26 dae gelede
Gielman is glad nie beïndruk met Jaap se verhaaltjie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons main ou is op soek na ’n lekker storie en wend hom tot oom Jaap Bollenhoven, wat beloof om hom ’n lekker spookstorie te spin. Hy is egter nie oortuig dat dié storie van oom Jaap die reine waarheid is soos wat die ou man hoog en laag sweer nie. Geniet die voorlaaste hoofstuk van “Die Geheimsinnige Skrywer” deur CHRISTO MEYER.

‘EK HET nog nooit respek gehad vir ’n man wat met ’n vrou se gevoelens mors nie,” onthou ek Jaap se woorde.

“Speel liewer oop kaarte met ’n vrou as om haar die hele tyd aan ’n lyntjie te hou. Elke vrou verdien geluk, maar waarom wil sommige mans hul brood aan albei kante gebotter hê?

“Ek dink nie hulle het enige idee dat ’n vrou daai soort seer vir jare met haar saamdra nie.”

Ek het aandagtig na Jaap geluister. Hy’t skielik van die onderwerp afgedwaal. Ek wou hoor in watter rigting die eintlike storie gaan.

Ek het immers vir ’n spookstorie aangeklop, nie ’n langdradige gekerm oor die liefde nie.

Iets in my binneste wou hom vra om tot die punt te kom, maar ek het besef ek moet geduldig wees. Ek is die verleë een, nie hy nie.

Jare later sou ek uitvind Jaap se suster het ook in haar jong dae ’n lelike stel met die liefde afgetrap.

Sy het glo op trou gestaan met die groot liefde van haar lewe, maar die man wat haar die son, maan en sterre beloof het, het haar ’n maand voor die troue soos ’n warm patat gelos en met een van haar vriendinne die hasepad gekies.

Jaap vat daardie middag eers ’n diep sluk uit die glas water op sy tafel voordat hy my verder van Maria Droogenbroek vertel.

Ek onderbreek hom nie een keer nie. Blykbaar het Maria Droogenbroek daardie aand net in haar nagrok by die rivier aangekom, opgewonde soos ’n laerskoolkind op die vooraand van ’n verjaardag­partytjie.

Sy’t op ’n bankie gaan sit en om haar gekyk, maar daar was geen teken van Andrew nie. Toe besluit sy om te wag, want Maria het geglo Andrew gaan opdaag.

Andrew het immers belowe hy gaan haar kom haal en sy het geen rede gehad om sy woord in twyfel te trek nie. Sy het geglo hy is lief vir haar en dat hy haar nooit in die steek sou laat nie. Hulle was bedoel vir mekaar. Of so het sy geglo.

Maria het die hele nag vir Andrew gesit en wag. Teen dagbreek het sy steeds vir hom gewag.

Al wat opgedaag het, was hy. Eers toe die son sy kop uitsteek, stap Maria huil-huil terug huis toe. Sy steur haar nie aan die mense wat haar nuuskierig aanstaar nie. By die huis gaan sluit sy haarself in haar kamer toe. En daar het sy gebly.

Haar ouers het aan haar deur gaan hamer, haar gesoebat om uit te kom en iets te eet, maar Maria het nie gereageer nie.

Sy het in haar kamer gebly totdat haar pa op ’n dag geen ander keuse gehad het as om haar kamerdeur af te breek nie. Maar dit was te laat. Daar was niks wat oom Soon of tannie Henna Droogenbroek vir hul dogter kon doen nie.

Maria het leweloos op haar bed gelê.

Daar was baie mense op Maria se begrafnis. Oud sowel as jonk, maar van die Andrew-vent was daar geen teken nie.

Tot vandag kan niemand sê wat van hom geword het of waarom hy Maria vir die gek gehou het nie.

“En jy noem dit ’n spookstorie?” vra ek teleurgesteld. “Dis eintlik net ’n tragiese verhaal.”

“Jy het nog nie die einde gehoor nie,” sê Jaap.

“Gaan doen ’n bietjie navraag oor Maria Droogenbroek onder die mense. Ek het jou nie alles vertel nie.”

Wat steek Jaap vir my weg? het ek gewonder.

Hoekom is hy so geheimsinnig? Was Maria Droogenbroek dalk familie van hom?

Hoe meer ek gekarring het dat ek die einde van die storie uit sy mond wil hoor, hoe meer het Jaap Bollenhoven my na die inwoners verwys.

“Aan die begin het ek gesê hierdie storie is nie fiktief nie, maar die reine, reine waarheid. Ek het agtergekom jy glo my nie.

“Gaan praat met die mense wat al donkiejare hier op Woltemadevlei bly en vind self uit.”

Op daai oomblik het ek wat Gielman Zoesvogel is, soos die grootste gek gevoel. Was dit dan so duidelik op my gesig uitgespel dat ek Jaap se vertelling in twyfel trek?

Die slegste deel van enige storie, het ek oor die jare geleer, is die stertjies wat ná die tyd aangelas word.

Jy weet nooit wat om te glo nie. Mense het maar eenmaal daardie nare gewoonte om met ’n ou se kop te smokkel.

Sedert Maria se tragiese dood word daar blykbaar elke jaar in September ’n vrou in ’n nagrok by die rivier gesien.

Blykbaar sit die vrou daar op ’n bankie soos iemand wat vir haar ridder op die wit perd wag. Sy staar glo die hele tyd stip voor haar uit.

Daar is mense wat beweer dat Maria selfs ná haar afsterwe vir Andrew wag om haar Johannesburg toe te neem.

Luidens gerugte het sy nooit opgehou hoop hy sal wel eendag sy verskyning maak en haar kom haal nie.

Kyk, ek het nog nooit aan spoke geglo nie. Ek kom uit ’n Christen-huis waarin ek geleer is daar bestaan nie iets soos die bonatuur­like nie. Tog het dit my so gepla dat ek op my eie moes gaan uitvind of die gerugte wel die waarheid is.

’n Vriend van my werk by ’n skinderkoerant en hul lesers sou hierdie tipe stories soos soetkoek verslind.

Ek het daardie September my kamera gevat en drie nagte agter mekaar by die rivier gaan skuil.

Ek weet dit klink belaglik, maar ek wou gaan kyk of ek Maria Droogen­broek iewers gewaar.

Ek wou haar met my eie twee oë sien. Sien is glo, aldus die gesegde. Dalk, net dalk, het ek vir myself gesê, kry ek die kans om ’n paar foto’s van Maria te vat en haar te vra waarom sy nie rus vir haar siel kan kry nie.

Die eerste twee nagte is ek teleurgesteld huis toe. Ek het ure by die rivier vertoef, maar daar was geen teken van Maria of enigiemand anders nie.

Ek wou my lawwe idee laat vaar, maar dit was asof iets my aangespoor het om nog een laaste aand soontoe te gaan.

Wie weet, miskien sou ek third time lucky wees.

Ook die derde nag het ek nie vir Maria Droogenbroek te sien gekry nie, maar ek belowe ek sit nooit weer in die nag my voete naby die rivier nie.

Ek kry steeds koue rillings elke keer as ek daaraan dink.

Die nagmerries was so erg dat dit my gereeld natgesweet laat wakker skrik het.

’n Onaardse, angswekkende, allervreeslike, oorverdowende vrouegil het my op die derde nag onder my kar uit laat hardloop.

Was dit dalk Maria Droogenbroek wat my wou afskrik sodat ek uit haar besigheid moet bly?

Of was dit dalk net my verbeelding? Ek sal seker nooit weet nie.

  • Vrydag: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters