20 dae gelede
Driena besef sy moes eerder vir Neels laat wag het
 ~ 

Hallo, Sonlanders!

Hierdie week skop ons af met CHRISTO MEYER se splinternuwe verhaal, “Wimpie van die Onderdorp”. Geniet nou die eerste hoofstuk!

WIMPIE Braaihoudt was maande voor sy geboorte al ’n woelige kalant.

Soos ’n gefrustreerde gevangene agter slot en grendel het hy sy ma erge hoofpyne gegee en haar so verrinneweer dat die arme vrou vroeg in haar swangerskap begin wonder het of dit ’n mens of ’n gedierte is wat sy in haar dra.

Al was sy nog bloedjonk en nie heeltemal gereed vir die verantwoordelikheid van moederskap nie, het Driena geweet dis nie normaal vir ’n ongebore baba om van sy ma se binneste ’n sokkerbal te maak nie.

Sy was amper oortuig nie een van haar sokkerhelde soos Wayne Rooney of Thierry Henry het op so ’n vroeë ouderdom hul skopstewels aangetrek en so met hul ma’s tekere gegaan nie.

Veral saans, wanneer Driena gehoop het sy kan rus ná ’n lang dag op haar voete in die klere­fabriek, het Wimpie haar aanhoudend geskop en getrap. Baie keer het dit gevoel sy gaan van die bed af val en op die grond beland.

Vir Driena het dit gelyk asof die mannetjie ontsteld was oor iets en sy woedebuie op haar uitgehaal het.

Die kind se pa, Neels, het vas geslaap en kliphard gesnork, onbewus van wat om hom aangaan.

Baie aande het die trane oor Driena se wange gerol. Dan was sy spyt sy het toegelaat dat Neels haar een middag in Februarie omgepraat het om hul verhouding na die volgende level te neem.

Die regte ding sou gewees het om hom te laat wag. Daar was geen komplikasies toe hulle net gesoen en handjies vasgehou het nie, en sy het geglo die volgende stap in hul verhouding sal heelwat later en op die regte oomblik gebeur. Elke ding het mos sy tyd.

Toe kom Neels met die idee dat hy nie net wil sê hy het haar lief nie, maar dit graag op ’n spesiale manier aan haar wil bewys. En naïef soos Driena was, trap sy sowaar in Neels se strik. Natuurlik het sy eers hewig teen die karre geskop, want haar begeerte was altyd om rein te bly tot ten minste ná haar 21ste verjaarsdag.

Neels wou niks verstaan nie. Hy het so met Driena se kop gesmokkel en dik gehou dat sy later maar ingegee het.

Neels was ’n aantreklike kêrel wat enige meisie op die Onderdorp se knieë kon lam maak en sy wou nie op so ’n jong ouderdom met ’n gebroke hart sit nie. Almal doen dit tog, het sy haarself getroos.

Seks met die een wat sy liefhet kan mos nie verkeerd wees nie. Neels het haar oortuig dat hy net so lief is vir haar soos sy vir hom. As Driena maar net geweet het waarvoor sy haar inlaat.

Ongelukkig is die lewe so dat jy soms eers jou kop moet stamp en op die harde manier leer. Maanskyn en rose bestaan mos net in flieks en boeke, nie in die werklikheid nie en spyt kom altyd te laat.

“Jy moet ver­sigtig wees,” het Driena vir Neels daardie eerste keer gewaarsku. “Ek is nie op enige voorbehoed nie.”

“Jy hoef nie te worry nie,” het Neels haar gerusstel, sy stem druppend van wellus. Driena het geglo hy het alles onder beheer.

Alles het verander toe Driena begin naar word en opgooi. Aanvanklik het sy haar nie veel daaraan gesteur nie. Seker maar die simptome van die nuwe griep in die lug, het sy gereken. Min het sy geweet die deeg wat Neels geknie het, was stadig besig om te rys. Driena se ma was nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Sy het gou agtergekom iets is verkeerd.

Sy wou egter nie vir Driena konfronteer voordat sy seker was van haar feite nie.

Toe die rietskraal Driena skielik gewig aansit, het tannie Nella nie gras onder haar voete laat groei nie. Al wou sy nie glo wat haar hart haar vertel het nie, het sy Driena kliniek toe gevat vir ’n swangerskaptoets. Dit het nie saak gemaak wat die dorp se skinderbekke daaroor te sê sou hê nie.

Sy wou net gaan uitvind of daar wel ’n slang in die gras was. Tannie Nella se vermoede is bevestig: Driena was met die lyf.

Moeder en dogter was albei geskok. Al waaraan Driena kon dink, was die pad vorentoe. Tannie Nella wou raas en skel, maar sy het besef dit gaan niks aan die saak verander nie. Die koeël is deur die kerk.

“Jy sal vir Neels moet laat kom sodat ons om ’n tafel kan sit en gesels,” het tannie Nella voorgestel toe hulle by die huis kom. “Daar sal belangrike besluite geneem moet word. ’n Baba is ’n groot verantwoordelikheid.”

Driena het nie ’n woord geuiter nie. Net kop omlaag gesit en voor haar uitgestaar. Haar ma was reg. Daar sou belangrike besluite geneem moes word.

Toe Driena vir Neels sê sy is swanger, val hy byna op sy rug. Sy oë rek soos dié van iemand wat pas ’n tokkelos gesien het.

“Hoe is dit moontlik, Driena? Hoe kan jy swanger wees?”

“Vir jou simpel hou nie, man. Jy weet mos wat jy gedoen het.”

“Jy moet ontslae raak van die probleem. Dis die enigste oplossing.”

“Bedoel jy ek moet vir ’n aborsie gaan?” het sy geskok gevra.

“Dis die enigste oplossing, Driena. Ek is nie reg om pa te word nie.”

“Maar jy was reg om jou piesang in te druk,” het sy haar vererg.

“Jammer, meneertjie, ek het nuus vir jou. Aborsie is moord in my oë en ek gaan nie ’n onskuldige lewe beëindig nie. Ek het ’n gewete. Jy sal net moet man staan en klaar.”

Neels het nie geweet watter kant toe nie. Dit was duidelik dat Driena se mind klaar opgemaak is. Sy wou die baba hou en niks wat hy sê, sou haar daarvan laat afsien nie.

“Wat ’n gemors! Nou is my hele toekoms in sy moer,” het hy gegil.

“Dis nog niks. My ma wil jou dringend sien ...”

“Is dit regtig nodig? Ek en jy kan mos die ding tussen ons uitsort. Ons is mos darem albei amper mondig. Jou ma gaan op my kop preek en daarvoor het ek nie lus nie.”

“Jinne, Neels, moet jy so ’n bangbroek wees? My ma sal jou nie byt nie, sy wil net praat.”

“Maar ek het niks vir haar te sê nie. Dis mos tussen jou en my.”

“Sorry, so gaan jy nogal nie my ma disrespect nie. Ek het vir jou gesê ek is nie op voorbehoed nie, toe sak jy af ek moenie worry nie.”

Soos ’n ou oom het Neels gesug.

“Nou maar goed, laat ek gaan hoor wat jou ouers op die hart het. Hoe gouer ek dit agter die rug kry, hoe beter.”

Op pad na Driena se ouerhuis het die besef Neels getref dat niks ooit weer dieselfde sou wees nie. En wie se skuld was dit? Niemand s’n behalwe sy eie nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters