Verlede maand
Feestyd is beslis nie vir almal
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders!

Dié week plaas ons die verhaal “Trane oor die Feestyd” deur CHRISTO MEYER. Geniet nou hoofstuk 3.

VANDAG is my verjaardag. Ek is 30 jaar oud. Soos Ma my van kleins af geleer het, begin ek nooit hierdie dag sonder om te bid nie.

Dis een van die goed wat ek altyd sal onthou, al word ek ook hoe oud.

Die belangrikheid van gebed. Jy hoef nie bekeer te wees of gereeld kerk toe te gaan om met jou Skepper te kommunikeer nie.

Die Here moet weet jy is dankbaar vir nóg ’n jaar by jou lewe, vir nóg ’n genadekans.

Dit hoef ook nie ’n lang gebed te wees soos die straatpredikers doen om deur mense raakgesien te word nie. ’n Gebed is ’n saak tussen jou en God.

Ek kniel voor my bed, vou my hande en sluit my oë. Presies nes ek gedoen het op sesjarige ouderdom. Sekere goed leer ’n mens nooit af nie.

“Here, dankie vir nóg ’n jaar by my lewe. As dit U wil is, mag daar nog vele wees. Amen.”

Toe ek klaar gebid het, gaan ek stort. Ek droog af en loop slaapkamer toe. Ek gaan staan voor die spieël en beskou die grys tussen my hare.

Ek verlang na antie Rina. Ek moet onthou om die een of ander tyd ’n draai by haar graf te gaan maak, vars blomme gaan opsit. Sy was vir my soos ’n ma ná my ouers se dood. Sy was streng, maar nooit onredelik nie.

Sy was ’n goeie luisteraar. Haar dood was vir my ’n geweldige skok.

Veel erger as die middag toe ek by haar huis instap en ’n vreemde man daar sien sit.

Oom Marthinus was toe skaars drie maande onder die grond.

“Michael, ontmoet oom Johan,” het sy die man aan my voorgestel. “Hy is my nuwe vriend.”

Ek kon nie glo wat ek hoor nie. Ek wou nie. Boonop het my gedagtes wye draaie met my gehardloop.

Hoe kon antie Rina so gou ná oom Marthinus se dood ’n nuwe man in haar lewe toelaat? Was sy nie nog veronderstel om oor hom te rou nie?

Of is hierdie ding tussen haar en oom Johan ’n ou ding? Het hulle mekaar geken terwyl oom Marthinus nog geleef het?

Kon dít dalk die rede wees waarom oom Marthinus sy eie lewe geneem het?

Omdat hy uitgevind het antie Rina knyp die kat in die donker? Ek wou nie so iets van antie Rina glo nie.

Oom Johan was jaloers. Antie Rina kon nêrens op haar eie gaan nie.

Ek het baiekeer in my kamer gelê en luister hoe hulle stry.

As antie Rina sommige dae met ’n donkerbril rondgeloop het, het ek nie nodig gehad om te wonder nie.

Ek het geweet oom Johan het haar aangerand.

“Hoekom laat antie hierdie dinge toe?” vra ek op ’n dag. “Hoekom raak antie nie ontslae van hom nie?”

“Dis nie so maklik nie,” het antie Rina deur die trane gesê. “Johan weet van goed wat in my verlede gebeur het.

“As ek hom los, gaan hy die hele wêreld vertel.”

My nuuskierigheid het die oorhand gekry.

“Watse goed, antie Rina? Wil antie nie met my daaroor praat nie?”

Sy het haar trane afgevee. “Maak vir ons koffie, dan kom sit jy hier langs my. Ek sal jou alles vertel.”

Ek wou weet wat aangaan, watter houvas oom Johan op antie Rina gehad het.

Was dit werklik so erg? Ek het die ketel aangeskakel, die koffie gemaak en langs antie Rina gaan sit.

“In my jonger dae het ek goed aangevang waarop ek nie trots is nie.

“Ek het nooit vir oom Marthinus daarvan vertel nie, want ek het geglo my verlede het niks met hom uit te waai nie.

“Min het ek geweet die verlede het ’n manier om ’n mens in te haal.”

Antie Rina het in sirkels gepraat, maar ek wou haar nie in die rede val nie.

Ek het geduldig gewag totdat sy by die punt kom.

“As ’n mens jonk is, volg jy mos jou eie kop.

“Jy luister nie na jou ouers nie. Jy glo die besluite wat jy neem, is die regtes.

“Eers jare later wens jy dit was moontlik om die horlosie terug te draai.

“Arme Marthinus, hy wou so graag ’n kind van sy eie hê.”

My eerste koppie koffie was leeg. Ek het ’n tweede een gaan maak, want ek wou verder hoor wat antie Rina se groot geheim was.

“Ek het die skool op ’n jong ouderdom verlaat, sonder matriek agter my naam.

“Ek was moeg van swaarkry en wou my eie geld verdien.

“Toe beland ek in Seepunt, waar dit maklik was om vinnig geld te maak, mits jy bereid was om jou liggaam te verkoop.”

Ek het my asem skerp ingetrek. Nee! Dit was die laaste ding wat ek verwag het om te hoor.

“In die Kaap is die strate rof en ’n jong meisie het iemand nodig om haar te beskerm.

“Veral as sy nie heeltemal vertroud is met die omgewing nie. Dis waar Johan ingekom het.

“Hy het een aand sy dienste aangebied, want ek dink hy kon sien ek was nuut en onervare. Ek is spyt sy pad het ooit met myne gekruis.

“Ek was drie keer swanger en in ál die gevalle het Johan seker gemaak ek kry ’n aborsie.

“Ek het later geen seggenskap oor my eie liggaam gehad nie.

“Ek was verslaaf aan dwelms en moes net maak soos Johan sê. Hy was my god en ek sy slavin.”

Sy het die leë koppie op die tafel neergesit.

“Ek kon dit regkry om uit sy kloue te ontsnap, maar die skade was reeds gedoen.

“Ek sou nooit weer swanger raak nie. Niemand het ooit geweet watter tipe werk ek in die Kaap gedoen het nie.

“Ek het hulle laat glo ek was ’n kelnerin in ’n restaurant. En nou is Johan agter my geld aan, want hy weet Marthinus se boedel betaal binnekort uit.”

“Kan Antie nie polisie toe gaan nie?”

Sy het haar kop geskud.

“Dit gaan my niks baat nie. Johan is lid van ’n bende wat die polisie op hul payroll het.

“En moenie eers daaraan dink om betrokke te raak nie. Dié mense is gevaarlik ...”

Weke later kom ek een agtermiddag op antie Rina se lyk af.

Sy’t in ’n groot plas bloed op die kombuisvloer gelê. Daar was ’n mes in haar bors.

Van oom Johan was daar geen teken nie.

Ook nie ’n sent van die geld wat oom Marthinus agtergelaat het nie.

Dit was omtrent ’n gesukkel om antie Rina te begrawe.

Hierdie feestyd gaan ek weer nie ophou huil as ek aan antie Rina dink nie.

Ek sou graag wou hê sy moes saam met ons wees.

Die lewe het haar bitter onregverdig behandel.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters