Verlede maand
Eindelik sê Rhoda wat haar destyds bitter gemaak het
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders. “Verbitterde Vrou” is CHRISTO­ MEYER se jongste verhaal. Geniet nou die slothoofstuk!

SONDAGMIDDAG breek te gou aan na Marlon se sin. Hy het sy kuiertjie in Renosterville so geniet, hy wens dit was nog nie tyd om reg te maak vir huis toe gaan nie.

Om afskeid te neem van ’n vrou wat in een naweek diep in sy hart ingekruip het, sal moeilik wees.

’n Mens moet haar leer ken om te verstaan waardeur sy is. Die lewe het haar ’n dwarsklap gegee.

Marlon hoop om gou weer te kom kuier. Hy sal hom nooit die lewe in tannie Rhoda se skoene kan voorstel nie, maar hy verstaan alles beter.

Hy’t ook heelwat antwoorde gekry op die vrae wat hy gehad het toe hy hier aangekom het.

Hy is spyt hy het nie lankal daarop aangedring om hierheen te kom nie. Renosterville is pragtig. As dit van hom afgehang het, sou hy langer gebly nie. Maar nou ja, daar is altyd ’n volgende keer.

Gister se uitstappie sal hy altyd onthou. Tannie Rhoda het hom die hospitaal gaan wys waar hy gebore is, sowel as sy ouers se ou laer- en hoërskool.

Toe neem tannie Rhoda hom na ’n rugbyveld, waar sy lank doodstil in die motor gesit en net voor haar uitgestaar het.

Wat daarna gebeur het, het hom so aan die hart gegryp, hy kon ’n knop in sy keel voel.

Tannie Rhoda het meteens hardop begin huil. Haar hele lyf het geruk. Hy het net daar gesit, verstom. Hy het nie geweet wat om te doen nie. Wat het ewe skielik in haar ingevaar? het hy gewonder. Wat het haar so ontstel dat sy in trane uitgebars het?

Tannie Rhoda se tranedal het ná ongeveer ’n halfuur eers bedaar. Sy’t in haar handsak gevroetel en tissues uitgehaal.

Natuurlik het Marlon gebrand van nuuskierigheid, maar hy was ook simpatiek genoeg om nie op daardie oomblik te vra wat fout is nie.

Hy het gereken tannie Rhoda sou hom uit haar eie vertel.

En sy het, maar nie voordat hulle ’n draai in die begraafplaas gaan maak het nie. Toe sy klaar haar trane afgevee het, het sy net genoem sy wil hom iets gaan wys.

Op pad soontoe het sy haar hart begin uitpraat: “Dit wat jy nou net langs die rugbyveld aanskou het, is die trane van ’n verbitterde vrou. ’n Vrou wat sukkel om die verlede agter haar te skuif en vorentoe te kyk. ’n Vrou wat vasklou aan iets wat al lank nie meer bestaan nie.”

Sy het by ’n grondpad ingedraai, onder ’n boom stilgehou, haar sitplekgordel losgemaak en saggies gesê: “Jy is welkom om saam te kom.”

Hy’t haar gevolg tot by ’n graf doer anderkant. Toe gryp tannie Rhoda sy hand styf vas. “Hier lê Michael Meintjies, die man van my drome. Die man wat ek met my hele hart liefgehad het. Hy is al 25 jaar nie meer met ons nie. Dis so verskriklik seer.”

Marlon kon die bewing in haar stem hoor. “Wat het gebeur?”

Die vraag was uit voordat hy dit kon keer. Hy kon dit nie terugtrek nie, al wou hy ook.

“Dit was ’n Woensdagaand. Ons dorp sou ’n opwarmingswedstryd teen die Paddas van Paddalaagte speel. Dit was deel van die Renosters se voorbereiding vir die eindstryd teen die Krokodille die week daarna. Ek was rugbymal. Alles wat ek van rugby geweet het, het Michael my geleer. Geen ander sportsoort kom naby rugby nie.

“Michael was die eerste span se losskakel en onderkaptein. ’n Briljante speler.”

Marlon het besluit om te luister en haar nie te onderbreek nie. Haar hand het sweterig geraak.

“Die game teen die Paddas sou 19:30 begin, maar 10 minute voor die afskop was daar nog geen teken van Michael nie. Coach Allister het bekommerd geraak en by my kom hoor of ek weet waar Michael is. Ek was self uit die veld geslaan, want Michael was nooit laat niw, nie eens vir ’n oefening nie.

“Lang storie kort, Michael het nie sy verskyning gemaak nie. Die ou wat in sy plek gespeel het, het nie die mas opgekom nie. Die Renosters het met 7-35 verloor.”

Tannie Rhoda het Marlon se hand gelos en verder vertel.

“Daardie selfde aand nog is ’n soektog na Michael begin. Ek het byna van my kop af geraak toe ’n polisieman my die volgende oggend kom inlig Michael het homself opgehang.

“Ek kon dit nie glo nie. Michael was te vol lewe om selfmoord te pleeg. Hy het nie aan depressie gely nie. Ek sou geweet het; ek was sy verloofde.

“Die vreemdste van alles is dat Michael se dood steeds ’n raaisel is. Ek soek steeds antwoorde. Hy het geen briefie agtergelaat nie.”

Marlon kon nie langer stilbly nie. “Het Tannie al ooit daaraan gedink dat dit dalk nie selfmoord was nie? Dat iemand dalk uit jaloesie omdat hy so ’n goeie rugbyspeler was opsetlik van hom ontslae geraak het?”

“Ek glo tot vandag toe dis wat eintlik gebeur het. Ek het dit vir die polisie genoem, maar hulle het gesê ek het geen bewyse nie.”

Tannie Rhoda het weggedraai van die graf af en opgekyk.

“Daar is nog iets,” het sy gesê. “Kort ná die begrafnis het ek uitgevind ek is swanger met sy kind. Ek was geskok, kwaad, verward en teleurgesteld. Toe doen ek iets waarvoor ek myself tot vandag nie kan vergewe nie.”

Wat kan só erg wees? het Marlon gewonder.

Asof tannie Rhoda sy gedagtes kon lees, het sy geantwoord: “Dit is iets wat ek nog vir niemand vertel het nie. Jy moet belowe dit gaan ’n geheim bly.”

“Ek belowe, Tannie.”

“In daai stadium het ek nie kans gesien om ’n kind alleen groot te maak nie. Ek was te seer van binne.

“Toe kies ek die maklike uitweg en gaan vir ’n aborsie.

“Eers agterna het ek besef dit was my domste besluit ooit. My gewete het my begin pla. Ek het nooit weer my hart op ’n man verloor nie, want my hart het net aan een man behoort. Ek sou geen man ooit so kon liefhê soos vir Michael Meintjies nie. Kan jy my kwalik neem dat ek verbitterd is?”

TOE die taxi buite stilhou, gee tannie Rhoda Marlon ’n stywe drukkie.

“Kom kuier gou weer,” sê sy met trane in haar oë. “Jy het dié naweek iets reggekry wat jare laas gebeur het en dit is om ’n glimlag op my gesig te sit.”

“Ek sal nie te lank wegbly nie, Tannie. Ek belowe. Volgende keer bring ek my ouers saam.”

Marlon verlaat Renosterville met ’n swaar hart. Hy het meer as genoeg inligting vir sy essay.

’n Ent van tannie Rhoda se huis af kyk hy verlangend terug. Dit maak nie saak hoeveel water in die see loop nie, hy weet hy sal haar geheim nooit verklap nie.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters