Verlede maand
Gielman kry toe berusting oor sy rolmodel Jaap
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Gielman Zoesvogel byt maar swaar aan oom Jaap se storie oor die treurende Maria wat so spook nadat die liefde van haar lewe haar teleurgestel het. Maar Gielman is onder pressure om ’n spookstorie te kry wat hy moet skryf en gaan self na die rivier om ondersoek in te stel. Die eerste paar aande lewer niks op nie, maar een aand skrik Gielman hom amper uit sy geloof uit toe hy diep in die donker nag ’n vrou hoor gil. Geniet nou die slothoofstuk van CHRISTO MEYER se “Die Geheimsinnige Skrywer”.

EK HET op die nippertjie die spookverhaal vir die kompetisie ingeskryf onder die titel Die vrou by die rivier.

Dit was vir my belangrik dat Maria Droogenbroek se storie vertel moet word. Mense het ’n reg gehad om te weet wat met haar gebeur het. Hopelik sou dit ander jong vroue twee keer laat dink om voor ’n vreemde man se sjarme te swig.

Met die skryfproses was ek briesend. Het daai Andrew-jong dan geen gewete gehad nie? Hoe kon hy so met Maria se gevoelens speel? Het hy gedink haar hart is van klip?

Ek het natuurlik skuilname gebruik, die storie op ’n denkbeeldige dorpie laat afspeel en glad nie genoem dat dit op ’n ware gebeurtenis gegrond is nie. Tot my verbasing het my verhaal, die derde plek uit meer as 40 inskrywings, behaal, alles natuurlik te danke aan Jaap Bollen­hoven.

Toe ek Jaap gaan bedank, het hy net sy skouers opgehaal.

“Ek het net die idee in jou kop gesit. Jy het self die skryfwerk gedoen.” Hy wou nie enige krediet aanvaar nie. Toe skud hy my hand met die woorde: “Knap gedaan, Gielman. Hoop daar kom sommer nog baie stories uit jou pen.”

Vir Jaap Bollenhoven het ek die grootste respek gehad. Nooit sou ek kon raai dat ek daardie respek vir hom sou verloor nie. Nie eens in my wildste drome nie. Hy was vir my ’n rolmodel, iemand na wie ek opgekyk het. Ek wou graag eendag in sy voetspore volg, maar ek het getwyfel of ek ooit so suksesvol soos hy sou kon wees.

Waar kom hy aan al sy idees? het ek hoeveel keer gewonder. Om elke jaar ten minste een kortverhaalbundel te publiseer sit nie in enige persoon se broek nie.

Die antwoord op daardie vraag sou wel later aan my bekend gemaak word. Ek sou egter nooit kon dink dit sou my so erg ontstel nie. Jaap het dan op die oog af so opreg en talentvol gelyk.

En al daardie toekennings wat hy vir sy skryfwerk ontvang het ... ek was erg omgekrap. Dit was soortgelyk aan die keer toe een van my rugbyhelde skuldig bevind is aan die gebruik van verbode middels.

Weke daarna wou ek niks van rugby weet nie. Ek wou nie aanvaar dat so ’n talentvolle vleuel so oneerlik kon wees nie. Hy is vir drie jaar geskors en toe hy terugkeer, was hy nie eens ’n skadu van die uitblinker van voorheen nie. Hy het nooit weer die hoogtes van voorheen bereik of ’n Springbok-trui oor sy kop getrek nie. Hy het ook nooit erken dat hy wel opkikkers gebruik het nie.

Maande ná Jaap se dood het ek een middag gewens ek kan sy lyk gaan opgrawe en hom weer lewendig skud. Miskien sou dit my beter laat voel en heling bring vir my stukkende gemoed.

Ek het iets skokkends oor hom uitgevind en met ’n klomp vrae gesit. Vrae wat slegs hy kon beantwoord. Ek was diep teleurgesteld toe ek ontdek hy het my en ál sy getroue lesers ’n rat voor die oë gedraai. Hoe hy dit reggekry het sonder om uitgevang te word, kan ek steeds nie verstaan nie.

Hy het waarskynlik die geluks­gode aan sy kant gehad. Ek kon my net indink in watse moeilikheid hy sou wees as die waarheid op die lappe moes kom toe hy nog geleef het. Sy reputasie sou definitief aan skerwe gewees het.

Aan die begin was hy die een wat vir my gesê het die lewe is nie net maanskyn en rose nie. Hoe ironies. Mense is sowaar nie altyd wie jy dink hulle is nie. Sommige gee voor hulle is engeltjies terwyl hulle eintlik die teenoorgestelde is.

Die beeld wat hulle voorhou, is so oortuigend dat jy geen onraad vermoed nie. As die waarheid jou op ’n dag soos ’n vuishou tussen die oë tref, is dit so seer dat jy nie weet of jy ooit van die pyn gaan herstel nie. Hoekom en waarom maal die hele tyd deur jou kop en jy probeer sin maak van die feite voor jou. Dit gebeur veral as jy mense verafgod en hulle as perfek­ beskou.

Miskien is dit verkeerd om in Jaap se afwesigheid soveel slegte dinge oor hom kwyt te raak. Almal het hom as ’n goeie mens geken. Hy het omgegee vir sy naaste en sou nooit weier as iemand laataand aan sy deur kom klop en vra vir hulp of iets te ete nie. Jaap kon dit bekostig, want hy het beslis baie geld uit sy boekverkope verdien. Sy kortverhaalbundels was jaar ná jaar onder die topverkopers.

Toe ek dit nie meer kon hou nie, is ek een Sondagmiddag na die begraafplaas. Al kon Jaap my nie hoor nie, wou ek hom steeds konfronteer. Ek wou baie graag weet waarom hy gekke van ons almal gemaak het.

Met my hande in my broeksakke het ek voor Jaap se graf gaan staan. Min kere in my lewe was ek so briesend soos daardie dag.

“Ja, Jaap Bollenhoven. Jy het ons almal ’n rat voor die oë gedraai, nè! Jy het ons almal laat glo jy het geen gelyke as dit by die skryf van kortverhale kom nie. Toegegee, jy het ’n bleddie goeie job gedoen.”

Ek het ’n oomblik stilgebly, so asof ek gehoop het Jaap moet my antwoord of net ’n ligte hoesie gee. Die enigste geluid was die voëltjies in ’n boom daar naby. Toe praat ek verder.

“Jy het seker gedink niemand sou ooit agterkom jy was niks anders as ’n fraud nie. Jy het ons almal bedrieg.

“Jou stories was nooit jou eie nie. Jy het die kortverhale van minder bekende oorsese skrywers in Afrikaans vertaal en onder jou eie naam gepubliseer asof jy die oorspronklike skepper daarvan was. Jy het net die karakters en die plekname verander sodat dit moes lyk die stories speel in Suid-Afrika af. Dis moeilik om te glo die bekende, gewilde Jaap Bollenhoven het ál die jare plagiaat gepleeg.

“Snaaks genoeg het ek jou geheim toevallig ontdek. Ek het net besluit om vir ’n slag deur ’n skrywer se boeke te blaai wat ek van geen kant af ken nie en toe kom ek af op stories wat taamlik bekend lyk. Jy behoort jou regtig te skaam, Jaap!”

Ek het ure lank daar by Jaap se graf gestaan. Ek het hom gevloek en alles wat lelik is toegesnou.

Al die opgekropte woede in my binneste het uitgekom. Toe ek omdraai en wegstap, het ek geweet die regte ding sou wees om my vriend by die koerant te bel en als te vertel.

Dalk sou dit nog betyds wees vir die volgende dag se voorblad. Jaap se uitgewer en aanhangers het verdien om die waarheid te weet.

Maar glo my, al was ek diep teleurgesteld, kon ek dit nie oor my hart kry om daardie oproep te maak of met enigiemand anders oor Jaap se skandes te praat nie. Ek weet tot vandag toe nie waarom ek dit nie gedoen het nie...

Slot

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters