorrie uit die Weskuspad regs draai.

“So, ons gaan ’n bietjie Atlantis toe?” vra hy effe teleurgesteld vir homself.

Hy sou graag vannag al kapt. Rollie Rollisen en daai vuilgevreet Katjies se ribbes wou gaan breek, but first things first.

Hy verminder spoed toe Lional by die Dura-flêtse indraai.

Die tempo van sy hartklop versnel meteens. Dit is by daardie blok maisonettes waar Trane hom in ’n lokval gelei het.

Hy en Trane, ’n oudlid van ’n tronkbende, het goed oor die weg gekom toe Stone nog in Hilton se magsgreep was. Trane was Hilton Meintjies se regterhand.

Een nag het hy Stone gebel en hom gevra om hom die volgende oggend by sy flat te kom sien.

Hy wou ook uit; hy was kamstig moeg daarvoor om deur die sindikaat rondgeneuk te word.

“Ek en djy kan onse eie ding doen, ou Stoney. Ek het kwaai connections oor die hele Kaap.”

Stone het natuurlik gretig ingestem.

Die volgende oggend het hy voor dooiemansdeur gestaan. Daar was geen teken van Trane of sy guards op die jaart nie. Miskien is hulle gou net êrens heen, het hy gedink en besluit om buite by die kar te wag.

Daai arme laitie wat by hom ’n brood se geld kom soek het, was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Hy was weer van ’n pos af. Hy het die twee karakters met balaklawas oor hul gesigte nooit sien nader kom nie.

Die volgende oomblik toe klap die skote. Hy kon sy 9 mm-Luger uitpluk en ’n paar skote skiet, maar dit was te laat. Boertjie se lewelose liggaam het slap langs hom gelê.

Hy hou Trane en sy guards van ’n veilige afstand dop. Hulle is besig om ’n paar bokse uit die trokkie te laai.

Stone voel hoe die adrenalien in sy are begin pomp, maar hy sal sy kans moet afwag.

“Jou dae is getel, mnr. Meintjies,” praat Stone met homself toe Hilton Meintjies en sy enigste seun in die voorportaal van sy huis in verdwyn.

Geïrriteerd haal hy die verkyker voor sy oë weg en kyk na die boodskap op sy foonskerm. Dis nog ’n boodskap van Sharon, wat wil weet waar hy hom bevind.

Waarom is sy ewe skielik besorg oor sy welstand? Hoekom loop vra sy nie daai vetgat-traffic waar hy hom bevind nie?

Nadat sy en haar stiefma hom so goed k*k vertel het oor Salomie se dood en hom daarna die begrafnis belet het, het hy nog nooit weer van haar gehoor nie.

Hy laat sak sy kop in albei sy hande en sug diep.

Miskien is Sharon se bedoeling opreg. Miskien wil sy regtigwaar weet of hy oukei is.

Hy tik ’n kort boodskap net om haar te laat weet dat hy oukei is en wag ’n oomblik. Hy is erg ontnugter toe sy reply.

Sy het nooit ’n boodskap aan hom gestuur nie, is haar antwoord.

Dan tref dit hom.

Hilton Meintjies is ’n slinkse vark. Hy moes daai arme vetgat Giep Basson geboellie het om uit te vind waar ek is.

Stone kan ewe skielik nie help om dit aan homself te erken nie – ten spyte van hul verlede, met al sy mislukkings, voel hy steeds verantwoordelik vir haar.

Die beste ding wat hy nou kan doen, is om haar te waarsku haar vetsak Giepie speel met vuur.

JASON de Koker, alias Boef, gaap in sy stoel. Dit was ’n woelige weekend hier oppie jaart. Nog net ’n paar minute, dan is sy skof kla’, ma’ da’ issie weekend ôk in sy tjops. Ek sal ma’ ga’ uitcut, besluit hy.

’n Klop aan die swaar staalhek laat hom lui opstaan.

Ampe’ twelve o’clock. Sieke’ oek ma’ die laaste customer virrie aand. Oem Trane moet oekie vinaand mettie kroon sukkel nie. Ek het dié weekend ’n moerse klompie geld gemaak.

“Wat soek djy?” raas hy ongeduldig. “Aweh, Boef, ek soek ’n sakkie en ’n quarter, maar ’n man wil soema die sakkie hie’ saam vertrap.”

Hy ken nie die vreemde stem nie, maar ’n tikpypie sal nie nou te bad smakie.

Dit sal hom juis op ’n speed sit, in case ou Trane wee’ met sy nwatas kô.

Hy trek die groot staaldeur oop en laat Stone binnekom. Die ou lyk soe bekend, soe asof ons paaie al gekruis het.

  • As ’n man maar net kon weet wanneer jy jou Maker sou ontmoet, of in Boef se geval, die duiwel. Boef se oë wil uit hul kasse spring toe hy sy laaste asem uitblaas. Eers dan verslap Stone sy greep om sy nek. Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters