28 dae gelede
Dominee try by Harriette ingryp, maar sy is steeks
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders. Die een ná die ander tragedie ry Harriette en Awie. Nie net raak Awêh baie siek nie, maar terwyl die seun by die hospitaal behandel word, word Harriette se ouers ook daar ingestoot. ’n Ontwortelde ou boom het die twee bejaardes getref en hulle sterf weens die erge aard van hul beserings. Hierdie is ’n groot knak vir Harriette, wat diep in die bottel begin kyk en Awie laat wonder of dit nog worth dit is om met haar getroud te bly. Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON se “Awêh”.

AWIE se geduld met Harri­ette was op.

Hy was moeg van praat, want hoor was die minste.

Harriette het al hoe meer in ’n groef verval waaruit sy nie wou kom nie. Hul werfhoender het nog nie eens soggens gekraai nie, dan was sy al dronk.

As Awie smiddae uit die werk gekom het, het sy gelê en tiep, met die hele Wendy nog net so deur­mekaar soos die vorige dag.

Van die AA wou Harriette nie hoor nie. As sy so gedop was, het sy hoog en laag gesweer sy het nie ’n “a” nie. Awêh is natuurlik ook negatief beïnvloed. Hy het meer teruggetrokke geraak, meer op sy eie met sy karretjie-trokkies gespeel.

Sy skoolwerk het ook agteruitgegaan en waar Awêh altyd sy skool se enigste A-kandidaat in al sy vakke was, het hy nou aangekap op dieselfde intelligensievlak as ’n voormalige staatspresident: bitter naby aan vriespunt.

Al hierdie dinge het op Awie gewerk. Hy het nie meer geweet hoe om te cope met sy dronklap-vrou of hul leë koskaste nie.

Elke bietjie geld wat hy verdien het, het Harriette in die plaaslike bottelstoor belê. Omtrent daagliks moes hy sy trots in sy sak steek en by sy ouers kos gaan bedel.

Awie kon snags nie meer slaap nie. Harriette se snorkery het hom wakker gehou. Dit het vir hom gevoel asof hy in ’n blikkantien van ’n huwelik is.

Een nag het hy opgestaan, na sy oorle’ ouers se leë huis gegaan en homself aan een van die dakbalke daar opgehang. ’n Maklike besluit was dit nie. Hy het immers lank hieroor gewroeg, maar geen ander uitkomkans gesien nie.

Eers twee dae later is sy lyk gekry en ook net omdat Awêh begin rondsoek het na sy derra.

Kêrrimstraat se inwoners was in rep en roer. Almal was dit eens: Dit was Harriette se gesuip wat Awie laat knak het.

Vir die eerste keer het Kêrrimstraat se inwoners besef ubuntu is ook op hulle van toepassing.

Hulle het ’n straat-meeting gecall met Dominee Salwing. Ou Piet Furdriet kon nie sing nie, maar hy was voor in die koor van diegene wat geëis het dat Awêh uit Harriette se sorg verwyder moes word.

Dominee Salwing het die gemoedere probeer paai, versoek dat die bloed van Jesus eers Harriette se omstandighede moes inspekteer, maar die inwoners wou niks weet nie.

“As Jesus wyn van water gemaak het, moet Hy sorg dat Harriette van nou af net water inkry,” het oom Piet Furdriet geredeneer.

Inwoners het luidkeels sy sentiment beaam. Dominee Salwing kon net sy hande in die lug gooi en het besef dit maak nie saak teen wie se kar hy nou skop nie, huisbesoek sou hy by Harriette moes doen.

Harriette het in die worship team altyd almal gewow met haar sangtalent, maar toe dominee Salwing aan haar Wendy se deur klop, het sy ’n ander deuntjie gesing.

“Wat soek jy?” het sy kil gevra en uitdagend na die godsman gestaar. Haar swirlkous het skeef op haar kop gesit met haar hare wat in verbouereerde slierte daaronder uitpeul.

Awêh, diep skaam vir sy mammie se gedrag, het dominee Salwing gemompel-groet en toe na buite gevlug. Dominee Salwing was geskok om te sien hoe brandmaer die jong seun geword het.

“Ons het jou lanklaas in die kerk gesien,” het dominee Salwing weer lomp probeer om ’n geselsie aan te knoop.

Hy het pynlik ongemaklik rondgetrippel, te bang om te gaan sit, want oral om hom was daar wanorde van die eerste waters.

“Jy skink veels te min Nagmaalwyn,” het Harriette bot geantwoord. “Ek voel meer welkom in Tops.”

Dominee Salwing het besef daar is nie ’n ander nommer nie: Hy moes die bul by die horings pak.

“ ’n Kind is ’n gawe van God en moet na omgesien word.

“Dit is immers ons eie Here wat gesê het: ‘Laat die kindertjies na My toe kom en–’ ”

“En klink dit nie vir jou soos die werk van ’n perv nie?” het Harriette hom onbeskof in die rede geval.

Dominee Salwing het amper aan sy skok verstik. Hy kon nie glo wat hy hoor nie. Harriette, die dogtertjie wat altyd in die Sondagskoolklas elke Bybelverhaal so opgeslurp het? Harriette, sy model katkisasie-kandidaat wat nou die Woord so in sy gesig terugspoeg?

“Laat ons nie doekies omdraai nie,” het Harriette kil voortgegaan.

“Jy is nie hier uit plig nie, jy is hier oor Kêrrimstraat se mense op jou kop gekerm het.

“Jy is nie hier oor jy omgee nie, jy is hier oor hierdie huishouding se tiendes opgedroog het.

“Jy het mos lanklaas ’n nuwe kar gery, so, wat soek jy hier? Petrolgeld? Het die Here wat my man en ouers van my gesteel het, jou gestuur sodat ek my ma se huis moet verkoop en jou met daai geld moet bless?”

Dominee Salwing het net daar in die middel van die Wendy spierwit gestaan van die skok. Hy het nie geweet hoe om op Harriette se beledigings te reageer nie. Sy woorde het ontbreek. Sy woordeskat was so stukkend soos hierdie gebroke vrou voor hom.

Ongemerk het Awêh weer die Wendy binnegekom en langs dominee Salwing kom staan.

“Niemand het iets van Ma gesteel nie, Ma. Ma is kliphard besig om jouself te rob.”

Harriette se gesig het lelik vertrek. “Hoe ... hoe durf jy so met my praat, ha?” het sy half uitasem gehyg.

“Wie was die een wat jou gat met moeite grootgemaak het? Wie was die een wat na jou gekyk het toe jy so doodsiek was? As jy nie daai aand so siek geraak het nie ...”

“Dan was Ouma en Oupa nog hier?” vra Awêh. “Dan was Derra nog hier?”

“You said it,” het Harriette uitdagend geantwoord. “Die lewe sou ’n beter plek gewees het as–”

“As ek nie hier was nie, nè?” het Awêh haar in die rede geval.

“Dan kon jy sonder sorge okkapyp rook en maande vat om ’n two to three year old puzzle te voltooi.”

“Hallo, ten minste het dit my en jou pa nie die volle drie jaar gevat om daai puzzle te voltooi nie,” het Harriette teruggekap.

Dominee Salwing het sy hande in die lug gegooi.

“Mense, mense, verwyte is nie die antwoord nie. Dit gaan ons niks in die sak bring nie.

“Soos ek dinge sien, is daar net een oplossing. Net één.”

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters