Verlede maand
‘Eindtye dié,’ glo sommige oor die vreemde gebeure
 ~ 

VANDAG begin ons met ’n splinternuwe verhaal deur SALMON SMITH. Hy roep hom “Die Vreemde Klong”. Geniet dit!

EERS klief ’n bliksemstraal uit die hemel en toe weergalm ’n oorverdowende knal deur die rustige Karoodorpie Rustenville.

Hier waar Lena Karbonkel in haar huisie sit, ruk sy soos sy skrik. Toe is alles weer doodstil.

Lena spring van die rusbank af op en mol vir die voorkamer­venster.

Sy trek die gordyn op ’n skrefie oop. Sy loer na die donker grasveld hier rondom haar huis.

Haar huisie staan alleen op ’n kleinhoewe op die rand van die dorp. Die hoewe het destyds aan ’n armsalige Duitser behoort. Sy het die ou man nog ál die jare versorg. Ná sy afsterwe het sy alleen in die huisie agtergebly, met geen kind of kraai nie.

Sy tuur die donkerte in en fynkam elke donker kolletjie.

Niks verraai egter wat die oorsaak van die skielike gedonder was wat haar nou so byna uit haar geloof laat skrik het nie.

Lena wonder wat die geluid veroorsaak het.

Dit het nou so wragtig soos donderweer geklink.

Sy maak haar gordyn toe en maak haar voordeur versigtig oop. Sy loop tot op die stoep en snuif in die lug rond.

Lena kan donderweer van ver af ruik, maar die lug ruik allermins na donderweer.

Daar is eerder ’n skerp swaelreuk wat in die lug hang.

Sy kyk op in die hemelruim. Daar is dan geen wolke in die lug nie.

Sy sien die helder sterre en die Melkweg, wat dwarsoor die hemelruim loop.

Sy loop om die huis en kyk na die woonbuurt wat aan haar kleinhoewe grens.

Sy merk op hoe die meeste huise se ligte een vir een aangaan. Sy sien hoe van die mense hul voordeur oopmaak en na buite loer. Opgewonde gebabbel klink op.

Sy merk op dat haar hond nie soos gewoonlik hier om haar draai nie. Sy kyk op die werf rond.

“Pluto!” roep sy dringend na hom.

Fyn tjankgeluidjies klink op van sy hok se kant af.

Sy loop versigtig na sy hok se kant toe. “Pluto?” fluister sy.

Sy sien die twee blink kolletjies lig van sy oë in die donker hok. Weer die fyn tjankgeluidjies.

Sy steek haar hand uit en troos: “Toe maar, ounooi se honne.”

Maar toe hy dreigend knor, trek sy haar hand liewer terug.

’n Rilling gaan agter haar rug af. Seker die skielike slag. Die donderslag moes met die hond se kop gesmokkel het.

Sy loop na agter en tuur weer na die woonbuurt. In die straatligte daar kan sy sien hoe baie mense nou in die strate vergader.

Sy maak haar hek oop en loop vinnig in die sandpaadjie af. Toe sy nader kom, sien sy hoe die mense in die lug op beduie en opgewonde onder mekaar praat.

“Maar hier is dan nie ’n donderwolk in sig nie! Kyk, daar is die mooi sterrehemel!” hoor sy een antie aan ’n ander sê.

“Oe, Jarre, ek sê nou vir julle, die oordeelsdag is hier!” laat nog een benoud hoor.

“Ag, Hetta, jy moetie weer kom met jou laaste-dae-gedagtes nie!” hap iemand na haar.

“Weet iemand dalk wat nou gebeur het?” vra Lena grootoog.

“Dit lyk my die gode praat met ons, Lena! Dit moet beslis Zeus wees!” grap iemand uit die bondel.

“Of dis Thor wat nou uit die hemel geval het,” laat nog iemand ook laggend van hom hoor.

“Nee, magtag, julle het nog tyd vir jokes. Dis ernstige sake dié!” sit sy die twee vinnig in die skool.

Sy kyk na die ander wat grootoog na haar staar. Sy beduie na die donker, stergevulde lugruim.

“Kyk! Daar is nie eens ’n wolkie nie. Tog was hier ’n donderslag. Met weerlig.

“So, wat beteken dit, mense? Iéts moes dit veroorsaak het! Daar moet ’n logiese verduideliking wees vir dié natuurfrats!”

Lena kyk weer na die starende gesigte hier voor haar. ’n Ouerige man maak skielik keel skoon.

“W-word o-ons nie dalk deur a-aliens besoek nie?” stotter hy onseker.

Almal se koppe swaai in sy rigting. Hy steek sy wysvinger bewerig in die rigting van die bebosde kloof so 5 km buitekant die dorp.

“Ek het toevallig gesien hoe die weerlig die grond tussen daai bosse in Duiwelskloof tref. Dalk is dit die aliens se skip wat daar geval het.”

Almal kyk na die donker kloof se kant – die kloof wat dien as ’n poort tussen Rustenville en die wêreld daar buite.

Voordat iemand die ou man kan antwoord, steek daar skielik ’n ligte windjie op van die kloof se kan af. Eers net ’n ligte briesie, maar dan ál sterker. Die mense begin bangerig rondtrippel.

“Kyk daar!” gil iemand skielik. Hy wys na die bergtoppe aan weerskante van Duiwelskloof.

Hulle sien hoe donker wolke oor die kloof aangerol kom – in die rigting van Rustenville. Almal staar oopmond daarna.

“Dis onweerswolke daardie! Ons beter in ons huise kom!” gil ’n ou antie.

Die mense mol vir hul huise.

Lena draai op haar hakke om en loop haastig na haar kleinhoewe toe.SERS. Wicus Bruwer kom stadig met die kronkelende teerpad tussen die digte bosse in Duiwelskloof aan. Hy kom nou langpad van Graaff-Reinet af waar hy ingeloer het by sy sieklike moeder.

Sy skofbevelvoerder, AO Leon Geswindt, het hom vroeër vanaand, so voor 18:00, aan die begin van hul nagskof, toestemming gegee.

Dis nou voor 23:00 en hy wil gou sy passasier, sers. Parring, optel sodat hulle die plase rondom Rustenville kan patrolleer weens die alewige skaapstelery waarmee die boere nou so hul hande vol het.

Hy hoor hoe die wind skielik opsteek en sien ’n donkerte oor die maanverligte bospad toesak.

Deur die patrollievoertuig se voorruit sien hy hoe die boomtoppe weerskante voor hom uittoring – en daaragter digte wolke wat voor die maan inbeweeg en vinnig aanrol dorp se kant toe. ’n Onheilsgevoel kom oor hom …

Hy haal sy voet liggies van die petrolpedaal af en ry stadiger, want die voertuig se headlights het ook al beter dae geken. Hy kan slegs ’n paar meter voor hom sien in die flou lig.

Dis tóé dat hy die klein seuntjie skielik hier voor hom in die pad sien staan. Sy regtervoet skiet uit na die briekpedaal en die voertuig ruk tot stilstand.

“Wat de …?” uiter hy en spring uit die voertuig. Maar hy stop vierkant in sy spore en staar grootoog na die flou ligkol voor die voertuig. Waar die klong gestaan het, is nou ’n kaal kol. Daar is geen teken van hom nie.

Toe maak die sluise van die hemel oop en reën stort op die aarde neer.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters