18 dae gelede
Driena-hulle het hul hande vol met Wimpie
 ~ 

Hallo, Sonlanders!

Hierdie week skop ons af met CHRISTO MEYER se splinternuwe verhaal, “Wimpie van die Onderdorp”. Geniet nou die tweede hoofstuk!

ELKE keer as Driena ná Wimpie se oomblikke van drama einde ten laaste aan die slaap geraak het, het sy verskriklike nagmerries gekry.

Daar was byna elke keer ’n onbekende man wat haar jaag. Sy kon net die lang, blink lem van ’n mes in sy hand sien. Hy’t die vreeslikste gromgeluide agter haar gemaak, soos ’n wilde dier.

By tye was hy so naby haar dat sy sweetreuk Driena se neus gebrand het. In dié nagmerries was Driena angsbevange. Gelukkig kon sy elke keer daarin slaag om van die man met die mes af weg te hardloop sonder dat hy ’n vinger op haar kon lê.

Soms het Driena natgesweet wakker geskrik en haar verbeel sy hoor ’n kinderstemmetjie fluister: “Ek wil buite speel, Mammie, ek wil buite speel.”

Dan het Driena gevoel hoe haar nekhare rys terwyl ’n ysige rilling teen haar rug afbeweeg. Half bang en onseker het sy om haar in die donker kamer gekyk asof sy verwag het om iemand daar te gewaar, met haar hart wat wild en onstuimig hamer.

Wat beteken die nagmerries? het sy baie dae gewonder.

Was dit dalk ’n voorbode oor die onbekende toekoms of dalk die een of ander waarskuwing?

Sy het gebrand om te weet.

Driena het nooit vir Neels van haar nagmerries vertel nie. Sy het geweet hy sou dink sy is van lotjie getik. Hy was reeds omgekrap omdat Driena se ouers hom gedwing het om met haar te trou.

“Jy moenie dink ons gaan toelaat dat ons kleinkind sonder ’n pa grootword nie, Neels.

“Hier is te veel jong mammies hier buite wat die rol van albei ouers moet vervul.

“Die pa’s gaan koop Easter eggs en kry kamstig nooit weer die pad terug huis toe nie. Jy sal die regte ding moet doen en met onse Driena trou voordat die baba gebore word. Verstaan ons mekaar?”

Vir ’n oomblik was Neels se asem weg, sy keel so droog soos iemand in die woestyn wat dae laas water oor sy lippe gehad het.

Van iewers het ’n koue wind teen sy gesig gewaai. In die stoel oorkant hom het tannie Nella se oë hom deurboor met ’n kyk wat geskree het: Jy sal maak soos ek sê as jy weet wat goed is vir jou. Uit daardie situasie kon hy hom nie los praat nie.

Driena se ouers was godsdienstige mense wat geen verdere skandes oor hul huis wou hê nie. Hulle was reeds bitter teleurgesteld in Driena omdat sy nie die versoeking om oor die tou te trap, kon weerstaan nie.

Sy het immers die verskil tussen reg en verkeerd geken. Wat het haar besiel? Hoe kon sy die duiwel toelaat om haar so te verlei?

Driena se ouers was streng en sou nie toelaat dat sy haar kind alleen grootmaak nie.

Die troue is in ’n japtrap beplan. Neels het nie veel sê gehad nie. Hy moes doen wat van hom verwag word om die vrede te bewaar.

Tannie Nella het gedreig om hom met ’n sambok by te kom as hy dit sou waag om kleinkoppie te trek. Neels was seker die ongelukkigste bruidegom ooit. Die glimlag op sy gesig was aangeplak, terwyl Driena gestraal het van blydskap.

Op hul huweliksnag begin Neels sy true colours wys. Hy is so besope dat hy skaars op sy voete kon staan. Hy praat sleeptong, maar Driena verstaan elke woord.

Hy beskuldig Driena dat sy hom met ’n slap riem gevang het. Sy skaam haar vir sy gevloek en gaan liewer bed toe. Die volgende dag onthou hy geriefshalwe niks nie.

“As ek wel iets kwytgeraak het wat ek nie moes nie, moet jy dit nie ernstig opneem nie. Dalk is dit net die drank wat gepraat het. Dit sal nie weer gebeur nie.”

Tog het dit weer en weer gebeur.

Op die presiese datum wat dr. Koen voorspel het, het Wimpie sy opwagting gemaak. Van die verpleegsters wat handjie bygesit het, beskryf steeds vir Wimpie as die soetste baba ooit. Anders as ander pasgeborenes wat ’n hengse bek opsit, was Wimpie stiller as ’n muis. Hy’t net daar gelê, die rustigheid self. Hy was so soet dat sy ma bekommerd geraak het.

Toe vra sy: “Lewe my kind? Hoekom is hy so stil?”

’n Dokter het haar verseker sy hoef nie te worry nie. Wimpie het sy eerste geluid geuiter toe Driena hom wou borsvoed. Dit het geblyk hy hou niks van moedersmelk nie.

WIMPIE se ouers het hul hande sedert sy eerste skooljaar vol gehad met hom. Hy was hardhorend, ongehoorsaam en eiewys. Die pak slae wat sy pa hom byna elke aand gegee het, het nie veel gehelp nie. Dit het van Wimpie ’n taai derduiwel gemaak.

Sy ma het baie gesê: “Ek wonder of ek nie ’n verkeerde kind in die hospitaal gevat het nie. Waar kom Wimpie aan al sy lelike maniere? Ons probeer dan so hard om hom die verskil tussen reg en verkeerd te laat sien.”

Wimpie se pa was ’n man met ’n kort humeur. Waar die ma nog mooi sou praat, het hy gou-gou sy belt afgehaal om vir Wimpie ’n loesing te gee.

“Jy hou jou groot,” moes hy dikwels hoor. “As jy nie hoor nie, moet jy voel.”

By Onderdorp Primêr het Wimpie die onderwysers hoofbrekens besorg. Hy het klasse ontwrig asof dit ’n normale ding was om te doen. Hy was ook afknouerig.

Geen ander leerder het al ooit so baie vir die prinsipaal gaan kuier soos Wimpie Braaihoudt nie. Hy het ten minste drie keer per week in die kantoor gaan draai.

Toe die hoof hom op ’n dag vra wat hy eendag wil word, antwoord Wimpie selfversekerd: “Ek wil eendag ’n actor word. Ek wil op die TV speel.”

Deur ál sy manewales het Wimpie nooit sy skoolwerk afgeskeep nie. Hy het elke jaar geslaag, al was dit soms net-net.

Niemand was blyer as mnr. Rottas toe Wimpie se laaste dae op laerskool aanbreek nie.

“Ek mag dit seker nie sê nie, maar ek is verlig ek hoef nie nog ’n jaar met Wimpie opgeskeep te sit nie. As hy nie sy maniere vinnig verander nie, voorspel ek ’n donker toekoms vir hom.”

Min het mnr. Rottas geweet hy slaan die spyker op die kop. Op hoërskool was Wimpie vyf keer erger as op laerskool. Met sy vieslike maniere het hy almal teen hom gedraai. Niemand wou met hom bevriend wees nie. Hy was gedurig aggressief en bakleierig.

Niemand was bewus van die omstandighede tuis nie. Sy pa het sy ma gereeld aangerand en daar was niks wat hy kon doen om haar te help nie. Sy magteloosheid het Wimpie soos ’n mislukking laat voel, maar hy het ’n belofte aan homself gemaak: Nes sy pa, wil hy ook eendag in beheer van situasies wees.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters